Geen uitkomkans meer vir ANC oor kaderontplooiings­dokumente

grondwethof

Foto: Gnatj.com

Die ANC se poging om te keer dat hy alle dokumente met betrekking tot kaderontplooiing aan die DA moet oorhandig, het weereens klaaglik misluk.

Die Konstitusionele Hof het Maandag teen die ANC se aansoek beslis om ʼn bevel deur ʼn laer hof opsy te sit. Dit beteken die ANC is nou verplig om alle vergaderingsnotules, WhatsApp-gesprekke, e-posse, CV’s én ander relevante dokumente van sy kaderontplooiingskomitee aan die DA te oorhandig. Dié dokumente, waarvan sommige tot langer as ʼn dekade gelede terugdateer, moet nou binne die volgende vyf dae oorhandig word.

Die ANC het hom tot die land se hoogste hof gewend, nadat die appèlhof in September die ANC se aansoek om te appelleer teen ʼn vroeëre hofbeslissing van die hand gewys het.

Die DA-LP dr. Leon Schreiber het die uitspraak as “een van die grootste oorwinnings in Suid-Afrika se regs- en demokratiese geskiedenis” beskryf. “Die ANC moet nou die geheime openbaar wat hy skynbaar so desperaat is om weg te steek.”

Hy sê die uitspraak sal heel eerste sorg vir deursigtigheid, deur die ANC te dwing om bekend te maak hoe Ramaphosa se kaderontplooiingskomitee die fondament gelê het vir staatskaping, deur by openbare aanstellingsprosesse in te meng.

“Die saak het ook historiese waarde wat betref die deurlopende stryd teen staatskaping. Hierdie rekords sal nou eens en vir altyd onthul dat pres. Cyril Ramaphosa persoonlik by staatskaping betrokke was, in sy hoedanigheid as voorsitter van die kaderontplooiingskomitee,” sê Schreiber.

“Zondo se kommissie vir die ondersoek na staatskaping het reeds bevestig dat die ANC se kaderontplooiingskomitee ʼn deurslaggewende rol gespeel het in die masjien wat die openbare sektor gekorrupteer en laat verbrokkel het. Dit was hierdie komitee wat onwettig ingemeng en verseker het dat staatskapers aangestel word.”

Die DA wag intussen op nóg ʼn uitspraak, dié keer in die Gautengse hooggeregshof, wat kaderontplooiing ongrondwetlik moet verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre ·

…die A en C sal wel op een of ander manier, ‘n ander krisis skep , sodat dìe dokumente geen bewyswaarde gaan hê nie!

Martie Smartie ·

Dink die DA regtig die ANC gaan inkriminerende dokumente oorhandig. By die tyd is 90% mee vuur gemaak. Die ander 10% gaan die ANC goed laat lyk.

Ore ·

Sal graag wil sien wat agbare Frikkie nou gaan kwytraak. Ek kry solank my popcorn en Oros reg

Andries ·

Fantasties! Mag dit realiseer, want ons weet mos di ANC is “besonder knap” wanneer dit by hierdie soort “bvp-krieket” beslissings kom

ES ·

Al wat die dokumente gaan bevestig is dit wat ons alreeds weet…

Henker ·

Die whatsapp groepies en boodskappies is laaaankal uitgevee…

tweeling ·

Jy kan maar whatsapp groepies en boodskappies uitvee, kan opgehaal word wanneer deur die hof benodig word

Chris ·

LOL, daai dokumente is almal lankal vernietig. Dream- on ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.