Geen vooruitsigte op beurtkrag dié naweek

(Argieffoto: Mujahid Safodien/AFP)

Eskom beplan nie in dié stadium om beurtkrag oor die naweek in te stel nie.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het Vrydag tydens Eskom se vierde nuuskonferensie in soveel dae gesê die vooruitsigte vir vroeg volgende week lyk ook goed, aangesien verskeie opwekkingseenhede na verwagting binnekort weer in diens gestel sal word.

Hy het wel toegegee dat die kragvoorsiener steeds deur verskeie uitdagings in die gesig gestaar word en Suid-Afrikaners gevra om krag te bespaar.

Eskom voorspel vanaand ’n piekvraag van 27 198 MW na krag, waarvoor hy in dié stadium ’n effense tekort het. De Ruyter meen die kragvoorsiener sal egter daarvoor kan opmaak met behulp van onder meer dieselopwekkingskapasiteit.

Nóg 1 250 MW sal ook later vandag beskikbaar gestel word, wanneer verskeie kragopwekkingseenhede voor die piektyd vanaand weer in werking gestel en die las op Eskom se gasturbines aansienlik verminder sal word.

Beplande instandhouding beloop tans 6 659 MW, terwyl onbeplande instandhouding tans 5 210 MW uit die kragnetwerk haal.

De Ruyter het vanoggend op ’n vraag van ’n verslaggewer oor die moontlikheid van ’n ononderbroke inwerkingstelling van vlak 1-beurtkrag om hoër vlakke te vermy, gesê Eskom verkies om nié deurgaans beurtkrag toe te pas nie.

Dít sal “hoogs ontwrigtend” vir die ekonomie wees, meen hy.

Die uitdaging van kabeldiefstal  

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: City Power)

De Ruyter moes ook vanoggend ’n rits ander vrae beantwoord, waaronder sogenaamde sabotasie by die land se kragstasies.

Volgens De Ruyter sal dit nie feitelik korrek wees om daarop te sinspeel dat grootskaalse sabotasie by Eskom se kragstasies geskied nie. Hy het wel toegegee dat die kragvoorsiener gereelde voorvalle van kabeldiefstal beleef.

Hy bestempel die voorvalle as “algemene misdadigheid” eerder as “sabotasie”.

De Ruyter sê Eskom het onlangs sy veiligheid opgeskerp en verskeie kabeldiewe vasgetrek, veral by die Tutuka- en Kendall-kragstasie. Die opgeskerpte sekerheidsmaatreëls sluit die gebruik van hommeltuie met infrarooi-kameras saans in.

De Ruyter het weereens ’n beroep gedoen op Suid-Afrikaners om elektrisiteit spaarsamig te gebruik om beurtkrag te voorkom.

“Elke MW wat jy bespaar deur nie jou ketel te vol te kook nie, die geiser laer te stel, die swembadpomp minder te gebruik en onnodige ligte af te skakel, maak regtig ’n verskil.”

Volgens hom probeer Megawatt Park in Johannesburg self ’n voorbeeld vir Suid-Afrikaners stel deur deesdae sy lugversorging vroeër en meer gereeld af te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jeffrey ·

Ja eskom…en nou kos julle my n plaas se prys vir inverters, batterye en sonpanele want ek is sat vir julle nonsens! Moes geld bymekaar SKRAAP vir n “beginners sisteem”, maar een van die dae is ek ontslae van julle!!

Pietertjie ·

Hou goeie moed! Ek het ook daardie pad gestap, en is ná agt jaar nog gladnie spyt nie. Die gevoel om geensins meer om te gee vir eskom se gemors nie, was al die geld en moeite werd.

Swerwer ·

Gloe nie ‘n woord nie. Beurtkrag op kort kennisgewing ingestel is ons voorland. Hoe het Ouma altyd gesê “Sien is glo en glo is wragtag”

Di ·

Haal my hoed af vir De De Ruyter. Hy word nou gestenig vir dinge wat deur Eskom se vorige ANC Kaders veroorsaak is. NADAT hulle 27 jaar als vernietig het deur middel van korrupsie, aanstelling van onbevoegde personeel SONDER die nodige kwalifikasies en die versuim om instandhouding te doen, word HY nou persoonlik verantwoordelik gehou vir USELESS mense se onbevoegheid. Toe die klomp is beheer was het geen haan daarna gekraai oor die gemors nie, nou is dit ‘n totale ander storie. Als in die land gaan mos oor RAS. Verbaas dat Jan van Riebeeck nie ook weer blameer is nie

Jr ·

As Eskom sê dit, jy kan seker wees daar sal “loadshedding” wees want hulle sal” moet reserwes vir volgende week moet opbou. So ek sal sommer vir hulle part ” VERSKONING VIR DIE ONGERIEF VRA. WANT SAAM MET ESKOM WATSE STELSEL ONDER DRUK IS KAN ONS ‘N VERSKIL MAAK. HA HA HA

Francois ·

In Potch het ons die kennisgewing gekry wat van toepassing is op n baie groot deel van die dorp /stat – ons moet seker te dankbaar wees dat daar onderhoud (of nood-onderhoud soos gewoonlik) gedoen word…. “EMERGENCY POWER OUTAGE
The public is informed that there will be an emergency power outage on Sunday
November 14, 2021. Power will be down from 08H00 till 16H00. Eskom needs to do
emergency repairs related to some identified hot connections and severe oil leaks on
transformers. If this matter is not attended to it may result in serious damage to
equipment as well as prolonged interruptions in the near future.”

Pietertjie ·

Wat ‘n vooruitsig! Om half in vrees die volgende sarsie onderbrekings af te wag. Ek het altyd daai selfde gevoel gehad terwyl die tandarts in my mond begin rondkrap.

Hennie ·

Gebruik minder krag want ESKOM gaan jou in elk geval hard looi met tarief verhogings! Die enigste besigheid wat mense vra om minder van hul produk te gebruik… ANC sepsis!

Papsak ·

Of ons dit moet glo ne wys my n drie rand noot en ek glo dit ag asb

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.