Geen verdagtes nog vas ná Grabouw-aanvalle

(Foto: SA Polisie)

Nog nie een van die aanvallers betrokke by drie verskillende rooftogte in die omgewing van Grabouw in die Wes-Kaap, is al aangekeer nie.

Maroela Media het vroeër berig Henfré Nel is ernstig beseer nadat ʼn rower hom in die gesin se huis op ʼn plaas buite die dorp oorval het. Die aanvaller het toegang tot die huis gekry deur diefwering uit die raam te breek. Nel is verskeie kere met ʼn mes gesteek.

Die aanvaller het onder meer ʼn beursie en selfoon gebuit en ná die aanval te voet verdwyn. Hy is steeds soek.

In nóg ʼn voorval is ʼn gesin omstreeks 20:30 Sondagaand in hul huis op ʼn plaas nagenoeg 15 km buite Grabouw oorrompel, het Mihlali Majikela, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, bevestig. Drie mans het glo ʼn gat in ʼn heining gesny. Hulle was gewapen met vuurwapens en ʼn skerp voorwerp.

“Nadat hulle die slagoffers vasgebind het, het hulle geld geëis, gevra waar die kluis is en die huis deursoek. Die verdagtes het ʼn ongenoemde bedrag kontant, twee selfone en drie skootrekenaars geneem voordat hulle gevlug het,” het Majikela gesê.

Niemand is nog aangekeer nie.

In ʼn derde afsonderlike voorval is ʼn veiligheidswag omstreeks 23:00 gisteraand, óók op ʼn plaas in die Grabouw-omgewing, van sy vuurwapen, selfoon en ʼn flits beroof.

Majikela het gesê die man is op die toneel vir sy beserings behandel en die saak word ondersoek.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kola ·

Die boere sal moet verantwoordelikheid vat van die instroming, deur plaaslike mense werk te ontsê. Hul verander die Kaapse demografie en maak dit gevaarlik vir almal deur die DA en ANC te help in ethnic cleansing.
As daar weer n trokdrywer vermoor word by De Doorns, kan die boere maar skuld kry.

Miss Julia ·

Ja wat deesdae ry boere mos werkers in om die werk te kom doen wat die mense gedoen het wat op plase bly vreemdelinge wat hul nie ken word op plase toe gelaat om rond te kyk en te kyk waar die swak punte is want boere is baie gerus

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.