Geen Twee Oseane-marathon vir 2021

(Foto: Twee Oseane-marathon/Facebook)

Die organiseerders van die Twee Oseane-marathon het Donderdag bevestig dat die byeenkoms vir 2021 gekanselleer is.

“Ons het onder koronavirusvlak 3 van die Rampbestuurwet voortgegaan met beplanning vir die Twee Oseane-marathon 2021 in verskillende formate en verminderde getalle volgens die beste praktyk wat die veiligheid van ons deelnemers sou verseker,” het die organiseerders in ʼn verklaring gesê. “Ons was deurlopend in gesprek met ons aandeelhouers, Atletiek Suid-Afrika (ASA) en Westelike Provinsie Atletiek (WPA), en ons mediese span om die beste pad vorentoe te bepaal. Gelei deur advies van die mediese span en die hoof- mediese beampte van die Twee Oseane-marathon, dr. Adrian Rotunno, is ons egter jammer om aan te kondig dat die Twee Oseane-marathon, wat op 3 April 2021 sou plaasvind, gekanselleer moet word.”

Rotunno het bygevoeg die tweede vlaag infeksies raak ʼn groter deel van die bevolking as die eerste golf en dit plaas ʼn geweldige druk op die gesondheidsorgstelsel. “Die moontlike risiko van ʼn derde golf in die volgende paar maande kan nie uitgesluit word nie. Die gesondheid en veiligheid van alle deelnemers, aandeelhouers en die hardloopgemeenskap geniet die grootste prioriteit en gegewe die huidige pandemie-klimaat is die gesondheidsrisiko’s vir ʼn massa-byeenkoms net te groot,” het hy gesê.

Volgens die organiseerders is die besluit, om die byeenkoms na die tweede helfte van die jaar te skuif, noukeurig oorweeg, maar dit is bloot nie lewensvatbaar nie, gegewe die algemene onsekerheid oor ʼn moontlike derde of vierde golf van die pandemie en ʼn kalender wat reeds tydens dié periode byna tjokkenblok is.

Die byeenkoms is in Maart 2020 ook gekanselleer toe die landswye afsonderingsperiode ingestel is weens die Covid-19-pandemie.

Kaapstad-fietstoer

Die gewilde Kaapstad-fietstoer is weliswaar na ’n latere datum weens die Covid-19-pandemie uitgestel, maar dit beteken nie dat die speke steeds Maartmaand kan sing nie.

Organiseerders het bevestig dat daar intussen twee virtuele wedrenne aangebied sal word.

Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Hierdie nuwe normaal lyk nie baie lekker nie: min sportbyeenkomste en dié wat wel plaasvind is sonder toeskouers. Meestal toe teaters. Toe diskos en dansplekke. Bitter min toerisme. Gedurige dra van maskers. Dis alles goed en wel om die Coronavirus te keer, maar ek kry al hoe meer die indruk dat al dié dinge wat nie meer plaasvind nie, ‘n permanente stand van sake gaan wees. So dis hoe die lewe nou gaan lyk; vir dekades om te kom. Dan gaan die lewe maar baie boring wees. Selfs in onderdrukkende eg Kommunistiese lande was baie van dié plesiere wat nou so verbied word, heel normaal.

Mudguard ·

Aggeneeeee !!!!!! Wil jy vir my sè ek het die hele week verniet geoefen ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.