Geen teken van Zuma by veldtogbekendstelling

Susan Shabangu, minister van vroue in die presidensie. Foto: ANA

Pres. Jacob Zuma het nie Saterdag soos verwag is by die bekendstelling van die jaarlikse 16 dae van aktivisme-veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth opgedaag nie.

Zuma was veronderstel om die geleentheid wat om 10:00 sou begin toe te spreek, maar ʼn verklaring is later deur die presidensie uitgereik om aan te dui die president sal deur Susan Shabangu, minister van vroue in die presidensie, verteenwoordig word. Daar is geen rede gegee vir die verandering nie.

Phumulo Masualle, die Oos-Kaapse premier, het aan mense teenwoordig vertel Zuma het nie die geleentheid bygewoon nie, want “dit was nie op skedule nie”.

“Ons het verwag dat die president saam met ons sou wees, maar ons het ook ʼn rol gespeel om die teleurstelling te veroorsaak weens ons onvermoë om by die tyd te hou. Die president het ʼn vol skedule van ander verpligtinge. Hy was gereed om van 09:00 by ons aan te sluit sodat hy ons om 10:00 kan toespreek, maar ons was laat en dit kon sy skedule ontwrig het,” het Masualle gesê.

Zuma moes glo met ʼn afvaardiging van Angola vergader en moes ook betrokke wees by gesprekke oor die veranderinge in Zimbabwe.

Sommige mense wat die verrigtinge bygewoon het, het hul teleurstelling uitgespreek en gesê hulle het uitgesien “om Zuma te groet”. Ander het aangevoer die ware rede waarom Zuma nie opgedaag het nie, is die swak bywoning van die verrigtinge. Sommige mense het ook van die geleentheid gebruik te maak om T-hemde uit te deel wat Nkosazana Dlamini-Zuma as presidensiële kandidaat vir die ANC ondersteun.

Min mense het die bekendstelling van die jaarlikse 16 dae van aktivisme-veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders bygewoon. Foto: ANA

Nancy Sihlayi, Oos-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het die vervoer van mense van ouetehuise en kinders uit verskeie gemeenskappe gekoördineer. Teen die tyd dat die geleentheid begin het, was die onderste deel van die saal amper vol.

Vanjaar is die 19de herdenking van die jaarlikse 16 dae van aktivisme-veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika. Die veldtog se fokus is om bewusmaking te kweek oor die negatiewe impak wat geweld teen vroue en kinders op die samelewing as geheel het.

Shabangu het in haar toespraak die polisie en die regbank geloof vir die rol wat hulle speel in die stryd teen geweld teen vroue en kinders. Sy het verwys na die hooggeregshof se skuldigbevinding van Christopher Panayiotou vir sy aandeel in die moord van sy vrou, Jayde.

Panayiotou is Vrydag tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel Strydom ·

Veldtog lankal deur Politisi geskaak en antwoord nie meer in sy doel nie. Geld kan eerder aangewend word vir beskerming en berading van slagoffers.

SjN ·

Zuma kon nie besluit watter een van sy klomp vrouens moes hom vergesel nie, toe bly hy weg om Afrika redes.

Johann Marx ·

Net in Afrika: Minister van Vroue. Minister van Ou Brood. Minister van Reptiel Breine. Minister van Ongewone Verskynsels. Minister van Vuil Gedagtes. Minister van Hase en Konyne. Waar kom hierdie mense aan hierdie poste? O ja….en hierdie is NIE ‘n minister nie, né? Sy is ‘n vrou. Misister….

JdV ·

Hi MM, in die voorlaaste paragraaf is ‘n “toespreek” wat eerder “toespraak” moet wees.

Mariné Lourens ·

Dagsê JdV

Dankie vir jou valkoog! Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Oom Piet ·

Sitplekke meestal leeg. 16 dae te lank, oorbodig en boring.

Adam ·

Miskien was Zuma te skaam om dit by te woon maar ek twyfel want hy is te dikvellig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.