Geen selfies met stembriewe nie

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het kiesers gemaan om nie foto’s te neem van hul gemerkte stembriewe nie.

Miljoene Suid-Afrikaners neem vandag deel aan die munisipale verkiesing.

“Kiesers moet onthou dit is onwettig om ʼn foto van of ʼn selfie te neem met ʼn gemerkte stembrief,” het Mosotho Moepya, hoof verkiesingsbeampte, by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria, gesê. “Dit is noodsaaklik om die geheim en integriteit van jou stem en die kiesproses te beskerm.”

Moepya het gesê hulle moedig kiesers eerder aan om ʼn foto te neem van hul gemerkte duim om te bewys dat hulle gestem het en dit op sosialemediaplatforms te deel met #iVoted om ander persone ook aan te moedig om te gaan stem.

Sy Mamabolo, adjunk- hoof verkiesingsbeampte, het gesê foto’s van stembriewe veroorsaak verskeie probleme. “Die kommissie probeer verhoed dat daar nie ʼn misbruik is van magsverhoudinge binne gesinne of huishoudings nie, of binne die werksomgewing nie en ook nie binne die kulturele konteks waar mans dalk hul vroue wil dwing om selfies te neem van hul gemerkte stembrief nie.”

Mamabolo het benadruk die verbod op die neem van foto’s van stembriewe is om die geheim van die stem te beskerm, veral vir diegene wat weerloos is in die samelewing.

Die OVK het Dinsdag gesê hy is vol vertroue dat alles gereed is vir ʼn vry, regverdige en vreedsame verkiesing.

Stempunte het om 07:00 oopgemaak en sluit om 19:00. Kiesers wat om 19:00 by die stempunt is maar nog nie kon stem nie, sal toegelaat word om hul stem uit te bring.

Kiesers moet stem waar hulle geregistreer is en ʼn geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdoument vertoon, hetsy die oorspronklike groen strepieskode-boekie, die slimkaart-ID of ʼn geldige tydelike identiteitsertifikaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

dries ·

Ja die integriteit met 80 000 bedorwe stembriewe wat reeds die naweek gevind is, terwyl die verkiesing nog nie eens begin het nie.

Ann ·

As jy mooi gekyk het, sou jy gesien het dat daardie stembriewe ‘n hele paar jaar terug was – die datum is nog op die foto – en anyway, daardie webwerf wat dit berig het is berug vir sy valse berigte.

KarooKlong ·

Eerstens, mamabolo, alle mans val nie almal in jou kulturele konteks nie.
Erken eerder dat jy en jou kommunistiese party julle magsbeheptheid met hierdie magsvertoning wil tentoonstel met hierdie eweskielike teen die wet om ‘n selfie te neem. Hoop nie jy gee om dat my kulturele medeburgers en ek vandag vrylik asemhaal nie?

Deon ·

Janee, netnou netnou sit ons met foto bewyse dat die stemme verkeerd getel is (of sommer net pleinweg verneuk is) en dan is daar groot moeilikheid….. belaglik…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.