‘Geen ongerymdhede by opgraderings van De Lille se huis’

Patricia de Lille (Augustus 2016) (Foto: ANA)

Sekuriteitsopgraderings by die huis van Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, is bo verdenking kragtens die bepalings van nasionale wetgewing, het speaker van die raad Dirk Smit, gesê.

Smit het gesê hy sal graag die feite wil stel in reaksie op berigte van beweerde onreëlmatige opgraderings by De Lille se huis waar “gesiglose, anonieme bronne in die direktoraat van veiligheid en sekuriteit se interne ondersoek-eenheid” aangehaal word.

“Die werk wat by die burgemeester se huis gedoen is, hou verband met veiligheidstoerusting wat geïnstalleer is deur die stad, volgens die voorgeskrewe bepalings wat deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake aangekondig is,” het Smit gesê. “Die werk by die burgemeester se huis is gedoen kragtens ʼn risiko-assessering en ondersoek oor die veiligheid van die burgemeester deur ʼn spesiale eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.”

ʼn Risiko-analiseverslag is opgestel ná die ondersoek deur die polisie-eenheid, met bevindings en riglyne van veiligheidswerk wat by die burgemeester gedoen moet word.

“Die behoorlike prosesse is gevolg om die vereiste veiligheidstoerusting te bekom. Die riglyne in die verslag is noukeurig gevolg om die veiligheidstoerusting by die burgemeester se huis te installeer. Die besonderhede van die toerusting kan nie bekend gemaak word nie, omdat dié maatreëls ingestel is om die burgemeester se veiligheid te verseker.”

Smit het gesê dit is ook belangrik om te noem dat die veiligheidsopgraderings deur ʼn verskaffer gedoen is wat deur die stad aangestel is binne die verskaffingsbestuursproses wat met veiligheidstoerusting verband hou, en nie konstruksiewerk nie. “Die burgemeester het self betaal vir konstruksiewerk wat by die huis gedoen is.”

De Lille het in ʼn verklaring gesê sy het vanoggend met haar prokureurs gesels oor “kwaadwillige en lasterlike opmerkings” deur burgemeesterskomiteelid JP Smith en sommige lede van die interne ondersoekeenheid van die stad se veiligheid- en sekuriteitsdirektoraat.

Sy het gesê sy is bereid om bewyse te verskaf van betalings wat sy self gedoen het.

“Ons weet dat misdaadbestryding die verantwoordelikheid van die polisie is. JP Smith wil nou cowboys and crooks speel deur allerhande verklarings vry te stel dat die metropolisie verantwoordelik is daarvoor om misdaad te bekamp,” het De Lille gesê. “Die metropolisie se plig, kragtens wetgewing, is om munisipale wette en regulasies, verkeerswette en misdaadvoorkoming toe te pas.”

De Lille het bygevoeg sy het ook met die DA se partyleierskap vergader om hulle daaraan te herinner dat daar ʼn skeiding is tussen party en staat en dat hierdie ʼn bedryfsaak is. “Ek het my misnoeë betuig met die partyleierskap, Mmusi Maimane en James Selfe oor hoe JP Smith my naam deur die modder sleep ter wille van sensasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Niekie ·

As n SEKERE IEMAND ongerymdhede met die opgradering van sy huis het is dit nie te sê almal is skuldig nie …..ek sê maar net

MM ·

Dit lyk so al vir my of die ANC alles wat die DA doen na-aap – regtig ANC kan julle nie julle eie dinge uitvind en ondersoek nie – julle kyk net waar julle die DA kan aankla – julle is alreeds in so n gemors plaas julle, julle focus plaas om julle PArty te red – as daar enige waarheid in die storie is – bring dit uit of regtig ” get a Life ” Los die DA uit of bring bewyse – julle mors net ons geld al hoe meer.

John ·

Smit teen Smith…. Ons moet maar almal mooi loop… van Vuvani tot by Kaap Punt… Selfs baie seewater naby kan nie alle vure blus nie en dit word net drinkbaar teen groot koste en met baie moeite…

E. ·

Wat is die verskil tussen ” misdaad te bekamp” en misdaadvoorkoming, me. De Lille?

Karma ·

Ai tog, party mense verraai ook maar lekker hul IK’s as hulle dom vrae vra soos E. hierbo.

MisdaadBEKAMPING, my liewe E., gebeur waar daar reeds sodanige misdaad plaasgevind het en ‘n goeie kans bestaan dat dieselfde misdaad aanhoudend gepleeg sal word of dat ander misdaad voort kan spruit uit hierdie spesifieke misdaad.

Misdaad VOORKOMING, my liewe E., is waar sigbare polisiëring bv. voorkom en misdaad deur voorkomende maatreëls voorkom word, bv, deur inligtingsessies by skole te hou, “clamp-downs” uit te voer ens.

Anneline L ·

My vraag is net … as haar termyn verby is as burgemeester (5 jaar) word die veiligheids toerusting dan weer verwyder vir die nuwe burgemeester?? Met ander woorde weereens betaal die belastingbetaler dubbel..

Jacques venter ·

Hallo Patricia

U doen wonderlike werk in Kaapstad met geweldig baie uitdagings.

Moenie jou steur aan klein mannetjies met groot koppe nie.

Kaapstad kon nie vir n beter burgemeester gevra het nie

SARIE VAN HEERDEN ·

Opgraderings word by De Lille se woning gedoen en al die vergrootglase word op die bedrywighede gehou. Zuma laat aanbouiings doen, bou ‘n “splash pool”, die vader weet wat nog vir hom en sy spul vroue en ons sukkel dat hy die ongeoorloofde onkostes moet terugbetaal. Kyk na die geskiedenis van De Lille. ‘n Vrou wat haar werk doen en haar stad floreer tenspyte van talle krimminele wat daar gehuisves word. Wees regverdig!

Alida ·

Los die DA en De Lille uit. Kyk of Zuma al sy geld terugbetaal het. Hy het miljoene spandeer aan nonsense.

Ferdi ·

Zuma is Zuma en Patricia is Patricia. Die burgemeester en twee amptenare was reeds onder verdenking vir wanoptrede elders. Boonop is sy omring van voormalige OD-raadslede. Hulle het die Kaap gekaap. JP Smith is al een wat sy werk doen en daarom is hy in die pad. Sy probeer hom lankal striem. Tyd dat mense se oë oopgaan. Die dinge hier het niks met ANC te doen soos wat iemand beweer het nie. Hier gaan dit oor diktator wat geen teenstand duld nie. JP Smith is nie hansie-my-kneg soos wat deur eeue heen in die Kaap vereis word nie. Jy moet uiters onderdanig wees, geen eie opinie hê nie en veral ook nie ambisie hê nie. Dit is hoekom Kaapstad ver onder sy potensiaal presteer. Waar daar ‘n rokie is……

Karma ·

@Ferdi, wat ek sien is ‘n provinsie wat WERK onder “verdagte optrede” en al. Ons paaie is in ‘n redelike toestand, dienste word gelewer, daar word huise en skole gebou, mense kry maatskaplike ondersteuning, hospitale funksioneer redelik goed. Wat kry jy in ANC-geregeerde provinsies?

Johan ·

Jy kry n salaris. net soos ons gewone mense op straat maar betaal vir die “opgraderings” by ons huise, hoekom kan jy nie? kan ons ons belasting geld ook gebruik vir “opgraderings? Jy is niks beter as jou ANC kaders nie. ek skaam my. dis lekker om in die politiek te speel.

Landi ·

Het jy gelees dat sy sélf vir die opgraderings betaal het? Die Stad Kaapstad het slegs vir die sekuriteitsaspekete betaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.