Geen oplossing in sig vir Grey-konflik

Deon Scheepers, hoof van Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein. Foto: Facebook

Die beheerliggaam van die Grey Kollege Sekondêre Skool in Bloemfontein het Dinsdag ontken dat die bemiddelingsproses tussen die beheerliggaam van dié topskool en die skoolhoof, Deon Scheepers, “op ʼn dooiepunt uitgeloop het” soos Scheepers beweer.

Henry Büchner, voorsitter van die skool se beheerliggaam, het in ʼn verklaring gesê die beheerliggaam is “diep teleurgesteld” oor die stellings wat Scheepers die afgelope naweek op sy Facebook-blad gemaak het.

Maroela Media het vroeër berig Scheepers het aangevoer die mediasieproses op 30 Junie tussen hom en lede van die beheerliggaam was “ongelukkig” nie suksesvol nie. “Die opvolgmediasie wat op 7 Julie vanjaar sou plaasvind, het ook deur die mat geval. Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het nie die gesprekke bygewoon nie,” het Scheepers onder meer gesê.

Volgens Büchner is Scheepers oneerlik wanneer hy beweer die bemiddelingsproses het op ʼn dooipunt uitgeloop. “Die mediasie het op Saterdag 30 Junie ʼn aanvang geneem. Tydens die proses het mnr. Scheepers vir uitstel gevra om ʼn moontlike oplossing te ondersoek en die partye het ooreengekom dat die mediasie uitgestel word tot Saterdag 7 Julie 2018. Mnr. Scheepers het egter op Donderdag 5 Julie die beheerliggaam in kennis gestel dat hy van die mediasieproses onttrek. Die bewering dat die mediasie dus onsuksesvol was en op ʼn dooiepunt uitgeloop het, is nie akkuraat nie,” het Büchner gesê.

Hy het gesê daar is deur die onderskeie partye ooreengekom dat die inhoud van die bemiddelingsproses vertroulik sal wees en daarom kan hy nie uitbrei oor enige iets wat bespreek is nie. Hy het wel gesê dat die SAOU nooit ʼn party tot die mediasie was of ooit sou wees nie.

“Die beheerliggaam het die mediasieproses voorgestel omdat die regshulp wat mnr. Scheepers in sy hofaansoek vra, geensins die werklike probleem, naamlik die verbrokkelde vertrouensverhouding tussen mnr. Scheepers en die beheerliggaam, asook tussen mnr. Scheepers en die onderwysers, sal herstel nie. Daar is verskeie aspekte waaroor die partye in debat moet tree, maar dit is nie meer moontlik nie, aangesien mnr. Scheepers eensydig onttrek het en die proses nou skipbreuk ly,” het hy verduidelik.

“Mnr. Scheepers se bewering dat dit belangrik is ‘dat ʼn neutrale voorsitter die mediasieproses moet lei’, insinueer dat die voorsitter van die ‘onsuksesvolle’ mediasie nie onpartydig was nie. Die ‘onsuksesvolle’ mediasie is gelei deur ʼn appèlregter wie se reputasie onberispelik is en wie se onafhanklikheid bo alle verdenking staan. Mnr. Scheepers se insinuasie is beide betreurenswaardig en onverskillig en die beheerliggaam en Grey Kollege distansieer ons daarvan.”

Büchner meen verder Scheepers se bewering dat hy steeds ontvanklik is vir enige vorm van mediasie, is nie versoenbaar met die voorwaarde wat hy stel dat die beheerliggaam se resolusie van 15 Mei 2018 teruggetrek moet word as ʼn vertrekpunt vir die mediasieproses om suksesvol te wees nie.

“Mnr. Scheepers is heel duidelik nie oop vir gesprek om ʼn oplossing vir die probleem by Grey Kollege te vind nie, net soos wat hy ook nie ontvanklik was om die probleme wat aanleiding gegee het tot die bestuursliggaam se besluit van 15 Mei 2018, die hoof te bied nie. Sy optrede nou, en voor 15 Mei 2018, is duidelik nie in die beste belang van Grey Kollege nie.”

Büchner het gesê die beheerliggaam se vroeëre besluit om Scheepers van sy beheerliggaampligte te onthef bly dus steeds van krag. “Die beheerliggaam sal eersdaags die persoon bekend maak wat, met ingang 17 Julie 2018, as tussentydse skoolbestuurder sal optree.”

Scheepers het die afgelope naweek dit gestel indien “almal nie binnekort tot ʼn vergelyk kom nie”, sal die saak op 20 Augustus 2018 in die hooggeregshof aangehoor word. Alle aanduidings tans is dat dié stryd dus wel in die hof gaan draai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Willem ·

Baie duidelik moet hy eerder die wandelstaf vat, maar hy kry nie die boodskap nie, of hy wil nie die skrif aan die muur sien nie.

siestog ·

Met ‘n bo-gemiddelde shoolhoof salaris en ‘n R500 000 bonus van die beheerligaam plus twee sponser voertuie sal ek ook vashou solank as ek kan. Almal sal graag die skrif (feite) teen die muur wil sien.

John ·

Iewers wil-wil daar ‘n verband vorm tussen die Scheepers- en Willemse-debakels. Wat sou dit wees? Maar met al die chaos en stakings en misdrywe in die land en die dwarrels wat siener-predikate en die vuil voor-lente wind opstook, verdwyn die waarheid telkens op die rug van ‘n droe mielieblaar… tot doer agter die bult waar ons mos altyd vir kees loop haal; die paadjie hoeka vol duwweltjies…

Reguit ·

Nou kom Scheepers se ware karakter na vore. Volgens hom is ‘n eerbare appelregter nie goed genoeg vir hom as voorsitter nie. Hy wil seker een van sy advokaat tjommies as voorsitter sien. Scheepers jy “duck en dive” lang genoeg en al wat seerkry in die proses is die Grey leerders. As jy regtig omgee vir die kinders sal jy jou goed vat en “trek” want die meerderheid onderwysers wil nie meer onder jou werk nie. Dis die enigste manier dat Grey tot sy ou waardes kan terugkeer.

kas ·

Jou storie,my storie en die ware storie.’n Appelregter sal seker onpartydig wees.Die geskille sal spoedig opgelos moet word om Grey kollege groot verleentheid te spaar.Dit is sekerlik ‘n skool met reike tradisies en waardes.Johan Volsateed was vir my ‘n goeie hoof en het die skool se belange eerste gestel al was ek nie ‘n leerling van die skool nie.

LR ·

Kan hierdie man nie verstaan dat die beheerliggaam, ouers, onderwysers, kinders en ek vermoed die breē gemeenskap hom nie meer by die skool wil hê nie. Hou n referendum onder hierdie mense en handel volgens die uitslag daarvan.
Die raad moet onmiddelik al sy byvoordele wegvat en hom uit die rektors woning uitskop. Verder moet die raad die Dep van onderwys vra om hom te herontplooi.
Hierdie man is nou besig om n top skool baie skade aan te doen. Die mense wat hom destyds aangestel het moet hulle trots sluk en erken dat hulle n fout gemaak het, daar was blykbaar baie bevoegde kandidate op die kortlys.
As julle ( die raad) weer moet aanstel vergeet van baantjies vir boeties soos bv mense se lidmaatskap van sekere organisaies ens.

Reguit ·

LR—dis wyse woorde
Jy slaan die spyker op die kop met jou brief veral met die “lidmaatskap van sekere organisasies”. Ek kan sien jy kom jare saam met die skool en deel die hartseer van die leeders en onderwysers wat geboelie word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.