‘Geen ouer moet daardie oproep ontvang nie’

Ds. Liezel de Jager (Foto: Verskaf)

Verligting. Hartseer. Seer. Teleurstelling. Blydskap. Dit is die “potpourri van emosies” wat Henk van Zyl gevoel het toe hy hoor ʼn verdagte is in verband met die moord op sy dogter ds. Liezel de Jager in hegtenis geneem.

“As ek moet eerlik wees, was verligting op daardie spesifieke stadium die belangrikste,” sê Van Zyl voor hy later vertel die polisie se ondersoek na die moord op Liezel was ʼn “ramp” en dat hy tot vandag toe nie weet presies wanneer sy dogter dood is nie.

Werner de Jager sal Kersfees agter tralies sit nadat sy borgtogaansoek nie Donderdag in die landdroshof op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal aangehoor kon word nie. Hy word van die moord op sy vrou, Liezel, aangekla.

Werner de Jager in die Amanzimtoti-landdroshof. (Foto: Action Society)

Die ondersoekspan het aangedui nuwe inligting het aan die lig gekom wat nog ondersoek moet word. Daar is ook vrae rondom De Jager se geestelike welstand en die moontlikheid dat ʼn aansoek gebring sal word om hom vir sielkundige waarneming te stuur.

De Jager is verlede maand in Bloemfontein in hegtenis geneem, net meer as twee jaar ná die moord op Liezel op 13 Oktober 2021. Sy is met wurgmerke aan haar nek dood by die pastorie van die NG kerk Suidkus op Amanzimtoti aangetref nadat sy saam met ʼn groep mense gaan draf het.

Van Zyl het die drukgroep Action Society in Oktober verlede jaar gevra om die saak op te volg en te monitor en is daar na volgehoue druk uiteindelik verlede maand ʼn deurbraak gemaak.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid van Action Society, glo egter die speurders wat toegelaat het dat die saak teen De Jager vir twee jaar sloer “en dat haar saak óók net nog ʼn nommer word” ook verantwoordelik gehou moet word.

“Ons sal ook voortgaan om stappe te doen om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aanspreeklik te hou vir die oorspronklike [ondersoek]span se verwaarlosing en mislukking in hierdie saak. Hulle het haar familie en vriende vir meer as twee jaar in die duister gelaat en hulle ontneem van die berusting wat hulle nodig gehad het om behoorlik oor haar dood te treur.”

Werner het kort ná die moord verdwyn. Die wewenaar is later in ʼn bedenklike toestand in sy motor in ʼn suikerrietplantasie in Illovo-suid gevind en na ʼn hospitaal gehaas.

‘Haar naam was Liezel’

Henk en Salomé van Zyl, Liezel se ouers. (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn baie gelukkige normale Woensdag,” onthou Van Zyl. “Ons het pas ʼn gesprek gehad met ons een dogter [een van Liezel se jonger tweelingsussies]. Sy het teruggebel en ek het gedink sy het iets vergeet – ek het gelag en gevra wat het jy vergeet en toe begin my skoonseun praat. Ek hoop en bid van harte dat jy nooit daardie oproep hoef te ontvang nie. Geen ouer moet daardie oproep ontvang nie.”

Twee uur later het hy, sy vrou, Salomé, en hul ander tweelingdogter na Amanzimtoti vertrek. “Dit was die langste rit van ons lewe. Dit was nie maklik nie maar ons was daar. Ek was op autopilot. My vrou en ander dogters was platgeslaan. Die kinders [Liezel en Werner se twee dogtertjies]… trauma. Dít word nie in statistiek bereken of weerspieël nie.”

En daarom wil Van Zyl ook hê Bheki Cele, minister van polisie, moet weet sy dogter is nie net ʼn statistiek nie. “Mnr. Cele, haar naam was nie nommer 121 nie. Haar naam was Liezel. Sy was ʼn goeie mens. Sy was my dogter en die ma van twee pragtige dogtertjies. Sy was iemand en sy is steeds.”

Liezel is op ʼn baie koue dag, 23 Julie 1983, op Olifantshoek in die Noord-Kaap gebore. “Daardie dag toe ek haar in my arms gehou het, was een van die beste dae van lewe. ʼn Reis van 38 jaar het begin waartydens ek die geseëndste en mees bevoorregte persoon in die wêreld was. Haar naam was Liezel.”

Dit is hoekom Henk en Salomé nie sal ophou veg nie. “Dis ons kind. Dit is belangrik en ons sal nie ophou baklei daarvoor nie. Dink nou maar net vir jouself – sy het nie meer ʼn stem nie. Sy was altyd ons spogkind. Sy is daar – maar sy is nie meer daar nie, sy is weg en ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor haar, ons het ʼn verantwoordelikheid teenoor haar kinders. Haar kinders gaan eendag vir ons vrae vra.

“Hoe langer hierdie ding aangegaan het, hoe meer het ek besef ons baklei nie net vir Liezel nie.

Liezel is ʼn naam wat deesdae herken word. Sy verteenwoordig baie mense – mense wat nie daai stem het nie. So ons het ook ʼn verantwoordelikheid teenoor hulle, maar ons sal nie ophou nie. Ons sal aanhou tot daar aardse geregtigheid vir haar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carl ·

Sterkte vir julle met die trauma van n hofsaak wat weer ou wonde oop krap. Mens kan jou nie die hartseer en verlies indink om n kind te verloor nie, en dan veral op so n wyse. Mag ons Hemelse Vader julle in die tyd styf vashou.

Martie ·

Dit is so die bittere waarheid. Ek sal dit so lank ek lewe onthou. Nou sê mense sy gewete sal hom pla, nee, dis ‘n mite. Hulle lewe gaan aan en jou kind s’n is verby. Gelukkig is die mense wie se skuldiges gevang word maar wat van ons wat nooit vrede sal hê nie want die skuldige loop vry. Ek sal die polisie nooit ooit weer glo en vertrou nie, net so korrup soos die mense met wie hulle saamwerk om bedrog te pleeg.

OU SAAR ·

Liezel, ek sal op elke Maroela berig kommentaar lewer om jou naam lewend te hou en om mense te herhinner wat se spesiale en pragtige mens jy was.
Jy het diep spore in my en my gesin se lewens getrap. Spore wat vir altyd daar sal bly.
Oom en Tannie, soveel soos wat ons aan Liezel dink, net soveel dink ons aan haar 2 pragtige dogtertjies en aan julle…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.