Geen veldtog om ANC-president te verkies nie, sê Mbete

Baleka Mbete, ANC-voorsitter en speaker van die nasionale vergadering, tydens ‘n onderhoud met ANA (30 April 2017) Foto: Nosipiwo Manona/ANA

Baleka Mbete, ANC-voorsitter en speakter van die nasionale vergadering, het gesê daar is nie enige veldtog tans aan die gang vir die presidentskap van die ANC voor die party se verkiesingskonferensie in Desember nie.

“Daar is nie enige resies vir die leierskap in die ANC nie,” het sy in ʼn onderhoud in Port Elizabeth aan die African News Agency gesê. “Die party het dit vroeër vanjaar baie duidelik gestel dat daar geen resies, geen verkiesingsveldtog is nie. Daar word dus verwag dat ANC-kaders nie aan enige bedrywighede vir só veldtog sal deelneem nie.”

Sy het gesê dis moontlik dat persone dalk uitlatings maak in reaksie op sekere kwessies en dat hulle moontlik buite konteks aangehaal word. “Dit beteken nie hulle is besig met ʼn verkiesingsveldtog nie,” het sy gesê.

Dit het duidelik geword dat pres. Jacob Zuma se eksvrou, Nkosazana Dlamini-Zuma, sy goedkeuring geniet om hom as president van die ANC op te volg. Mbete het moontlik self ook haar oog op die pos.

Mbete wou tydens die onderhoud nie bekend maak of Dlamini-Zuma die beste vroulike kandidaat is wat die ANC het nie. “Ek is nie bereid om enige vraag te beantwoord oor enige individu wat betref die kandidaatskap nie. Wag asseblief vir ons totdat die tyd gereed is. Sodra die tyd aangebreek het, sal ons almal die kans hê om kommentaar te lewer.”

Sy wou ook nie bevestig of ontken dat sy haarself vir die ANC-presidentskap beskikbaar sal maak nie. “Moet ons nie dwing om hierdie vrae te beantwoord nie. Ons mag nie antwoord nie,” het sy gesê.

“Enigiemand wat deelneem aan ʼn verkiesingsveldtog, doen dit nie-amptelik. Dit kan beskou word dat daardie persoon doelbewus die reëls van die ANC oortree. Dit kan lei tot dissiplinêre stappe, indien dit ʼn verkiesingsveldtog is.”

Oor die welgestelde Gupta-familie het Mbete gesê: “Ek was nog nooit by Saxonwold [die Guptas se eiendom in Johannesburg] nie. Ek onthou net een van die Gupta-broers het in Luthuli House ʼn algemene uitnodiging gegee. ‘Kom kuier gerus, die ou vrou maak lekker kerrie,’ het hy gesê, maar ek was nog nooit by hulle huis nie,” het Mbete verduidelik.

Volgens haar was sy te besig met haar werk en haar gesin om by die Gupta-familie te gaan kuier. “Ek hardloop rond tussen die parlement en [die ANC-hoofkantoor] Luthuli House. My hande is vol en ek het nou ook gesinsverantwoordelikheid.”

Sy is nie bewus van enige bande tussen die Guptas en die ANC as ʼn organisasie nie. “Natuurlik is daar moontlik persoonlike vriendskappe met verskeie ANC-mense, ministers en individue. Dit beteken nie daar is formeel ʼn band met die ANC en daardie familie nie.”

Oor staatskaping en die beweerde rol van die Gupta-familie hierin, het Mbete gesê: “Dit laat die vraag ontstaan of dit die sleutelprobleem is wat ons in Suid-Afrika het. Ek dink hierdie tipe fenomeen, genaamd staatskaping, is iets wat ons die volwassenheid moet hê om te ondersoek. Ons moet kyk waar lê die probleem. Om voor te gee dat hierdie spesifieke familie die begin van ons ekonomiese probleme is, sou oneerlik wees.”

Mbete het in reaksie op ʼn vraag dat die publiek wil hê Zuma moet bedank, gesê dit is nie “onweerlegbaar” die wil van die land nie. “Hoe weet ons dat ons werklik kan sê dit is wat die land wil hê?” wou sy weet. “ʼn Paar van ons maak ʼn groot geraas en dit trek aandag, maar dit beteken nie dis ʼn landswye versoek nie. Ons het nog nie ʼn referendum gehou om te bepaal of dit is wat die land definitief wil hê nie.

“Voor dat die ANC na die beleidskonferensie gaan, sal ons ʼn konsultatiewe proses volg oor algemene kwessies wat onder ons aandag gebring is. Dit sal vir ons inligting gee oor die kwessies in sekere sektore en groepe wat die kwessie aangeroer het oor die leier van die ANC.

“2017 is ʼn baie belangrike jaar vir die ANC. Ek dink dit sal ʼn groot fout wees om die amptelike stappe te ontwrig om ʼn nuwe leierskapkollektief te verkies. Ons het met ons veterane ooreengekom dat daar twee dae van konsultasie sal wees voordat ons met die beleidskonferensie begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Rynhardt ·

Mbete is n groot Zuma-bewonderaar! Tot tyd en wyl, moet Zuma se diktatorskap beskerm word.

Antjie ·

… sê ‘n ooglopend Zuma-kader. Sou sy ‘n referendum aanvra as die mosie van wantroue slaag?

Mens sal moet begin dink hoe sy sal vasklou aan Zuma selfs teen die meerderheid-stem. En eerder begin voorbrand maak in media om dit polities tee te werk. Mag maak dronk.

Te veel gekekkel oor vanselfsprekendhede vestig te maklik aanvaarding van dinge wat nie behoorlik is nie.

Caru ·

“‘N paar van ons maak ‘n geraas” !!! Maak oop jou oë tannie daar is BAIE !

Grassie ·

Hierdie vrou laat my dink aan die ou Afrikaanse spreekwoord wat lui iemand “lieg soos ‘n tandetrekker”.

Johanna Botha ·

Ag ek wonder wie wil nog na die vrou luister sy maak mens skoon moeg nog voor sy begin praat het want ons mos nou ….

zahn ·

Nou wil ek weet, as so ‘n hooggeplaasde in die anc self die uitlating maak dat hulle nie MAG praat daaroor nie, (sien par 6), hoe demokraties is hulle dan? Jy sit ‘n ‘n hoë stoel, maar kan net sê wat vir jou voorgeskryf is? Ag nee wat, as die mense nie serlf die ironie daarin sien nie, het ek geen hoopv ir hulle nie. Ek merk op dat kaders soos kortbroek Marthinus en Pierre Uys absoluut niks te sê het nie? Uys was een van my lektore toe ek geswot het. Man was briljante lektor, maar in my opinie (nes kortbroek) net goed as hulle in die leidedende party is. As opposisie kon hulle dit net nie maak nie.

Ramkat ·

Baleka Mbeke maak haar mond oop om n papegaai na te maak.
As sy IETS se is dit die napraat van iemand anders.
Geen oorspronklike denke is nog ooit by haar waargeneem nie.
Sy sal n baie swak Prez wees, soortgelyk aan Nskosazana Dlamini Zuma

Johann Marx ·

Hoe kan sy sê daar is nog nie ‘n “referendum” gehou nie? Suid Afrika en sy konstitusie laat nie “referendums” toe nie, daarom sal daar nooit ‘n referendum gehou word oor bv die doodstraf nie. Hierdie land se grootste fout is die feit dat ons ‘n “verteenwoordigende demokrasie” het in plaas van ‘n “deelnemende demokrasie”. Landsburgers se ENIGSTE demokratiese reg is om een keer in 5 jaar te stem vir ‘n party……daardie party “verteenwoordig” jou dan, en kan maak soos hulle wil….tot met die volgende “demokratiese verkiesing”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.