Geen verdere getuies in Arno Carstens-saak

Arno Carstens (L) en Milton de la Harpe Foto: SAPA

Arno Carstens (L) en Milton de la Harpe Foto: SAPA

Die musikant Arno Carstens se dronkbestuursaak is Woensdag in die Kaapstadse landdroshof uitgestel nadat sy regspan aangedui het hy gaan nie verdere getuies roep nie.

Milton de la Harpe, vir Carstens, het aan landdros Nadia Banwari gesê die verdediging sluit sy saak, aangesien die klagtes teen die sanger nie bewys is nie.

Die saak is tot 24 Julie uitgestel vir slotbetoë en moontlike uitspraak.

Carstens het onskuldig gepleit op ʼn aanklag van dronkbestuur, alternatiewelik die bestuur van ʼn voertuig met ʼn bloedalkoholvlak van 0.20%. Die wettige beperking is 0.05%. Hy is in Desember 2010 in die middestad van Kaapstad in hegtenis geneem toe ʼn verkeersbeampte glo opgemerk het dat sy swart Mercedes-Benz-motor oor die pad swenk.

De la Harpe het die staat se saak van alle hoeke af aangeval. Hy het vroeër die mate van sorg wat geneem is toe sy kliënt se bloed getrek is, bevraagteken. Hy het die verpleegster Sheila Newman se metode gekritiseer omdat sy water, in plaas van nie-alkoholiese antiseptiese vloeistof gebruik het om die vel mee skoon te maak. Hy het ook haar metode, om die bloed met natriumfluoried te meng om te verhoed dat klonte vorm, bevraagteken.

Hy het ook aangevoer daar is ʼn groot kans dat die bloedmonster besmet is deur bakterie of ander mikro-organismes.

Carstens se gedrag voor en ná sy inhegtenisneming het ook nie gestrook met ʼn persoon wat ʼn bloedalkoholvlak van 0.20% het nie. Hy het gesê Carstens sou sukkel om te praat, sukkel om te beweeg en geheueverlies hê, maar sy kliënt het glad nie dié gedrag getoon nie.

Lees ook:
Arno Carstens se dronkbestuursaak hervat
Arno Carstens: Saak duur voort
Arno Carstens se saak wéér uitgestel
Arno Carstens se bloedtoetse was glo “akkuraat”
Arno Carstens se bloedmonster bevraagteken
Arno Carstens: Onreëlmatighede in bloedtoetse
Sanger weer in hof oor dronkbestuur
Sanger se hofsaak uitgestel
Arno Carstens in hof oor “dronkbestuur”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.