Geen voorraad vir drankwinkels wat regulasies verontagsaam

(Argieffoto: Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse alkoholbedryf het aflewerings aan 44 drankwinkels in die Wes-Kaap gestaak nadat die provinsiale owerhede dié winkels se lisensies weens oortredings van afsonderingsregulasies opgeskort het.

Die alkoholbedryf het skrywes aan die onderskeie eienaars van dié drankwinkels gerig om hulle oor die besluit in te lig.

“Die alkoholbedryf het sterk standpunt hieroor ingeneem: Indien ʼn handelaar nie die regulasies nakom nie en sy lisensie verloor, is gesamentlik ooreengekom dat ons sal ophou om dienste en voorraad aan hulle te lewer,” sê Kurt Moore, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba).

Patricia Pillay, ʼn uitvoerende direkteur van die Verbruikersgoedereraad van Suid-Afrika (VGSA), sê op haar beurt die alkoholbedryf is daartoe verbind om nou saam met die regering en handelaars te werk om te verseker regulasies word nagekom.

Dié regulasies sluit in dat drankwinkels net 50% van hul kapasiteit klante sal toelaat, die dra van gesigmaskers deur kliënte en beperkte tye waartydens handel gedryf mag word. Drank mag ook nie aan ooglopend besope klante, minderjariges of swanger vroue verkoop word nie.

Drankverkope vir tuisverbruik word tans van Maandag tot Vrydag tussen 09:00 tot 17:00 toegelaat. Alkohol mag slegs op gelisensieerde plekke op die perseel gebruik word en slegs indien streng aan die aandklokreël voldoen word.

Die alkoholbedryf doen nou ’n beroep op klante om enige oortreding van die regulasies deur drankwinkels by 0800 014 856 aan te meld.

“Ons doen ʼn beroep op handelaars en verbruikers om by die afsonderingsreëls te hou en te sorg dat drankverwante aangeleenthede nie bydra tot die verspreiding van infeksies en onnodige las op die gesondheidstelsel nie,” sê Moore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hennie J ·

n Regering wat te sleg is om sy eie wetgewing af te dwing, is n regering op n mishoop.

Servaas ·

Hahahahaha rerig ? Klieënte sal hulself in die voet skiet ?

Dries ·

Imagine net daar was ‘n regulasie: Geen salaris vir staatsamptenare wat vir bedrog en korrupsie ondersoek word nie? I rest my case.

Persheks Adri ·

Ag regtig? Seker weer kopdoek se klomp se klomp snert tsek man tsek!

Ek drink nie eers nie!!!

Magsbehep dis wat hulle is en sy gaan seker WEER iets te sê hê oor ons sigarette ook… Sy’t mos lekker geld op swart mark gemaak en word steeds nie vervolg nie!!!

Zandra ·

ag as al die ou skapies uit die stoor kom en saam in die kraal slaap wie sal tog hulle aanmeld by die crime line?
plaas spandeer julle (regering) tyd en energie op dinge wat meer belangrik is soos plaasmoorde verkragtings ens

Rose ·

Hoe bepaal n drankwinkel hoeveel kliente is 50% van sy kapasiteit. Meeste vrouens kan jy nie sien is verwagtend voordat hulle hoogswanger is nie. Pleks die regering hulle tyd spandeer om die onwettige dwelmhandelaars te vang, wat kinders gebruik om hulle goed te smous. Hulle sal seker weer net die wettige handelaars teiken, want ek wil sien dat hulle n sjebien se drank gaan afvat.

Anon ·

Is die shebeens ook gesluit en die ou winkeltjies daar vanuit die gehuggies in die townships?

Bernard ·

Almal speel deesdae Polisie – soos die Stasi in die ou Oos-Duitsland

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.