Geen rus vir parlement met nuwe begroting

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Daar sal geen reses, geen rus en geen duurte wees vir parlementslede noudat ʼn tweede begroting ingedien is nie.

Die Nasionale Vergadering se programkomitee het vir alle praktiese doeleindes die winterreses opgeskort en tot slegs ʼn week verkort. Daar sal ook elke week sittings wees, terwyl ministers in groter mate as gewoonlik mondelinge vrae van parlementslede moet trotseer oor die aanpassings in hul begrotings.

Dit vorm deel van die ongewone aard van vanjaar se parlementêre jaar, met die koronavirus en die gevolglike staat van inperking asook die land se afgradering na rommelstatus wat beteken dat parlementêre portefeuljekomitees deesdae ses dae van die week vergader, en nuuskonferensies van die kabinet selfs op Sondae plaasvind.

Sittings van die Nasionale Vergadering is dus tydens die reses geskeduleer – tot dusver vir Dinsdae, en wel 7, 14 en 21 Julie, maar die verwagting is dat dit dramaties sal toeneem nadat die programkomitee Donderdag ʼn nuwe parlementêre program goedgekeur het.

Portefeuljekomitees begin reeds hierdie Dinsdag, 30 Junie, die verskillende departemente se begrotings ontleed.

Alle portefeuljekomitees wie se departementele toewysings verander het, sal intensiewe monitering van die begrotingsveranderings moet doen om te verseker dat verhoogde toewysings nie vermors word nie, en dat verlaagde toewysings beteken dat daar op noodsaaklikhede gefokus word.

Sewe staatsdepartemente kry meer geld, met die leeue-aandeel aan die departemente van maatskaplike ontwikkeling, gesondheid en samewerkende regering. Van die 31 departemente wie se toewysings verklein het, is 13 omvattende inkrimpings en 18 is minder omvattend. Drie departemente se begroting het glad nie verander nie.

Die Nasionale Vergadering se voorsitter van komitees, Cedric Frolick, het gesê die doelwit is dat portefeuljekomitees strategies dink en die kabinet verantwoordbaar hou.

Elke departementele begroting sal in die parlement gedebatteer word en ministers sal onvoorbereid vrae van parlementslede moet kan beantwoord oor veranderde besteding kragtens die nuwe begroting.

Die eerste portefeuljekomitees wat verslag sal lewer, is die begrotingskomitee en die portefeuljekomitee oor finansies, albei op 8 Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Onnie ·

In daardie geval voel ek die howe hoef ook nie reses te vat nie, dan hoef BATSA nie tot 6 Aug te wag om voor die hof te kom nie. Skole gaan ook nie vakansie het nie. Net 2 langnaweke, een naweek in Aug met vrouedag ingesluit en een naweek einde Sept met Erfenisdag ingesluit. “What is good for the goose, is good for the gander.”

Hennie ·

Bravo! Vir die eerste keer in 26 jaar werk hulle, of hulle is by die werk….weet nie of hulle werk nie!

Nico ·

Verwyder die kopbeeld voor die parlements gebou in Kaapstad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.