Géén sterfte in SA al met entstof verbind – Sahpra

(Argieffoto: Ted S. Warren/AP)

Geen sterftes in Suid-Afrika kan nog direk met die entstof teen Covid-19 verbind word nie.

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) het sy ondersoek na 32 sterftes afgehandel en bevind dat 30 van die sterftes bloot toevallig was en nié verband hou met die entstof nie.

Daar kon egter weens onvoldoende bewyse nie klinkklare bevindings oor die oorblywende twee sterfgevalle gemaak word nie.

Sahpra het Woensdag die portefeuljekomitee oor gesondheid op die hoogte gebring van onder meer die doeltreffendheid van die entstof teen Covid-19.

“Ek het geen gevalle opgemerk van mense wat dood is omdat hulle Covid-19 onder lede gehad het toe hulle die entstof ontvang het nie,” het prof. Helen Rees, raadsvoorsitter van Sahpra, gesê in antwoord op ’n vraag rakende die veiligheid van die entstof.

“Jy kan wel newe-effekte hê, aangesien die immuunstelsel versterk kan word as jy ’n Covid-19-entstof kry wanneer jy besmet is. Daar is geen verslae wat daarop dui dat mense van die entstof doodgaan nie. Ons is bekommerd oor newe-effekte indien mense reeds Covid-19 onder lede het wanneer hulle die entstof kry.”

Rees het wel gedurende die inligtingsessie toegegee dat geen entstof noodwendig 100% doeltreffend is nie.

“Entstowwe wat 100% doeltreffend is, is redelik skaars. Net so is die Covid-19-entstowwe nie 100% doeltreffend nie. As sodanig sal die verskillende entstowwe waarna ons kyk dus verskillende vlakke van doeltreffendheid hê.”

Rees het voorts gesê mutasies van die koronavirus is steeds kommerwekkend. Net sowat 2% van mense wat sedert Mei positief getoets het vir Covid-19, het die sogenaamde C.1.2-variant opgedoen, hoewel dié nuwe variant reeds in agt van die nege provinsies opgemerk is.

“Ons het gesien dat hierdie variant meer oordraagbaar kan wees of ons immuunstelsel beter kan ontwyk deur ons immuunrespons te weerstaan. Ons hou dit fyn dop.”

Inenting eersdaags verpligtend by Discovery

Discovery het intussen bekend gemaak dat sy werknemers van begin volgende jaar af verplig sal word om die inenting te kry.

MyBroadband berig Discovery sal wel eers deur ʼn beraadslagingsproses probeer vasstel of werknemers wat nie ingeënt wil word nie, in ag geneem kan word.

Indien daar geen manier is om die werknemer (of werknemers) in ag te neem nie en daar geen gronde is vir die betrokke werknemer om die entstof van die hand te wys nie, sal aflegging oorweeg word.

Discovery het tans 12 950 werknemers in al sy gesondheidsorg-, finansiële en bankondernemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.