Geen verklaring vir ou kremetartbome wat skielik vrek nie

sunland-kremetartboom

Die Sunland-kremetartboom in die Modjadjiskloof in Limpopo met sy bekende kroeg het in April verlede jaar ineengestort. Foto: Sunland Baobab/Facebook.

Van Afrika se oudste en grootste kremetartbome het in die afgelope 12 jaar skielik gevrek en kenners het nog nie ʼn klinkklare verklaring vir die verskynsel nie.

Kundiges vermoed nou dié bome, wat tussen 1 100 en 2 500 jaar oud is en ʼn omtrek van meer as 30 m het, is moontlik die slagoffers van klimaatsverandering.

Volgens National Geographic het nege van die 13 oudste bome in Suid-Afrika, Namibië en Zimbabwe sedert 2005 gevrek of dele van hul stamme het ineengestort. Dit sluit vyf uit ses van die grootste kremetartbome in.

ʼn Span navorsers het sestig van die oudste en grootste kremetartbome bestudeer het om dié bome se biologie beter verstaan. Hul navorsing is Maandag in die vakjoernaal Nature Plants gepubliseer.

“Die dood van die meeste van die oudste en grootste kremetartbome in Afrika die laaste 12 jaar is ongekend. Daar is ook ʼn vinnig toename in die dood van ander volwasse kremetartbome,” het die studie se mede-outeur, Adrian Patrut van die Babes-Bolyai-universiteit in Roemenië, gesê.

Patrut en sy kollegas dink nie die bome se vrektes kan toegeskryf word aan ʼn epidemie nie, maar vermoed die warmer, droëer Afrika-klimaat het dalk iets hiermee te make. Die span het opgemerk dat kremetartbome vinniger vrek in gebiede waar Afrika se klimaat nou die vinnigste verwarm.

“Dit is vreemd om te sien hoe die bome voor ons oë sterf en ons hul oorleef terwyl die bome eintlik al talle generasies van mense oorleef het,” het Patrut bygevoeg.

Die Sunland-kremetartboom in die Modjadjiskloof in Limpopo met sy bekende kroeg het in April verlede jaar ineengestort. Die kremetart van Glencoe in Hoedspruit se oudste hoofstam het in 2009 afgebreek en gevrek.

Panke, die oudste boom in Zimbabwe, was sowat 2 500 jaar oud, maar al die stamme van die boom het doodgegaan. Die boom was 15,5 m hoog en 25,5 m in omtrek.

Namibië se reus, die Grootboom van 32 m hoog is ook in 2005 dood. Die oudste boom in dié land, die Dorslandboom se twee oudste stamme het in 2006 gevrek. Die Chapman-kremetart van die Makgadikgadi in Botswana het ook skielik in 2016 gevrek.

Alhoewel baie meer navorsing nog gedoen moet word om die kremetartboomvrektes met klimaatsverandering te verbind, het ʼn vroeër studie wat in Biological Conservation verskyn het, tot die gevolgtrekking gekom dat ʼn veranderende klimaat skade aan twee van die drie bedreigde kremetartspesies in Madagaskar kan veroorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet Pompies ·

Ai, hierdie klimaatsverandering is daarem selektief…. my skoonma is al stok oud en sy leef nog ….

jean ·

Piet , jy is darem so pittig…….enige boom wat sterf is tot ons nadeel…en sulke ou manne ook nog. Dis flippen hartseer.

Elsa ·

Miskien net dood van ouderdom. 2500 is darem nie vandag se kind..

Kannaland ·

Nee, van daardie bome word baie ouer en statisties is dit merkwaardig dat die bome nou skielik in so n kort tyd teen die tempo doodgaan relatief tot hul lang ouderdom.

jennefer ·

Ons Maroela bome vrek so die laaste jare.Nylstroom Limpopo

Oom Kalahari ·

Hhhmm…..ja swaer, soms maar beter om in die stilte te woon en 3 jaar vry te spring. Laat maar toe dat die Sangomas en Thagathi chiefs hul werkies doen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.