‘Geen skade om De Lille as burgemeester te behou’

Patricia de Lille in die hooggeregshof in Kaapstad (11 Mei 2018). Foto: Chantall Presence/ANA

Die hooggeregshof in Kaapstad het Vrydag gehoor dit kan geen skade inhou om Patricia de Lille weer in haar amp as burgemeester aan te stel nie.

De Lille het ʼn dringende hofaansoek gebring om haar amp te behou totdat die regsgeding rondom die geldigheid van haar verwydering uit haar pos aangehoor word. Sy is Dinsdag uit haar amp verwyder nadat die DA se federale uitvoerende komitee bevestig het dat haar DA-lidmaatskap beëindig is wat dus effektief beteken sy is ook haar burgemeesterspos kwyt.

De Lille se regspan voer aan gegewe dat die spanning tussen De Lille en lede van die DA-koukus in die stadsraad al vir langer as ʼn jaar aan die gang is, sal die feit dat sy haar pos steeds beklee nie enige skade aan die Stad Kaapstad of die party doen nie.

Adv. Dali Mpofu, vir De Lille, het aan die hof gesê die DA kon nie daarin slaag om deur wettige roetes van De Lille ontslae te raak nie en het daarom eerder ʼn beëindigingsklousule tydens sy konferensie in April aanvaar en gebruik dit nou om haar in die pad te steek.

“Alles wat die hof dus vandag gaan hoor is die optrede van die DA in hul najaag van hierdie skelmstreke. Nadat al die behoorlike wetlike roetes gesluit is, is daar doodeenvoudig ʼn onwettige meganisme aangelê om hul doelwit te bereik.”

Regter Patrick Gamble het vroeër gesê gedeelte B van De Lille se aansoek – wat die grondwetlike geldigheid van die beëindigingsklousule betwis – sal op 25 Mei deur ʼn volbank regters van die hooggeregshof aangehoor word.

Vroeër het ondersteuners van die DA, asook van De Lille, in groot getalle buite die hooggeregshof saamgedrom. De Lille en Natasha Mazzone, die adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, was albei in die hof vir die dringende aansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

TJollie ·

Ek se weer die DA GAAN PAKSLAE KRY … Op die radio word gese dat sy 100% deur die ANC gesteun word . . a leopard never changes spots . die DA gaan al haar aanhangers verloor . maar dit het julle seker geweet? Ek hoef seker nie politiek te speel nie.

zoom zoom ·

Tjollie het jy enige idee waar die DA hierdie stemme gaan verloor sodat doe OVK dit kan gaan optel

Johann cb ·

Die DA is besig met ‘n gevaarlike spel! Géén hof kon Me DeLille op enige aanklagte skuldig begins nie! Hier is ‘n lelike magspel in die party aan die gang! Sy leier is ook onrusbarend stil oor wat aangaan! Hierdie tipe “vuil spel” is egter niks nuut in politiek voor ‘n groot algemene verkiesing nie. Op hierdie stadium is dit net moeilik om te sê wie voordeel daaruit gaan trek…
Sterkte, MeDeLille en, soos in Port Elizabeth met Mnr Trollip, welkom terug!

L ·

You go girl! Pat, gaan vereenselwig jou met n eerlikke party as jy daai skelms in die stof vertrap het met hul eie weggesteekte waarheid. DA is nie meer wat dit was nie. Almal weet dit en kyk noord en beweeg voort. VFPlus…. Sal jou nie in die steek laat nie, het nog nooit, geen skandes, in almal en alle SAners se belang. Dis dalk nie n slegte idee dat VF hul naam verengels nie, Afrikaanse naam sit massas af. Dis naar maar waar.

Ander Annie ·

Me De Lille, jy is ‘n sterk vrou. Die DA maak nou ‘n baie groot fout.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.