Geen probleem met De Kock nie, sê prokureur

Eugene de Kock Foto: OFM

Eugene de Kock Foto: OFM

Dit gaan goed met Eugene de Kock, wat op parool vrygelaat is, en ʼn aansoek dat die owerhede hom in die hof moet laat verskyn gaan nie gebring word nie, het sy prokureur Dinsdag gesê.

“Ek kan bevestig dat mnr. De Kock my gekontak het en in kennis gestel het dat dit goed gaan met hom,” het Julian Knight gesê. “Ons sou eersdaags ʼn aansoek vir habeas corpus gebring het, maar gaan dus nie daarmee voort nie. Dit is al wat ek nou kan sê.”

Habeas corpus is ʼn geskrewe aansoek dat ʼn gevangene voor ʼn hof moet verskyn om te bepaal of hul aanhouding wettig is.

Op ʼn vraag of Knight weet waar De Kock homself bevind, het hy gesê: “As ek geweet het, sou ek julle nie gesê het nie, maar ek weet nie waar hy is nie.”

The Star het Vrydag berig De Kock is vrygelaat uit die tronk, maar is in die geheim aan sekuriteitsmagte oorgegee vir aanhouding. Volgens die berig het Knight beplan om die aansoek te bring om te bepaal of die aanhouding wettig is.

Die ministerie van justisie en korrektiewe dienste, die staatsekuriteitagentskap en die polisie wou nie verlede week kommentaar lewer nie. Knight het in daardie stadium gesê hy het opdrag van De Kock ontvang waarin hy vra om hulp, en gesê het hy word teen sy wil aangehou. “Ons kliënt het gesê hy is nog nie uit aanhouding vrygelaat nie en is nie oorgegee om met sy parool te begin nie,” het Knight toe gesê.

Volgens Knight dui die papierwerk daarop dat hy in die sorg van die polisie gelaat is.

The Star het berig De Kock word in ʼn huis aangehou weens ʼn onbekende bedreiging teen hom.

De Kock was aan die hoof van die apartheidspolisie by Vlakplaas. Hy is in 1996 tot twee keer lewenslank gevonnis plus 212 jaar vir misdade insluitend moord. Mike Masutha, minister van korrektiewe dienste, het op 30 Januarie vanjaar aangekondig dat hy De Kock se parool goedgekeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Charles ·

Los nou die man uit hy het mos sy straf uitgedien wat hy vir die apartheids regering gedoen het

Dries ·

Ag. laat die man nou die res van sy lewe rus en geniet met sy familie. Hy het lelike ding gedoen en daarvoor betaal……..hier is mense wat erger dinge gedoen het wat nog bo die wet verhewe is en tans steeds “los kannone” is. Hulle beurt sal ook eendag kom, kyk maar.

J.Z ·

Ek ruik ook iets wat na muishond stink,verseker die ANC en regering sal hom nie vry laat as hulle nie voordeel daaruit kan trek nie.hou maar dop voorendtoe.!

ladybug ·

Hy het sy tyd uitgedien in opdrag van dié wat nou al 6v onder die grond lê!

Los die man sodat hy met sy lewe kan aangaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.