Geen rekord van verklaring van Phala Phala se ‘vuil dollars’

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Die Amerikaanse dollars wat in ʼn rusbank op pres. Cyril Ramaphosa se Phala Phala-wildplaas in Limpopo versteek is, is klaarblyklik nie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar nie, sê John Steenhuisen, leier van die DA, nadat die inkomstediens by navraag “geen rekord” van ʼn verklaring daarvan kon vind nie.

Ramaphosa het in Desember aangevoer dat hy $580 000 (sowat R10,5 miljoen) van Hazim Mustafa, ʼn Soedannese sakeman, ontvang het as betaling vir buffels as deel van ʼn wettige saketransaksie.

Op sy beurt het Mustafa in ʼn media-onderhoud beweer hy het voldoen aan die vereiste om die geld met sy aankoms by die OR Tambo-lughawe aan die inkomstediens te verklaar.

Die SAID se doeanebeleid oor oortollige valuta bepaal dat almal buitelande valuta met hul aankoms in die land moet verklaar en dat versuim om dít te doen wel ʼn oortreding is wat strafregtelik vervolgbaar is.

Steenhuisen sê om Ramaphosa en Mustafa se bewerings te staaf, het hy op 7 Desember verlede jaar ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia-aansoek) by die SAID ingedien om besonderhede te bekom van die vorms wat Mustafa ingedien het om die geld te verklaar.

“Die DA het vanoggend die SAID se antwoord ontvang en die inkomstediens bevestig dat ‘die rekord nie bestaan en/of gevind kan word nie’. Dit is vergesel van ʼn beëdigde verklaring van Siyabonga Nkabinde, ʼn regspesialis in die SAID se afdeling vir korporatiewe regsdienste,” sê Steenhuisen.

In sy beëdigde verklaring bevestig Nkabinde dat hy in Januarie met verskeie sake-eenhede in die SAID begin vergader het wat moontlik inligting oor die rekord wat aangevra is, sou kon hê. Dit lui ook dat die betrokke rekord in die soektog na die rekords van die SAID se passasierverwerkingstelsel nie opgespoor kon word nie, of moontlik nie bestaan nie.

“Die SAID se antwoord beteken dat ons nou weet dat die president van Suid-Afrika vuil dollars, wat onwettig in die land ingebring is, in ʼn rusbank op sy wildplaas weggesteek het,” sê Steenhuisen.

Hy sê dit maak Ramaphosa se bewering dat die geld bloot die opbrengs van ʼn saketransaksie was, “onmoontlik om te glo” omdat wettige saketransaksies “gewoonlik nie in ʼn rusbank vir die inkomstediens weggesteek word nie”.

“Dit lyk nou meer waarskynlik as ooit dat Ramaphosa moontlik in besit van dié vuil dollars was vir ʼn korrupte, onwettige of misdadige doelwit,” sê Steenhuisen.

Die inligting verleen ook verdere geloofwaardigheid aan die bevindings van die art. 89-paneel se verslag dat daar prima facie-bewyse bestaan dat Ramaphosa moontlik die Grondwet, die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite, asook sy ampseed oortree het, sê Steenhuisen.

“Die ANC het verlede jaar sy meerderheid in die Nasionale Vergadering (NV) misbruik om die paneel se verslag te verwerp en Ramaphosa het onderneem om dit in die hof te laat omkeer. Die Konstitusionele Hof het hom egter verlede week regstreekse toegang geweier om die paneel se bevindings te betwis.

“Sou Ramaphosa hom tot ʼn ander hof wend in sy desperate poging om aanspreeklikheid te vermy vir sy besit van die dollars en die gevolglike verdoeseling van die diefstal op Phala Phala, sal die DA hierdie nuwe inligting van die SAID indien as bewys dat die paneel se verslag moet geld.”

Steenhuisen sê die DA gaan ook die inligting aan die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voorlê as net nog ʼn rede waarom sy moet toegee aan die DA se versoek vir ʼn dringende ad hoc-komitee om die waarheid oor die “president se vuil dollars” bloot te lê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

SjN ·

Mustafa sal mos bewys kan lewer as hy dit verklaar het, indien nie, is hy ook skuldig aan oortreding van wetgewing.

Republikein in die Wes Kaap ·

Geldwassery. Die boerdery is ‘n front.

Johann ·

Wat ook al die feite. Die deurdagte leunaar is eenvoudig onaantasbaar. Soos al sy kader comrades.

Cherokee ·

Jou tipe kommentaar laat my wonder waarom daar steeds opposisiepartye bestaan. So, moet nie eens probeer nie. Los dit maar soos dit is. Dankie tog vir die DA (sê ek wat nie ‘n lid daarvan is nie).

Wondermaarnet ·

Wie het tyd gemors om te soek na dokumente wat “al ons regdenkende mense” geweet het bestaan nie? Seker zuma taktiek om te speel vir tyd.

George ·

Hy het vir Zuma geleer, Zuma het niks op Cyril nie, as al sy onwettighede uitkom sal ons hoendervleis kry van dit.

Danie ·

Die politieke partye en media moet eenvoudig net nie ophou om die aangeleentheid te roer nie.Hy sal ingee net n kwessie van tyd.

George ·

Nee wat , skurk steur homself nie aan die media nie, veral nie as die skelm glo hys reg nie, hys untouchable nie.

Cherokee ·

Dankie tog vir jou positiewe kommentaar, Danie. Heel in teenstelling met die wat sê “los maar”. Lekker om te lees daar’s kommentators wat dink hy kan steeds vasgetrek word.

Amelia ·

Maar as Jan publiek sars 1c skuld het jy probleme Net soos juluis se saak wat het daarvan geword niks
en nou ramapada gaan ook niks van kom nie Is dit dalk die publiek se pension geldtjies wat onder bank gevind is of het die rysse begin betaal vir SA

JJ ·

Nou wonder ek net hoe daardie klomp geld deur die x-strale van die doeane gekom het. Hulle moes dit iewers opgemerk het!

Mien ·

Almal is ewe korrup – seker ook paar dollars onderlangs ontvang!

Piet parys ·

Wonder hoeveel tyd die kaders aan hulle privaat besighede bestee ten opsigte van hulle plig en werk om die belasting betalers te dien .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.