Geen skorsings by SEF-raad, sê departement van energie

Mmaloko Kubayi, minister van energie (Foto: GCIS)

Die departement van energie het Dinsdag ʼn berig, dat minister Mmamoloko Kubayi raadslede van die Sentrale Energiefonds (SEF) oor die verkope van die land se strategiese oliereserwes geskors het, verwerp.

“Die minister van energie het nie die raad van direkteure geskors soos in die media berig is nie,” het Nomvula Khalo, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “Die minister het egter op 26 Julie 2017 ʼn skrywe aan die raadslede gestuur en ʼn verduideliking versoek oor besware.”

Khalo het gesê dit is ook belangrik om te noem dat minister Kubayi die aandeelhouer by die SEF is en dat sy en die raad alle sake wat met die bestuur verband hou, sal bespreek en dat dié sake vertroulik hanteer word. “Indien daar ʼn openbare aankondiging gedoen moet word, sal minister Kubayi dit op ʼn gepaste tyd doen.”

Business Day het Dinsdag berig Kubayi het die raad geskors nadat sy verlede week met hulle in Pretoria vergader het. Volgens die berig het die geskorste raadslede, insluitend voorsitter Luvo Makasi, waarnemende uitvoerende hoof Mojalefa Moagi, hoof finansiële beampte Lufuno Makhuba en maatskappysekretaris Abdul Haffejee, tot Maandag gehad om individueel te reageer op vrae van Kubayi.

Die raad en die voormalige minister van energie, Tina Joemat-Pettersson, het onder skoot gekom vir die transaksie van R5 miljard sonder goedkeuring van die tesourie.

Kubayi het vroeër vanjaar aan die energiekomitee in die parlemetn gesê die brandstofvoorraad is “verkoop” en nie geroteer, soos Joemat-Pettersson verlede jaar aangevoer het nie. Die transaksie het tot groot ontevredenheid gelei, omdat die voorraad teen so min as $29 per vaatjie verkoop is.

Kubayi het in daardie stadium gesê ʼn forensiese ondersoek sal gedoen word om te bepaal wat met die geld uit die transaksie gedoen is en sal bepaal watter verliese gely is as gevolg van die transaksie. Sy het gesê strafregtelike aanklagte sal moontlik gebring word teen diegene wat daarvoor verantwoordelik was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Wat nie weg gedra word nie, word weg gegee? Die absurde belaglikheid van die vlak van arrogante magsvergrype is om van naar te word. Die begrip more is nog n dag en voorsiening en bere en spaar is seker te KOLON iaal vir die onaantasbare ANC handpoppe? Siek om te sien hoe hulle hul eie vergrype en die van ZUPTOPIA bloot finansier met nog meer vergrype!

Eish ·

Ja Johann,
Daar is haas geen terrein in die publieke domein wat nog nie deurgeloop het onder stroping, kaping, wanbestuur of selfverryking nie. Die laaste 23 jaar was voorwaar een van ontnugtering. Ek word Minnaar, maar die vergrype maak my Pienaar dan wil ek net Kotze!

Swartkat ·

$ 29.00 per vat – wat ‘n winskopie, selfs ‘n bottel vaaljapie is nie eers so goedkoop nie

John ·

Kubayi die aandeelhouer by SEF? Wat se dit? Word ons hier ook beheer deur familie van familie? Iets klink nie lekker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.