Geen verbod, familievergaderings meer

Connie Mulder van Solidariteit (Foto: Solidariteit, Twitter)

Verby is die dae wat Suid-Afrikaners op ’n Sondagaand uitvind dat hulle nie meer ’n werk het om die Maandagoggend na terug te keer nie en verby is die dae wat die verkoop van drank of sigarette oornag verbied kan word.

Solidariteit het Donderdagmiddag aangekondig dat die nasionale ramptoestand Dinsdag in oorleg met minister Nkosazana Dlamini-Zuma opgehef sal word.

Dié aankondiging volg 740 dae nadat die nasionale ramptoestand op 15 Maart 2020 ingestel is en absurde regulasies soos die verbod op die verkoop van warm hoender en oop skoene gekom en gegaan het.

Solidariteit en die regering het Woensdagaand laat ooreengekom dat die ramptoestand eindelik op 5 April opgehef sal word. Dlamini-Zuma het in ʼn skrywe aan Solidariteit haar vaste voorneme in dié verband bevestig.

Die ophef van die ramptoestand beteken dat pres. Cyril Ramaphosa nie meer sy sogenaamde familievergaderings byeen sal roep nie. Dit beteken ook dat daar eindelik weer parlementêre oorsig sal wees en dat die bevelsraad nie meer Suid-Afrikaners se doen en late kan bepaal nie.

Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit. (Foto: Twitter)

“Dit beteken ook dat die swaard oor sakeondernemings se kop weg is,” het Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), Donderdagmiddag bygevoeg.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Donderdag tydens ’n mediakonferensie aan verslaggewers gesê Solidariteit kry baie met die regering te doen en weet maar al te goed dat die minister moontlik nié by haar woord gaan hou nie.

Die vakbond sal hom egter nie só maklik “laat vang” nie en sy saak teen die minister is steeds op die Pretoriase hooggeregshof se rol vir Woensdag, sou die ramptoestand nie Dinsdag beëindig word nie.

Solidariteit was ook nie tevrede met slegs ’n voorneme nie en het nou ’n regsbrief wat Dlamini-Zuma by haar woord hou. Dit beteken as sy nie die ramptoestand Dinsdag ophef nie, ’n regter dit Woensdag namens haar sal doen.

“Ons is nie naïef nie, daarom is daar ’n swaard in die ooreenkoms ingebou. Indien die ramptoestand nie Dinsdag opgehef word nie, val die swaard Woensdag,” het Hermann gesê.

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, het op sy beurt daarop gewys dat ’n ooreenkoms gesluit is. “Dit is nie bloot ’n ad hoc- skrywe deur die minister nie.”

Solidariteit het Donderdagmiddag benadruk dat die stryd nog nie verby is nie. Die vakbond sal nou sy visier op die voorgestelde gesondheid- en rampbestuurregulasies rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Mier14

Baie geluk Solidariteit en baie dankie! Ja-nee, alle moontlike kanse vir omdraai moet gestuit word.

domheks

BAIE, BAIE BAIE DANKIE!!!! Solidariteit.

Marius

Die gebroedsel kan nie vertrou word nie.

Tiptol

Moet ons wag vir die 5e of mag ons opgewonde raak? Met die anc weet mens nooit. Maar dis wonderlike nuus. Baie dankie Solidariteit!

Owlie

Dit is hopeless te maklik – wat kan ons te wagte wees, hoeveel nuwe reeks en wetgewings gaan vir die publiek gegooi word