Geen teken van vrede in Vuwani

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Beskadigde skoolgeboue in Vuwani, Limpopo (Mei 2016) (Foto: ANA)

Geweld het weer Donderdag in Vuwani in Limpopo opgevlam ondanks ʼn vredesooreenkoms wat tussen die gemeenskap en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake onderteken is.

Mmbangiseni Masia, ʼn tradisionele hoofman in die gemeenskap, het gesê inwoners is steeds nie gelukkig met die vredesooreenkoms nie, omdat hulle “die proses waarby ons betrokke is nie vertrou nie”.

Die regering het ʼn vredesooreenkoms met inwoners aangegaan om te verseker dat Woensdag se munisipale verkiesing in die gebied vreedsaam verloop. Nadat die ooreenkoms Donderdag onderteken is, het gemeenskapsleiers hulle egter daarvan gedistansieer en gesê hulle sal steeds nie aan die verkiesing deelneem nie.

Die Vuwani-distrik, sowat 170 km noordoos van Polokwane, loop sedert April gereeld onder gewelddadige betogings deur. Die geweld het oorspronklik gespruit uit ʼn besluit deur die Munisipale Afbakeningsraad (MDB) dat Vuwani voortaan by die nuwe Malamulele-munisipaliteit ingesluit sal word. Meer as 24 skole is einde April in die gebied deur betogers aan die brand gesteek.

Masia het gesê inwoners sal eers die vredesooreenkoms vertrou as hul eis om nie deel van die nuwe munisipaliteit te vorm nie, toegestaan word. Donderdag moes die polisie weer rubberkoeëls en traangas afvuur om betogers, wat probeer het om paaie na die gebied af te sper, uitmekaar te jaag.

Des van Rooyen, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die vredesooreenkoms kort ná die ondertekening as die uitkoms van “voortdurende dialoog tussen onderskeie rolspelers” beskryf.

“Die ondertekening van die ooreenkoms vandag is ʼn simboliese gebaar van die rolspelers om die land te laat weet dat ons toegewyd is om oplossings vir alle kwessies te vind,” het Van Rooyen gesê.

“Die toewyding en besluit om die situasie te normaliseer is prysenswaardig en spreek boekdele oor die handhawing van die waardes in ons Grondwet wat die hoogste simbool van ons eenheid verskans,” het hy gesê.

Intussen het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, sy aanklop-tuisbesoeke in Vuwani Woensdag op die laaste nippertjie gekanselleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johanna Botha ·

Sal hulle tog nou ooit teverede kan wees …gee nog en nog ..en nog

Popeye ·

Mantashe het bangbroek geraak op die laaste nippertjie…ha ha…ANC veroorsaak hierdie tipe probleme wat hulle self nie van weet hoe om hulle eie gemors op te ruim nie. Pateties.

Veritas ·

Ek neem hierdie beswaarde belastingbetalers gladnie kwalik nie. Hulle is sekerlik daarop geregtig om te eis dat hul belastinggeld reg aangewend word. Ek neem aan hul belastings is op datum anders sou dié welopgevoede burgers mos nie so tekere gaan nie.

Adriaan ·

Hierdie probleem kom al vir baie jare. Dit is ‘n konflik tussen twee volke, die Vendas en die Tsongas / Shangaans. In die verlede het hulle onder twee verskillende tuisland regerings geval nl. Venda en Gazankulu. Hulle kon toe al nie met mekaar oor die weg kom nie. Die probleem was net minder omdat hulle nie onder een owerheidsliggaam geval het nie. Niemand wil of mag dit erken dat dit te wydte is aan etniese verskille nie, omdat dit nie tans polities “aanvaarbaar” is om etnisieteit as rede te mag gebruik nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.