Die Universiteit van Pretoria (UP) beplan nie om inentings teen Covid-19 verpligtend te maak vir sy studente nie, ondanks die feit dat ʼn aantal universiteite landwyd reeds dié maatreël ingestel het.
Prof. Tawana Kupe, UP se visekanselier en rektor, het in ʼn brief aan studente gesê dat hulle nie ingeënt hoef te wees om toegang tot die universiteit se kampusse te verkry nie.
Hoewel studente in die gesondheidswetenskappe reeds ʼn Covid-19-inenting moes ontvang om voort te gaan met hul praktiese studies, sal UP slegs verpligte inentings instel indien hy wetlik so vereis word.
Verskeie universiteite, waaronder die Universiteit van Kaapstad (UK) en die Universiteit Stellenbosch (US) het reeds verlede jaar gesê hulle beoog om studente en personeel te verplig om ʼn bewys van inenting te lewer.
Die Universiteit van Johannesburg (UJ) en die Noordwes-Universiteit (NWU) is besig om hierdie reël te implementeer en personeel en studente sal voorts ʼn bewys van inenting moet lewer indien hulle onder meer toegang tot die universiteite se kampusse wil verkry.
Ten spyte van die UP se besluit, maan Kupe dat hierdie besluit “op kort kennisgewing”, omgekeer kan word.
“Risiko-evaluering is ʼn deurlopende proses, en daar sal moontlik van die universiteit verwag word om sy standpunt oor die saak op kort kennisgewing aan te pas om aandag te gee aan nuwe geïdentifiseerde risiko’s of om by nasionale of sektorale imperatiewe aan te pas.
“Die universiteit verwag ook dat die departement van hoër onderwys in die komende weke verdere riglyne hieroor sal uitreik.”
Studente word intussen aangemoedig om steeds teen die koronavirus ingeënt te word in ʼn poging om ernstige siekte, hospitalisering of dood te verminder.
“Diegene wat twyfel of huiwerig is oor die entstof, word aangeraai om meer inligting by mediese kundiges, insluitende personeel van ons fakulteit gesondheidswetenskappe, te kry,” het Kupe gesê.
Studente aan hierdie universiteit moet steeds maskers in openbare areas op kampus dra sodra klasse soos voor die pandemie weer op 21 Februarie gedeeltelik hervat word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Dis goeie nuus!
Nou ja toe. Ons hou vir UP dop.
Hoelank dan keer hulle alles weer om? Vir nou is dit goeie nuus.
Handeklap vir die verskynsel van gesonde rede en dat hulle nie net een van daardie universiteite is wat soos ‘n klomp beeste in ‘n drukgang agter die ander aan strompel nie!
Nou gaan Tuks uit sy nate bars!! Hoop die ander leer by julle.