Geen ondersoek na OB se bevoegdheid gedoen

busisiwe-mkhwebane

Busi Mkhwebane tydens ‘n perskonferensie in Pretoria (2 Februarie 2017) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

ʼn Beoogde ondersoek na die geskiktheid van adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), vir haar pos, sal nie meer gedoen word nie.

Dit kom nadat die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste vroeër besluit het die komitee is die gepaste liggaam om ʼn ondersoek van stapel te stuur na Mkhwebane se bevoegdheid om haar pos te beklee.

Die komitee het egter Woensdag beslis dat daar geen gronde is waarop ʼn ondersoek na Mkhwebane van stapel gestuur kan word nie. Daar is ook besluit dat ʼn versoek om ʼn ondersoek na adv. Kevin Malunga, Mkhwebane se adjunk, te doen, is ongegrond.

Nonceba Mhlauli, woordvoerder van die ANC-koukus, het namens die party die portefeuljekomitee se besluit verwelkom. “Die ANC se beginselgedrewe ondersteuning van adv. Mkhwebane en adv. Malunga is gebaseer op hul voortgesette toewyding om die massas van Suid-Afrika sonder vrees of vooroordeel te dien,” het Mhlauli gesê.

Sy het gesê die komitee het ʼn brief van die OB se kantoor ontvang waarin aangedui word dat ʼn ondersoek wat na bewering onregmatiglik deur Malunga gesluit is egter steeds aan die gang is. “Dit demonstreer net tot watter desperate uiterstes die DA sal gaan in hul heksejag teen die OB se kantoor.”

Sy het gesê die ANC loof die portefeuljekomitee wat “hierdie openbare toertjie van die DA verwerp het”, wat volgens die ANC net ʼn poging was om die integriteit van die OB skade te berokken.

“Ons wil ook misleidende mediaberigte dat die komitee vroeër besluit het om ʼn ondersoek na die OB se bevoegdheid van stapel te stuur, regstel. By ʼn vorige komiteevergadering is daar gestem of die komitee die korrekte forum is om ʼn versoek vir so ’n ondersoek te hanteer. Die stemproses was bloot oor wie die versoek moet hanteer. Die komitee het toe nog nie besluit oor die meriete van die bewerings in die klagte van die DA nie,” het Mhlauli gesê.

“Dit is eers nadat die meriete van die bewerings [Woensdag] oorweeg is, dat die komitee besluit het daar is geen gronde vir die DA se versoek aan die parlement om stappe te doen om die OB van haar amp te onthef nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johan ·

En so kan enige een n grootpos kry as hulle vriende is mety Zumpie

Alida ·

Sy sal NOOIT Thuli se plek kan vul nie. Thuli het integriteit gehad.

MM ·

Is daar iemand in die anc wat so n ondersoek kan doen – want lyk my almal daar word aangestel as zumpie se vriende en nie vir bevoegdheid nie -so ja dis beter as dit nie gedoen word nie – ons geld word dan nie gemors nie -en daar sal wel later iets opduik en dan kan daar ondersoek gedoen word deur n ander Party wat wel bevoegde mense het wat die ondersoek kan lui.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.