“Geen toneellesse vir Oscar,” sê familie

Pistorius huil in die hof terwyl daar getuig word oor boodskappe wat tussen hom en Steenkamp gestuur is. Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Pistorius huil in die hof toe daar getuig is oor boodskappe wat tussen hom en Steenkamp gestuur is. Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Oscar Pistorius se familiewoordvoerder het Maandag ten sterkste ontken dat hy toneelspelklasse ter voorbereiding vir sy moordverhoor geneem het.

Jani Allan, ʼn voormalige skinderrubriekskrywer wat in 2001 na Amerika emigreer het, het onlangs in ʼn blog-inskrywing beweer die Paralimpiese gouemedalje-wenner het toneelspellesse geneem voor die verhoor.

“Ons ontken die inhoud van haar skrywe ten sterkste, en verwerp verder enige bewerings dat ons kliënt enige vorm van emosionele afrigting ondergaan het,” het Anneliese Burgess, die familie se woordvoerder, gesê. “Hierdie tipe opmerkings maak ʼn bespotting van die ingrypende menslike tragedie wat hom tans afspeel in die lewe van die Steenkamp- en Pistorius-families.”

Volgens Burgess het Allan nog nooit vir Pistorius ontmoet nie en is enige kennis wat sy oor hom het, “fiktief”.

“Haar bewering dat mnr. Pistorius “toneelspellesse geneem het”, is ontbloot van alle waarheid.”

Allan het veral bekendheid vir haar skryfwerk verwerf tydens haar omstrede verhouding met wyle Eugene Terreblanche. In haar blog-inskrywing tref sy ook vergelykings tussen Terreblanche en Pistorius. Klik hier om haar brief te lees.

Pistorius se verhoor hervat weer op 5 Mei in die Pretoriase hooggeregshof.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.