Geen stem ‘vermors’, maar ‘stem strategies’

(Foto: Maroela Media)

Kiesers is gewoonlik minder entoesiasties oor ʼn plaaslikeregeringsverkiesing as oor die nasionale en provinsiale verkiesings, maar kenners sê elke stem tel – en Suid-Afrikaners moet dit slim gebruik.

Alida Kok, ʼn politieke dosent verbonde aan Akademia, sê daar was vanjaar ʼn beduidende inkrimping, ʼn “rekorddaling”, van kiesers wat gaan registreer het.

Sommige politieke partye, veral die tradisioneel groter partye, hamer in die aanloop tot die verkiesing boonop voortdurend daarop dat ʼn stem vir ʼn kleiner party ʼn mors van ʼn stem is. Steek daar enige waarheid in?

“ʼn Mens kan nie jou stem mors nie. Die DA noem dit in hulle veldtog, dat as jy vir ʼn kleiner party stem, jy jou stem mors. Dit is nie die geval nie,” sê Kok.

“Ons moet in gedagte hou dat die kiesstelsel wat ons vir munisipaliteite gebruik ʼn proporsionele gedeelte ook het. Daar is ʼn geslote partylys wat gebruik word en politieke partye plaas dan lede op die raad volgens proporsionaliteit.

“Jou stem kan bydra tot die proporsie steun wat ʼn party kry, wat beteken dat hulle wel op daardie vlak ʼn verteenwoordiger het.”

Dawie Scholtz is ʼn onafhanklike verkiesingsontleder en sê dit is “onmoontlik” om ʼn stem te mors.

“Die DA gebruik hierdie idee van gemorste stemme sodat mense nie vir kleiner partye stem nie, maar dis nie die waarheid nie – al is dit maar hoe die politiek werk.”

Hy sê slegs stemme vir onafhanklike kandidate wat uiteindelik glad nie ʼn setel wen nie, word buite rekening gelaat. Dieselfde geld vir bedorwe stemme.

Alle stemme vir kandidate verbonde aan politieke partye – dus nie onafhanklikes nie – word in ʼn poel bymekaargetel (selfs al wen die kandidaat nie) en dié persentasie word in die berekening gebruik oor hoeveel setels ʼn party eindelik kry.

“Stem vir wie jy wil, want elke liewe stem tel.”

Scholtz sê omdat daar vanjaar moontlik ʼn kleiner stemopkoms gaan wees, is dit juis belangrik dat mense stem. Opkoms gaan van kardinale belang wees, sê hy, veral omdat ontnugterde lede van die regerende party moontlik hul stemme gaan weerhou.

“Baie mense is gefrustreerd, veral in die ANC, en daarom is ander stemme belangrik.”

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, meen ook dat ʼn kieser wat sy stem uitbring, nie sy stem kan “mors” nie.

“Ek dink jy kan wel in sekere omstandighede met tye jou stem beter strategies laat geld.”

Duvenhage verduidelik dat ʼn verdeling van stemme kan beteken dat ʼn kandidaat wat jy glad nie op jou munisipale raad wou sien nie, as die meerderheidskandidaat na vore kom.

“In daardie sin is ʼn strategiese stem baie belangrik en mense moet die saak met ʼn oop gemoed benader.”

Duvenhage sê as gewerk word met die veronderstelling dat die ANC byvoorbeeld 40% van die stemme op hom verenig, word die oorblywende 60% tussen verskeie ander partye verdeel.

“As jy dan vir kleiner partye stem, gaan jy eintlik die kans van jou groot opponent, kom ons sê dit is die ANC, in hierdie geval versterk, terwyl ʼn konsolidasie van stemme op een kandidaat sou kon meebring dat jy dalk ʼn [ander] kandidaat geplaas sou kon kry.

“Aan die proporsionele kant is die gewoon gelyk beregtiging; daar word die getal stemme verwerk tot lede en elke stem tel 100%, nes in die nasionale en provinsiale verkiesing.

“Om altyd te weet wáár om strategies te stem, daar lê die uitdaging.”

Kleiner partye vaar dalk beter 

Ná die 2016-verkiesing is tipies minderheidsregerings gevorm, soos in Tshwane, Johannesburg en Nelson Mandelabaai, waar partye saamgewerk het om ʼn koalisie te vorm, maar steeds in die minderheid was. Dít het bygedra tot die voortgesette onstabiliteit.

Kenners meen na afloop van vanjaar se verkiesing sal meerderheidskoalisies dalk gevorm word, waar ʼn veelheid van partye saamwerk om die meerderheid te vorm. Kiesers sal dus mooi moet dink watter partye deel van dié meerderheid kan vorm.

“Dít moet in gedagte gehou word wanneer jy oorweeg of jy dalk jou stem gaan mors of nie,” sê Kok.

Duvenhage meen kleiner partye met ʼn sterk identiteit- of nisbasis, kan in die komende verkiesing beter presteer omdat hulle ʼn beter vermoë het om hul kiesers te mobiliseer.

Kok stem saam dat kleiner nispartye dalk meer stemme op hulle kan verenig, maar meen ook partye met sogenaamde middelklassteun – mense wat dit as hul burgerlike plig beskou om te gaan stem en die vermoë het om by die stembus uit te kom – sekere tradisioneel groter partye kan bevoordeel.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê groeiende apatie om te stem maak elke stem selfs meer werd. “Daar is ʼn groter uitwerking wat elke mens se stem kan hê.”

Mostert sê AfriForum as burgerregteorganisasie werk ook om stemreg te beskerm.

“Ons moet mense mobiliseer om deel te neem, want die moontlikheid bestaan dat jy die samestelling van die raad só kan beïnvloed dat daar ʼn ander soort samewerkingskoalisie binne die raad kan plaasvind.”

Mostert sê die talle kleiner partye en onafhanklike kandidate wat aan die plaaslike verkiesing deelneem, dui op ʼn neiging dat mense op grondvlak afstand wil doen van groter partye en ʼn werklike fokus op dienslewering wil sien.

Volgens hom het die regerende party sy fokus op ʼn diensleweringsdoelwit verloor, maar dat die plaaslike verkiesing juis oor kwessies op voetsoolvlak handel.

“Mense moet deelneem aan die munisipale verkiesing, maar ons weet ook binne die politieke konteks is daar ander remedies om juis die lewering van dienste te beïnvloed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Corne123

Om vir die DA te stem is n stem mors hule praat net blafende honde met hewn byt

Frik

VF Plus gaan almal verras en uitstekend doen.
DA is op die afdraande pad en probeer nou alles om stemme te kry.
Elke verkiesing het DA dieselfde ou stories en mense glo niks meer wat hul verkondig nie.
Elke stem tel en geen stem word vermors nie.
Gaan stem dus en moenie mislei word deur allerhande propaganda nie.
Staan op en stem VF Plus!

Baardman

Hierdie artikel moes lankal en meer gereeld geplaas gewees het.

Frikkie

Stem wys en stem DA. Om vir die VF+ te stem is om papier te mors

CarlaO

Dankie vir ‘n uitstekende berig, Maroela Media! Mense – gaan stem met jou hart. Stem waarvoor jy werklik glo. Jou stem WORD NIE GEMORS NIE!