‘Geen rede tot paniek’ ná breinvliesontsteking by skool

Klein Danika van Rensburg (Foto: Verskaf)

Die drie gevalle waar leerders aan Laerskool Delmas in Mpumalanga met breinvliesontsteking gediagnoseer is, is geïsoleerde gevalle en hou glo nie verband met mekaar nie.

In een van die gevalle is Danika van Rensburg (9) onverwags aan dié siekte dood.

Die skool het Vrydag in ʼn nuusbrief gesê hy het verskeie oproepe van besorgde ouers ontvang ná Danika se dood en die daaropvolgende nuus dat nóg twee leerders, Monique Mynhard in gr. 2, en Megan Nel in gr. 7, met breinvliesontsteking in verskillende hospitale opgeneem is. Dit het die vrees laat ontstaan dat daar moontlik ʼn uitbreking van die aansteeklike soort breinvliesontsteking by die skool was.

Die skool het egter Vrydag gesê ʼn verslag is van ʼn dokter ontvang wat Danika behandel het en sy het nie die aansteeklike breinvliesontsteking onder lede gehad nie. “Dit is veroorsaak deur onder meer ʼn oorinfeksie,” lui die nuusbrief.

“Monique is op 22 Maart uit die Middelburg-hospitaal ontslaan. Megan was vir ʼn dag lank in isolasie in ʼn Pretoriase hospitaal en is daarna oorgeplaas na ʼn gewone saal waar sy vir tien dae behandeling sal ontvang.”

Megan is verlede naweek in die Pretoriase hospitaal opgeneem. Haar ouers woon in Pretoria en sy gaan gewoonlik naweke huis toe. In die week bly sy in die koshuis by die laerskool.

“Al drie gevalle was geïsoleerde gevalle en het niks met die ander te doen gehad nie. Ná gesprekke met verskeie mediese praktisyns meen die skool daar is geen rede om paniekerig te raak of ʼn uitbreking van breinvliesontsteking te verklaar nie. Ons sal ouers op die hoogte hou as daar enige risiko van ʼn uitbreking is.”

Maroela Media het vroeër berig paniek by die skool is verder aangeblaas met gerugte dat ʼn gr. 4-juffrou in die hospitaal opgeneem is met breinvliesontsteking. Sy is egter net opgeneem vir die behandeling van ʼn nekbesering wat sy ʼn paar jaar gelede in ʼn motorongeluk opgedoen het.

Johan de Beer, Laerskool Delmas se skoolhoof, het verlede Maandag reeds aan Maroela Media gesê daar is in dié stadium geen rede tot kommer onder ouers oor ʼn moontlike siekte-uitbreking nie. “Dit is egter wel ʼn ernstige siekte wat gemonitor moet word. Ons het alle ouers gewaarsku om bedag te wees op simptome en dadelik ʼn dokter of ongevalle-eenheid van ʼn hospitaal te besoek as hulle bekommerd is.”

Die skool het kort ná Danika se afsterwe inligting wat deur ʼn plaaslike dokter saamgestel is aan ouers versprei. Die gevaartekens vir breinvliesontsteking is hoë temperatuur, koors en ʼn kind wat sleg voel en meer as normaalweg moeg is.

Ander simptome sluit in beenpyn, bewerasie, ʼn stywe nek, vinnige asemhaling, ʼn bleek vel met blou kolle, slaperigheid, deurmekaarheid, naarheid en aanhoudende braking.

Maroela Media het vroeër berig Danika is op 27 Februarie in die Life Springs Parkland-hospitaal aan breinvliesontsteking dood. Haar skielike dood kon egter die lewe van twee ander jong mense deur orgaanskenking red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mich ·

MM, hou ons ook asb. op die hoogte van die orgaan-ontvangers se gesondheid en welstand . Ek verstaan die orgaanskenker het die Nie – aansteeklike tipe breinvliesontsteking gehad. Is die ander gevalle van breinvliesontsteking
by Danika se skool dus toeval?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.