Geen poste in gedrang by Toyota

Andrew Kirby.

Toyota het gister tydens ʼn aanlyn rondetafelgesprek sy onmiddellike planne aan die media bekendgemaak.

“Die boodskap wat ek met julle wil deel is dat ons by Toyota besig is om reg te maak vir sake, in watter vorm ook al,” het Andrew Kirby, president en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika, gesê.

“Ons top-prioriteit is die veiligheid en welstand van ons kliënte sowel as ons werknemers. ʼn Kernuitdaging vir ons is om sosiale distansiëring te inkorporeer in al ons bedrywighede en by al ons verskaffers en handelaars. Ons het ʼn omvattende risikobestuursplan ontwerp om te verseker dat ons ʼn omgewing skep waar ons werknemers en kliënte veilig is.”

Leon Theron.

Leon Theron, senior adjunkpresident vir verkope en bemarking by Toyota, het gesê 167 handelaars regoor die land is op bystand om die eienaars van enige Hino- en Toyota-voertuie by te staan, en wat deel sou vorm van noodsaaklike dienste. Toyota het reeds 321 voertuie van 922 onderdele voorsien. Toyota Finansiële Dienste sal tussen 1 April en 30 Junie 2020 maatreëls tref om verligting te bied aan private en sakekliënte wie se finansiële stabiliteit deur Covid-19 beïnvloed word.

Toyota het reeds daarin geslaag om finansies te verseker ten einde sy 7 883 personeellede volle salarisse te betaal. Werknemers wat van die huis af kan werk doen dit reeds sedert die inperking en sal in verskeie grade so voortgaan ten einde sosiale distansiëring moontlik te maak.

Toyota se Prospecton-aanleg in Durban het hul kennis en masjinerie ingespan om gesigsmaskers te ontwerp en te vervaardig. Daar is nou die kapasiteit om 20 000 maskers per week te vervaardig wat aanvanklik by die Prospecton-aanleg en deur handelaars en verskaffers gebruik sal word. Dit sal ook aan plaaslike hospitale, nooddienste en paramedici geskenk word. “Die massaproduksie van dié maskers het reeds op 20 April begin en die eerste besending sal in die loop van die week aan die Prince Mshiyeni-hospitaal in Umlazi besorg word,” het Kirby gesê.

“Ons benadering is om meer as 100 000 maskers te produseer, wat ons gratis sal lewer. Daarna is die plan om die bedryf aan ʼn SMME te oorhandig en ʼn nuwe verskaffer te skep wat dan kan aanhou handel dryf. Dit gee ons die geleentheid om die land te help met noodsaaklike veiligheidstoerusting, maar ook die geleentheid om werk te skep en ʼn sakegeleentheid te bied,” sê Kirby.

Toyota het twee inisiatiewe in die minibustaxibedryf van stapel gestuur. Hulle gaan 40 voertuie beskikbaar maak aan organisasies om inspeksies mee te doen. Die ander inisiatief is om grootmaat maskers en handreinigingsmiddel ter waarde van R10,3 miljoen aan die taxibedryf te verskaf.

Toyota se Prospecton-aanleg wat Corolla Quest, Hiace, Fortuner, Hilux en verskeie Hino-vragmotors vervaardig is op 26 Maart tot stilstand gebring. Teen die einde van die inperking sal die produksievolume wat verlore gegaan het by die 13 443 eenhede beloop. Toyota berei hulself voor om produksie te hervat sodra die inperking gelig is, ongeag die aanvraag, plaaslik of in die uitvoermark.

Toyota werk nou saam met van sy kleiner handelaars om te verseker dat die handelaarnetwerk van 264 handelaars reg is vir aksie sodra hulle na normaal mag terugkeer. Kirby het bevestig dat die R2,43 miljard wat vroeër in die jaar bewillig is vir ʼn alle nuwe modelle wat in Suid-Afrika vervaardig sal word nog voortgaan.

“Alles gaan nie presies wees soos dit was voor die inperking nie, so ons moet maatreëls tref om werknemers se veiligheid eerste te stel. Ons sal produksie in sarsies begin om aan aanvraag te voldoen en wil steeds verskeie tuiswerk-opsies beskikbaar stel vir dié wat nie op kantoor hoef te wees nie. Uit ʼn sake-oogpunt is ons strategie om te heropen, ons kontantvloei gesond te hou en voort te bestaan as Suid-Afrika se gekose handelsmerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lizet ·

Baie Baie dankie Toyota- van almal in die Motorbedryf. Julle verrig n beter funksie as al die vakbonde in hierdie bedryf wat tot op hede morsdoodstil gebly het. Well Well done!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.