Geen teken verder van rondloperluiperd

Argieffoto van ‘n luiperd (Foto: SANParke)

Veldwagters in die Krugerwildtuin probeer om ʼn luiperd op te spoor wat vandeesweek in die Berg-en-Dal-ruskamp gewaar is.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, het gesê personeel en gaste by die ruskamp het luiperds deur die week in die kamp opgemerk. “Die bestuur maan gaste om versigtig te wees wanneer hulle in die ruskampe rondloop, om moontlike konfrontasie met die diere of besering te voorkom,” het hy gesê.

“ʼn Jong luiperd het vermoedelik ʼn bosbok Woensdagaand naby die kampeerterrein aangeval. Veldwagters was vroeg die volgende oggend op sy spoor, maar kon geen teken vind van die kat nie.

“ʼn Volwasse luiperd is net buite die heining opgemerk en het dieselfde kamp bly sirkel asof hy op iets se spoor is. Ons het ook deur sosiale media ʼn berig ontvang van ʼn toeris dat ʼn luiperdwyfie in ʼn boom op die S110-grondpad opgemerk is. Dieselfde toeris het later ʼn jong luiperd sien hardloop in die rigting van Berg-en-Dal asof hy gejaag word.”

Argieffoto van ‘n luiperd (Foto: SANParke)

ʼn Kameralokval is Vrydagaand opgestel en beeldmateriaal word nagegaan. “Veldwagters is op soek na ʼn vars spoor van die luiperd.” Daar was teen Saterdagmiddag egter nog geen teken van die luiperd nie.

Volgens Phaahla het die luiperd vermoedelik reeds die ruskamp verlaat. “Ons versoek steeds dat toeriste waaksaam sal wees en dit dadelik aan te meld indien hulle die luiperd gewaar.”

Hy het bygevoeg luiperds is baie gebiedsgebonde en die moontlikheid bestaan dat die luiperds in ʼn stryd om gebied betrokke is. “Veldwagters bly waaksaam omdat enige wilde diere in en rondom plekke waar mense bly, gevaarlik kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.