Geen toegang hier, want dié skool val uitmekaar

Duiwe, rotte en insekte floreer, terwyl die vensters en plafonne stukkend bly. (Foto: Mkhuseli Sizani/GroundUp)

Deur Mkhuseli Sizani, GroundUp

Die Menseregtekommissie (MRK) het die Oos-Kaapse departement van onderwys gelooi oor sy versuim om vervalle klaskamers by die Arcadia Secondary School in Gqeberha (Port Elizabeth) te herstel.

Christian Martin, ʼn toesighouer van die MRK, het die skool Woensdag besoek en opdrag gegee dat 13 van die 27 klaskamers afgesper word om toegang te beperk. Martin het amptenare van die skool en die beheerliggaam ook gewaarsku dat hy die probleem by die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gaan aanmeld sodat sy kan ingryp voor enige leerders beseer word.

Die MRK en die beheerliggaam het reeds verskeie pogings aangewend om die situasie by die skool onder die provinsiale onderwysdepartement se aandag te bring.

Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het die skool in Mei 2019 besoek en toe al beloof dat die vervalle klaskamers herstel sal word. Daarvan het nog niks gekom nie. Die provinsiale onderwysdepartement sê egter planne vir die skool is in ʼn “gevorderde stadium”.

Die skool is in 1974 met voorafvervaardigde eenhede gebou as ʼn tydelike maatreël om leerders te huisves tot geld beskikbaar was om ʼn nuwe, behoorlike skool te bou. Ten spyte van pleidooie aan die departement, word ʼn gedeelte van die skool nou as onveilig vir personeel en leerders beskou.

Duiwe, rotte en insekte floreer, terwyl die vensters en plafonne stukkend bly. Talle van die koperpype, elektriese kabels en ander hulpbronne soos rekenaars is gesteel of beskadig.

Christian Martin, ʼn toesighouer van die MRK, het die skool Woensdag besoek en opdrag gegee dat 13 van die 27 klaskamers afgesper word om toegang te beperk. (Foto: Mkhuseli Sizani/GroundUp)

“Die klaskamers is ʼn gevaar vir leerders. Die provinsiale departement van onderwys en premier Oscar Mabuyane het versuim om die skool te herbou. Geen onderrig of leer kan hier plaasvind nie,” sê Martin.

Die MRK gaan Motshekga nou vra om die skool te sloop en te herbou. “Indien sy versuim om dit te doen, gaan ons seker maak sy is aanspreeklik vir enige skade wat leerders ly,” sê hy.

Daniel Oliphant is die voorsitter van die skool se beheerliggaam. Hy sê hulle het al hoeveel keer oor die afgelope vyf jaar onsuksesvol probeer om die departement so ver te kry om die opgraderingswerk te doen. Die skool loop deur onder vandale en selfs meer infrastruktuur is in die afgelope skoolvakansie geplunder.

Die sluiting van die 13 klaskamers gaan boonop oorvol klasse tot gevolg hê en gaan dit selfs moeiliker maak om aan Covid-19-regulasies te voldoen, sê Oliphant.

Malibongwe Mtima, woordvoerder van die departement van onderwys, sê die skool is op ʼn herstelprogram vir tussentydse opknappingswerk.

Die volgende stap is om ʼn advertensie te plaas vir ʼn maatskappy om die herstelwerk te kom doen.

“Ons hanteer dit as ʼn noodgeval en doen ʼn beroep op mense om geduldig te wees.”

Die departement het geen tydraamwerk vir die herstelwerk gegee nie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Al wat hier in n gevorderde stadium is, is die verval van die skool. Soos alles in ons land kan ANC net verwoes. Hulle besit nie die vermoë om op te bou nie.

Pieter

Stem weer vir die sleg anc mense het nie ore nie.

Willempie

Ja, een van die dae gaan dieselfde geld vir Suid-Afrika. ” Geen toegang hier, want die land val uitmekaar”

anniekiewiet

Ha ha… andy en oscar se familie se kinders gaan nie daar skool nie.

Johann

Hoekom sal die ongeskoolde massas skool? Pas die anargie ANC soos ‘n handskoen!