‘Geen pa moet dit aanskou nie’, sê pa na gesin gekaap is

Eugene, Marilize en hul kinders Abigail, Damian en Martinique. Foto: Verskaf

Eugene, Marilize en hul kinders Abigail, Damian en Martinique. Foto: Verskaf

Paramedici het Eugene Bright (43) die middag van 15 April gebel met die nuus dat sy gesin in ʼn ernstige botsing betrokke was. Nadat hy hulle in onderskeie hospitale in Johannesburg besoek het, het dit eers duidelik geword hulle is gekaap en hy moes “die legkaart aanmekaar begin sit”.

“Ek is bitter oor wat gebeur het, maar ek het nog nie kans gekry om kwaad te wees nie. Ek konsentreer nou op my gesin en ry van hospitaal na hospitaal. Ek het nog nie kans gekry om vir myself te sê die ouens het my gesin ernstig seergemaak nie,” het Bright Maandag gesê.

Maroela Media het vroeër berig Bright se vrou, Marilize (34), het die Vrydagmiddag kort voor 15:00 vir Damian (7) en sy suster, Abigail (9), by Laerskool Horison in Roodepoort gaan oplaai in haar blou Hyundai i20. Sy het toe gery om vir Martinique (1) by haar kleuterskool daar naby op te laai, toe hulle deur drie mans gekaap is.

Die verdagte wat bestuur het, het sowat 5 km verder, op ʼn skerp draai, beheer oor die motor verloor en oor ʼn randsteen gery voordat die motor teen ʼn bakkie, wat ʼn woonwa gesleep het, gebots het. Almal behalwe Martinique het ernstige beserings opgedoen.

“Een van die kapers het half bo-oor Martinique gelê toe die botsing plaasgevind het. Sy het haar koppie gestamp en die motorstoeltjie se gordel het haar op die skouer geskaaf. Sy is na dieselfde hospitaal as Abigail geneem, maar het dieselfde aand al in die hospitaal se kindersaal rondbaljaar.”

Bright was die dag van die kaping op pad terug van Frankfort  waar hy sedert die Woensdag gewerk het. Hy het pas ʼn kollega in Randburg afgelaai toe sy foon onophoudelik begin lui het. “Toe ek in die hospitaal by Abigail en Martinique was het ʼn vriend my gebel en gesê dit was ʼn kaping. Ek kon eers die Saterdag by Damian uitkom. Ek was baie geskok en my hart is in stukkies geskeur. Ek gun dit vir geen pa om dit te aanskou nie.”

Volgens Bright wil hy nie eers begin dink oor wat kon gebeur het nie. “Daar was definitief ʼn ander plan, hetsy om hulle skrik op die lyf te jaag of hulle dalk gyselaar te hou.” Marilize en Damian sterk intussen steeds in onderskeie hospitale aan. Martinique is dieselfde aand ontslaan, terwyl Abigail verlede week huis toe is.

“Marilize konsentreer nou net daarop om gesond te word. Sy het ook ʼn ligte beroerte gehad, wat die linkerkant van haar liggaam beïnvloed. Sy sal rehabilitasie moet kry wanneer sy na ʼn algemene saal oorgeplaas word. Marilize was aanvanklik onder die indruk die kapers is op vrye voet en dit het haar bitter gemaak. Sy weet nou hulle is nog in die hospitaal, maar sy het haar kinders meer as twee weke gelede gesien en is baie bekommerd oor hulle. Sy is baie hartseer en wil hulle net graag vashou,” het Eugene gesê.

“Ons sal ook moontlik vandag weet of Damian vandeesweek nog ontslaan kan word. Hy het vir die berader gesê hy was die enigste seun in die motor en hy moes eintlik sy ma en susters beskerm het. Die toneel speel gereeld weer voor hom af.”

Bright het gesê Abigail sterk goed aan tuis maar sy raak ongeduldig. “Sy is nie gewoond aan stilsit nie, sy wil speel. Maar sy is ʼn ou vegter. Martinique was die eerste paar dae na die kaping bang vir haar motorstoeltjie, maar sy is nou weer reg. Die ondersteuning wat ons kry is net absoluut ongelooflik. Die skole en mense bring vir ons kos en ons kry berading.”

Volgens Bright sal die gesin ook almal saam berading ontvang sodra almal tuis is.

Lees alle vorige berigte oor die Bright-gesin op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

pieter ·

hierdie word n nuwe sport ,stel mbalula aan hy maak goeie reels.

Vra maar net ·

Nog niks gehoor van die kapers nie. Kry nou seker voorkeur behandeling op staats koste. Dat die voertuig nou buite beheer. Moes geraak het juis op ‘n draai.
Wonder maar net!

Sam ·

Ek dink ons Vader het ‘n lied in Sy kop gehad met die gesin…

Find light in the beautiful sea
I choose to be happy
You and I, you and I
We’re like diamonds in the sky

Shine BRIGHT like a diamond…

^
Rihanna se diamonds…

Liza ·

Alle sterkte vir die familie. Dink so aan die seuntjie wat se hy was die enigste seun in die kar…. wat word van ons land. Seuns van sewe moet paddas vang en cowboys en crooks speel. Nie deur geweld gedwing word om die las te dra dat hy sy familie moes beskerm nie. Sterk wees groot seun al weet jy dit nie maar jy is n hero. Gou gesond word

Chris Ws ·

My vrou het ‘n harde harde hou teen die linkerkant van haar kop gekry toe ‘n man van agter in ons vasgejaag het en haar regterkant is aangetas presies asof dit ‘n beroerte was.Klink my Mev.Bright het dieselfde oorgekom.Na 3 jaar kan my vrou nog niks vir haarself doen nie en kan nie loop sonder ondersteuning nie.Hoop en bid Mev.Bright herstel gouer.
EK kan net dink waardeur die pa gaan in die tyd.Ek was 2 maande sonder vervoer na ons ongeluk en my vrou was 4 maande in die hospitaal maar darem het ons nie kinders by ons gehad nie.Ek dank ons Vader dat ek nie beseer was nie.

m ·

Baie sterkte aan hierdie gesin. Mens kry koue rillings as jy hierdie storie lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.