Geen tyding van SA’ners in Ekwatoriaal Guinee-tronk  

Frik Potgieter word tans in Ekwatoriaal-Guinee aangehou. (Foto: Verskaf)

Dit is nou al byna drie weke sedert twee Suid-Afrikaanse ingenieurs op 9 Februarie in Ekwatoriaal-Guinee in Wes-Afrika in hegtenis geneem is, met geen verdere kommunikasie aan hul geliefdes nie.

Volgens inligting wat aan Frik Potgieter (53) van George en sy kollega Peter Huxham (55) van Langebaan se gesinne deurgegee is, word hulle op aanklag van dwelmsmokkelary aangehou, hoewel dit onduidelik is of hulle al formeel van enige misdryf aangekla is.

ʼn Woordvoerder van die Potgieter-gesin sê die beskuldigings is loutere onsin en dat nie Potgieter of Huxham al ooit by dwelmsmokkelary of -misbruik betrokke was nie.

Internasionale media berig die klag hou glo verband met ʼn besending kokaïen wat op ʼn internasionale vlug van Singapoer na Ekwatoriaal-Guinee gevind is. Nie een van die mans was egter op hierdie vlug nie, en hulle het boonop nie op dieselfde dag geland nie. Dit is ook nie die roete waarlangs die mans gereis het nie.

Potgieter en Huxham werk vir dieselfde Nederlandse gasmaatskappy en reis dikwels na ander lande.

‘Hel’ vir gesinne

“Hul gesinne gaan deur hel. Wat hul welstand betref, weet ons wragtigwaar nie eens hoe dit met hulle gaan en of hulle oukei is nie. Ons het nie veel inligting wat ons kan oordra nie,” het die woordvoerder gesê.

“Die maatskappy waarvoor hulle werk het reeds prokureurs daar aangestel, maar ook dié prokureurs kry uiters beperkte inligting. Ons is met Dirco [die departement van internasionale betrekkinge en samewerking] in verbinding, maar daar is nog geen nuwe inligting nie. Dit gaan maar stadig.”

Huxham en Potgieter was sowat ʼn maand in Ekwatoriaal-Guinee en sou die dag ná hul inghegtenisneming na Suid-Afrika terugkeer. Hulle is op verskillende tye by die Anda China-hotel in Malabo in hegtenis geneem waar hulle die aand voor hul vlug sou oornag.

Huxham het op die dag van die inhegtenisneming twee kort oproepe na sy lewensmaat gemaak, maar Potgieter het na bewering nog glad nie die geleentheid gehad om met sy gesin in verbinding te tree nie.

Peter Huxham word tans in Ekwatoriaal-Guinee aangehou. (Foto: Verskaf)

“Hy het my van die hotel af gebel en gesê hulle wil hom vir ondervraging inneem op een of ander dwelmverwante klag, maar dat hy nie weet wat nie,” het Huxham se lewensmaat Maandag aan Maroela Media gesê. Die name van die woordvoerder en lewensmaat word op versoek nie genoem nie.

“Dit was 22:53 toe hy my weer gebel het; ek dink dit was by die polisiestasie of aanhoudingselle, en hy het baie bang geklink. Hy het gesê ‘ek weet nie of ek jou weer gaan sien nie’. Toe het sy foon afgegaan. Niemand kan slaap nie,” het sy bewoë vertel.

Nadat hulle van die aanhoudingselle geskuif is, het niemand in Suid-Afrika weer van een van die twee mans gehoor nie.

Huxham se lewensmaat sê sy wens hulle kon net hul geliefdes se stemme hoor om te weet hulle is “oukei”.  Sy glo egter dat die Here Huxham veilig aan haar sal terugbesorg, al weet sy dat dit dalk nog geruime tyd kan duur.

Huxham sou net betyds teruggewees het om haar verjaardag Maandag te vier.

Vrae oor werklike rede vir aanhouding

Die Potgieters se woordvoerder meen as hulle net geweet het waarvoor Potgieter en Huxham werklik aangehou word en hoe dit met hulle gaan, sou dinge reeds draagliker gewees het.

Hy sê voorts bespiegelings dat Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident, Teodoro Nguema Obiang Mangue, sy luukse superseiljag wou gebruik om vir die mans se vrylating te onderhandel, is geensins deur betroubare bronne of aan die gesinne bevestig nie, en dat dit in dié stadium blote mediasbespiegeling is.

Maroela Media het vroeër berig dat Suid-Afrikaanse owerhede op 7 Februarie beslag gelê het op twee huise en ʼn superseiljag wat aan Mangue behoort nadat ʼn Suid-Afrikaanse sakeman hom gedagvaar het vir onwettige inhegtenisneming en marteling.

Daniel Janse van Rensburg is 491 dae lank onwettig in ʼn berugte tronk in Ekwatoriaal-Guinee aangehou én gemartel nadat ʼn saketransaksie in 2013 skeefgeloop het. Huxham en Potgieter is drie dae ná die beslagleggings in hegtenis geneem.

Daar was sprake dat die kollegas, nes Janse van Rensburg destyds, in die berugte Black Beach-gevangenis aangehou word, maar na verneem word is die mans tans glo in ʼn aanhoudingsfasiliteit in Mongomo.

Sover die gesinne weet is die mans goed behandel nadat hulle aanvanklik in hegtenis geneem is – inligting wat deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking aan die onderskeie gesinne oorgedra is. Hoe dit nou met hulle gaan en wat presies die stand van sake is, is egter ʼn raaisel.

Die woordvoerder sê die twee mans ken mekaar nie baie goed nie en dat hulle in verskillende afdelings van die maatskappy werk. Albei werk al sowat 14 jaar vir die maatskappy.

Maroela Media het ʼn navraag na Dirco gestuur, maar nog geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Blikkies ·

Arme ouens. Ek hoop net die SA Regering roer hulle om die manne uit te kry.

TruthDealer ·

Ken jy die 2 manne, George? Want jy klink oortuig van jou saak.

Stofdonkie ·

Hulle speel nog eers bietjie SWAT speletjies by die arabiere, hulle kan nie nou aandag gee aan mense red nie

Jaco ·

So lyk regstellende aksie. Kry seker nie werk in dié simpel anti-wit SA nie en trotseer dus maar die uitdagings van buitelandse werk. Plus hulle “verkeerde” velkleur beteken Dirco sal ook nie help nie.

Stofdonkie ·

Jy ken klaarblyklik nie die korrupsie van afrika-lande nie. Die betrokke land se adjunk-president het die “crime” gedoen en nou hou hy die twee mans om sy seiljag terug te kry

Stephen ·

Their arrest is clearly in retaliation for the seisure of the Vice President property in South Africa.

Stephen ·

By the way, do not expect DIRCO to help out. It is another ANC failure and they care nothing. Especially when you are white.

George ·

Kerels, kyk Banged Up Abroad voor julle sulke onwettighede aanpak.

quartus ·

Duidelik moet ons ouens met die ligter velle wegbly uit donker afrika

ES ·

Nee wat, die res van Afrika sal my nie ooit sien nie. Daardie manne word geensins regverdig behandel nie. Daardie land is bekend vir skending van menseregte en hulle het ‘n verouderde, korrupte regstelsel.

Stofdonkie ·

O gits, as die twee mans aangewese is op die hulp van DIRCO dan gaan hulle nog lank wag vir hulp. Die minister kon in ‘n vorige portefeulje nie eers skole se boeke laat aflewer nie, nou moet sy onderhandel om die mans uit te kry?

Marcello ·

Dit is so duidelik soos daglig dat die mans aangehou word omdat daar beslag gelê is op Mangue se seiljag……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.