‘Geen plek vir persoonlike agendas tydens NWU-strategiehersieningsproses’

Adv. Johan Kruger SC (regs), voorsitter van die NWU-raad en dr. Joe “JG” Tshifularo, ondervoorsitter.

Adv. Johan Kruger SC (regs), voorsitter van die NWU-raad en dr. Joe “JG” Tshifularo, ondervoorsitter. Foto: NWU-webwerf

Adv. Johan Kruger SC, voorsitter van die Raad van die Noordwes-Universiteit, het Vrydag in ʼn verklaring bevestig dat daar “geen plek vir versteekte of persoonlike agendas” bestaan tydens die strategiehersieningsproses nie.

“Die Raad sal slegs deur een doelwit beïnvloed word en dit is om die NWU beter en sterker te maak,” het Kruger gesê. “Die Raad verwag van alle lede van bestuur asook alle ander belanghebbergroepe om konstruktief deel te neem aan die strategiehersieningsproses. Wees verseker dat die Raad die beste belange van die totale NWU op die hart dra, en dit geld vir studente, personeel, alumni of enige ander belanghebbergroep.”

Kruger het gesê hy het kennis geneem van onlangse spekulasies oor die strategiehersieningsproses, en die feit dat dit oorgevloei het na die media, en hy wil gevolglik “duidelikheid en agtergrond gee oor hierdie saak”.

Hy het dit benadruk dat die visie om ’n nuwe strategiese agenda vir die NWU vir die volgende 10 jaar te ontwikkel, nie van die NWU bestuur gelei deur die visekanselier, prof. Dan Kgwadi, kom nie, maar dat dit ’n opdrag is wat die Raad aan bestuur gegee het tydens die raadsvergadering van 19 Junie 2014.

“Ek wil dit beklemtoon dat die Raad groot en ewe veel waardering het vir die prestasies van al drie kampusse en hul besture gedurende die afgelope dekade,” het Kruger bygevoeg. “Om egter relevant en kompeterend te bly, moet enige organisasie sy strategie en visie van tyd tot tyd heroorweeg.”

Volgens hom het die Raad die universiteit se bestuur ook opdrag gegee om sake soos die bestuursmodel en die funksionering van verskeie strukture te ondersoek. “Dit verduidelik die feit dat verskeie moontlikhede rakende die bestuursmodel na vore gekom het. Ek wil beklemtoon dat daar geen voorafopgestelde idees is oor hoe ’n toekomstige struktuur moet lyk nie.”

Kruger het gesê hoewel hierdie proses deur bestuur gedryf word, lê die goedkeuring van enige veranderinge by die Raad. “Gedurende ʼn Raadswerkswinkel op 20 en 21 Maart 2015 sal bestuur aan die Raad ʼn voorlegging moet doen betreffende vordering. Dit sal die Raad op hoogte bring en hulle die geleentheid bied om hul insette te lewer, bekommernisse te opper en ook verdere leiding te gee in hierdie verband.”

Bestuur sal na verwagting die finale strategie tydens die Raadsvergadering van 19 Junie 2015 voorlê vir die Raad se oorweging en moontlike goedkeuring. “Dit sal ons in staat stel om ʼn strategiese plan vir die volgende vyf jaar gereed te hê om aan die departement van hoër onderwys en opleiding voor te lê, soos deur wetgewing vereis word.”

Kruger doen ʼn beroep op alle belanghebbers om die proses te respekteer en hulle “daarvan te weerhou om vooraf ʼn oordeel te vel of om ʼn negatiewe klimaat te skep”.

Lees alle vorige berigte oor die Puk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gwen ·

Net jammer Kgwadi steur hom nie aan hierdie oproep van die raad nie. Hy het ’n persoonlike agenda teen alles wat Afrikaans is en aan die Afrikaner toegeskryf kan word.

Anton Smit ·

Adv. Johan Kruger SC ek wil U net herinner dat jy jy iemand teen die kop kan sien maar nie in die hart nie hoe kan jy SR lede wat NWU wil verengels vertrou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.