Geen veilige tuiste vir hawelose honde-eienaars

Roscan Sanctum het tans 17 mense (insluitend die stigters) en 49 honde. (Foto: GroundUp)

Deur Ashraf Hendricks, GroundUp

ʼn Hond mag dalk ʼn mens se beste vriend wees, maar wanneer dit by hawelose mense se diere kom, is daar oënskynlik min simpatie. Weinig skuilings sal hawelose mense se vierpotige metgeselle verwelkom.

Nico en Amanda von Wielligh het hulleself ongeveer ʼn jaar gelede werk- en haweloos in George bevind. Omdat hulle geen heenkome gehad het nie, het hulle buite ʼn kerk met hul twee honde – Seuntjie en Tinkles – geslaap.

“Om in die koue strate te woon, was nie regverdig teenoor die honde nie. Hulle is basies ons kinders,” het Nico gesê.

En omdat hulle nie geweet het wat anders om te doen nie, het hulle besluit om eerder die honde aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te gee waarna die egpaar in ʼn hawelose nagskuiling ingetrek het.

“Dit was baie moeilik en ons wou nie hê ons honde moes ly nie,” het Amanda gesê.

Ná ’n week het die DBV die egpaar aan Roscan Sanctum – ʼn toevlugsoord vir mense met honde – voorgestel.

En dit is waar Nico en Amanda met hul twee vierpootkinders nou al langer as ʼn jaar woon.

Nico en Amanda Von Wielligh en hul twee honde Seuntjie en Tinkles (Foto: GroundUp)

Roscan Sanctum is enig in sy soort. Dié toevlugsoord is geleë in die Karoodorp Touwsrivier en kan nie juis ʼn skuiling genoem word nie.

Dit is ʼn stuk grond van 48 ha, met talle honde en plaasdiere soos skape, varke en ganse. Die grond het verskeie houthuise met beddens, asook kampe vir die diere. Daar is ook ʼn houtwerkwinkel en ʼn kweekhuis – en hulle verwys na hulleself as ʼn “selfonderhoudende, vrywillige dorpie”.

Roscan Sanctum is op ‘n plaas van 48 hektaar geleë. (Foto: GroundUp)

Almal wat op die plaas woon, kry drie maaltye per dag en het toegang tot die internet. Dit is gratis om daar te woon en daar word aan die meeste van die inwoners se behoeftes voorsien.

Die inwoners doen plaaswerk, tuinwerk, houtwerk en kook. Hulle maak seker dat al die “huistakies” gedoen word, met meer as 40 honde wat vry rondloop. Om hier te woon beteken ook dat jy een keer per dag stort en saam aan tafel sit vir ete.

“Ons probeer almal soos ons eie familie behandel,” sê Duncan Briggs, wat die toevlugsoord saam met sy vrou, Rosemary, in 2015 begin het.

Dit was aanvanklik net vir honde, maar in 2017 het die Briggs-egpaar met mense ook begin werk. Dit het gesinne met kinders, bejaardes en mense met troeteldiere ingesluit.

Van die honde op die plaas (Foto: GroundUp)

Altesame 17 mense, onder wie die stigters, asook 49 honde woon tans op die plaas.

“Daar is baie sinergie tussen gebroke mense en honde,” sê Duncan. Hy meen dat honde terapeuties en “baie goed vir mense wat verlore voel” kan wees.

Rosemary Briggs, een van die stigters van Roscan Sanctum, soen een van die meer as 40 honde wat tans op hul plaas woon. (Foto: GroundUp)

Die veilige hawe dien as ʼn soort “halfweghuis” om mense te help om weer hul voete te vind, werk te kry, of hulle weer met hul gesinne in verbinding te bring. Hulle help ook met administrasie soos die verkryging van identiteitsdokumente, bestuurslisensies en die opstel van CV’s, asook om ouer mense in ouetehuise te plaas.

Die meeste van die mense wat hier kom woon het, is deur die DBV of skuilings verwys.

“Hulle moet na ons verwys word en ons sal hulle ʼn kans gee, maar ons het reëls,” sê Duncan.

Hy sê mense wat al lank op straat woon en “gewoond” geraak het om so te leef, word nie sommer op die plaas ingeneem nie.

“Baie mense hou nie van die struktuur en dissipline hier nie. Die veilige hawe is heeltemal teen dwelm- en alkoholgebruik en dit word glad nie hier toegelaat nie.”

In die afgelope vyf jaar het meer as 200 mense op die plaas gewoon.

Roscan Sanctum is in Touwsrivier en is ‘n “selfonderhoudende, vrywillige dorpie” vir diere en mense.(Foto: GroundUp)

Die bedryfskoste van Roscan Sanctum beloop egter sowat R70 000 per maand.

Volgens Duncan is hul grootste uitgawes kos en word daar ongeveer R40 per dag per persoon hiervoor begroot.

Hulle gaan ook deur ongeveer 30 sakke hondekos per maand wat meer as R2 500 kos. “Dan is daar die ander vee wat gevoer moet word en meer as R10 000 per maand kos.”

Rosemary sê die veeartsrekeninge vir 49 honde is ook baie. “Dit kos maklik R5 000 per maand vir net die basiese dinge, soos inentings en vlooibehandelings.”

Roscan Sanctum genereer inkomste deur houtwerk, bouprojekte, voedselprodukte, skenkings en inkomste uit die nabygeleë Impangele Mountain Lodge in De Doorns. Volgens Rosemary sal hulle altyd skenkings vir kos en klere benodig.

Duncan en Rosemary Briggs (Foto: GroundUp)

James Killa bly al vir langer as 20 jaar in ʼn tent op ʼn stuk openbare grond in Constantia. Hy hou die plek netjies en skoon en kry dit reg om met skenkings van die gemeenskap en geld vir tuinwerk klaar te kom. Hy het twee honde wat saam met hom woon – Madam en Joshua.

“Ek gaan nie my honde los nie,” was sy antwoord toe hy gevra is hoekom hy nie na ʼn skuiling toe gaan nie.

“Hulle is my vriende. Ons speel saam, ons eet saam, ons slaap saam en ons bid saam.”

Killa sê die skuilings is te duur en hy stel nie belang om na ʼn plek toe te gaan waarvan hy niks weet nie. Op die ouderdom van 51 is Killa al langer as die helfte van sy lewe haweloos en het hy al op talle plekke oor die skiereiland gebly.

James Killa is haweloos en woon op ʼn veld in Constantia saam met sy twee honde Madam en Joshua. (Foto: GroundUp)

Patricia van der Ross, LUR vir gemeenskapsdienste en gesondheid in Kaapstad, sê hul skuilings is nie vir troeteldiere toegerus nie.

“Ons gedeelde ruimtes poog om alle kliënte te huisves, met inagneming van moontlike vrese of allergieë wat sommige mense vir sekere diere kan hê.”

Van der Ross meen dat troeteldiere ʼn aantal veiligheidsoorwegings in gemeenskaplike ruimtes meebring, soos angs, konflik en skade aan eiendom.

“Die stad het nie die nodige hulpbronne en infrastruktuur om mense wat op straat met troeteldiere woon voldoende te ondersteun nie,” het sy verduidelik.

Cherina Strydom, inwoner van Constantia, en ʼn paar ander inwoners, help Killa graag.

“Ons voer die honde en ons gee vir hom maandelikse kruideniersware en hy help met tuinwerk en hou die gebied skoon.”

Strydom het GroundUp genader nadat Killa ʼn kennisgewing van wetstoepassers ontvang het dat hy die grond moet verlaat.

Sy is nou hoogs bekommerd dat hy dalk gedwing gaan word om te trek en sê ʼn oplossing moet gevind word sodat hy nie van sy honde geskei word nie.

“Die feit dat hy nou al soveel jare na sy honde omsien, wys dat hy in staat is om te sorg en te versorg.”

Sy meen om die honde van hom weg te neem, sal sy lewe net vererger. “Hulle is ʼn familie,” het sy verduidelik.

Strydom sê sy verstaan die beperkings by die skuilings, maar meen “die stad moet meer doen”.

“Ons het ʼn ander oplossing nodig,” waarna sy die voorstel gemaak het om haweloses en diereskuilings met mekaar te verbind.

Strydom sê miskien kan hawelose mense vrywillig by diereskuilings werk. “Almal wat haweloos is en ʼn dier het, wys hulle kan omgee,” sê sy.

  • Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn en word met vergunning gebruik.

Meeste van die honde by Roscan Sanctum loop vrylik rond en slaap selfs in beddens by van die mense wat op die plaas woon. (Foto: GroundUp)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Charllas ·

As ek nou eerlik moet wees klink die plek naby aan die Hemel….. goeie mense om jou, omgee mense om jou en baie diere wat die wereld vol hardloop en kinders wat agter die diere aanhardloop en lag.

Leon ·

WOW! Dankie om sulke goeie nuus te kan lees, ek glo dit is ongelooflik lekker daar met so groot mense en diere familie!

Prikkie ·

Duncan & Rosemary Briggs, mag God julle (nog meer) seën – baie dankie vir julle oop hande ook vir die diere.

Ilze ·

Baie baie dankie vir mense soos julle. Ek sal my lewe gee vir my drie “rescue” hondjies.

Jeanette ·

Nog twee engele op aarde, baie dankie julle mag God julle ryklik seen.

OU SAAR ·

Hoe wonderlik.
Persoonlik dink ek daar kort nog baie meer sulke plekke oor die hele SA heen.
Dankie julle pragtige Engele. Mag God julle ryklik seen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.