Geen verpligte inenting, maar wel subtiele druk

Daar is tans geen wetgewing wat Covid-19-inenting verpligtend maak nie. (Foto: Michele Spatari/AFP)

Hoewel daar tans nog geen aanduiding is dat die regering inenting teen Covid-19 verpligtend wil maak nie, is daar wel aanduidings dat al hoe meer ondernemings in die private sektor die moontlikheid oorweeg.

Hewige debatte oor verpligte inenting by die werkplek woed en die minister van arbeid en indiensneming het in Junie ʼn direktief oor inenting in sekere werkplekke in die Staatskoerant geplaas. Dit bepaal dat werkgewers met billike oplossings vorendag moet kom sodat alle werkers in ag geneem kan word, sou sekere werkers weier om die Covid-19-entstof weens mediese of grondwetlike redes te ontvang.

Prof. Ames Dhai, ʼn etikus verbonde aan Wits, het vandeesweek geskryf ten spyte daarvan dat pres. Cyril Ramaphosa herhaaldelik gesê het dat niemand gedwing sal word om die entstof te neem nie, kan mense moontlik onder druk voel om dit wel te doen.

Dhai sê daar kan aangevoer word dat “bewys van ʼn Covid-19-inenting onder ʼn dekmantel, indien nie openlik nie, in die werkplek verpligtend gemaak kan word, aangesien die besluit om nie ingeënt te word nie tot werksverlies of ander bestraffingsmaatreëls kan lei”.

Sy sê ʼn balans moet egter gevind word tussen individuele regte en die openbare belang.

Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit, sê dit lyk of die regering hou by sy standpunt dat inenting nie verpligtend gemaak gaan word nie, hoewel die druk wat die pandemie op private ondernemings veroorsaak, beteken dat sommige private ondernemings moontlik ingrypende stappe kan oorweeg.

Van der Bijl benadruk dat daar geen wetgewing is wat entstof verplig nie, maar sê ʼn werkgewer moet wel ingevolge arbeidswetgewing ʼn veilige werksomgewing verseker.

“Dié verpligting kan egter nie net op ʼn werknemer afgedwing word nie,” waarsku Van der Bijl.

Volgens hom moet ʼn werkgewer ʼn ontleding doen van hoe om die werkplek te beveilig en hoe mense binne dié raamwerk tegemoet gekom kan word. Hy meen ʼn sogenaamde kombers-benadering oor verpligte entstof sal ook nie slaag nie.

Hy stem egter saam dat mense subtiele druk kan ondervind om die entstof te ontvang.

“Ek dink daar is werkgewers wat paniekerig raak en wil voortgaan met die lewe asof daar nie ʼn pandemie is nie – en baie ander mense wil dieselfde doen. Hulle wil byvoorbeeld ophou om maskers te dra,” sê Van der Bijl.

“Mense raak paniekerig en neem irrasionele besluite en wil dit dan afdwing op ander mense. Dit is ʼn individuele saak en elkeen het die reg om self te besluit en nie onbehoorlik beïnvloed te word nie.

“Hulle gun mekaar nie die ruimte om hul eie besluite te neem nie. Vryheid van keuse moet voorrang geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.