‘Geen voorvalle’ by Ed Sheeran-konsert

Ed Sheeran op die verhoog by die FNB Stadion in Soweto. (Foto: Big Concerts via Facebook)

Nadat talle konsertgangers in Desember by die Global Citizen Festival by die FNB-stadion naby Soweto beroof is, het owerhede hul bes gedoen om die sekuriteit by dié stadion vir Saterdagaand se Ed Sheeran-konsert op te skerp – en alle aanduidings is dat die konsert ʼn dawerende sukses was.

Met ʼn uitverkoopte konsert in ʼn stadion wat meer as 90 000 mense kan huisves, kan polisiëring en verkeersbestuur ʼn uitdaging wees.

Volgens die Johannesburgse metropolisie was daar egter gisteraand geen ernstige voorvalle in of om die stadion aangemeld nie. Die JMPD het 143 metrobeamptes, 50 verkeersbeamptes, 46 voertuie, twee motorfietse en agt perde ontplooi om verkeersopeenhopings om die stadion te bestuur en te verseker dat konsertgangers veilig is.

Ed Sheeran het Saterdag, 24 Maart 2019 die eerste van vier konserte in Suid-Afrika gehou. (Foto: Instagram via @teddysphotos)

Michael Sun, Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het op Twitter gesê hy het gisteraand aan patrollies om die stadion deelgeneem en sal dit weer vanaand doen wanneer die tweede Ed Sheeran-konsert gehou word. “Ons moet verseker dat dit voortaan die standaard is vir alle groot konserte wat in Johannesburg gehou word,” het Sun gesê.

Aangesien verskeie konsertgangers tydens die Global Citizen Festival buite die stadion beroof is terwyl hulle vir taxi’s gewag het, het die organiseerders van die Ed Sheeran-konsert met Uber saamgewerk om die veiligheid van konsertgangers te verseker.

Van die veiligheidsmaatreëls wat ingestel is, is spesifieke oplaai-sones wat opgestel is waar konsertgangers vir hul Uber kan wag, met veiligheidspersoneel wat in hierdie sones ontplooi is om ʼn oog te hou. Daar is ook Uber-handelsmerkambassadeurs ontplooi wat Uber-klante help om hul Uber te vind.

Ed Sheeran op die verhoog by die FNB Stadion in Soweto. (Foto: Big Concerts via Facebook)

Bykomende selfoonseinversterkers is geïnstalleer om seker te maak daar is genoeg netwerkontvangs sodat konsertgangers die Uber-app kan gebruik om hul rygeleentheid te bestel. Uber-bestuurders is ook vooraf ingelig oor die beplande logistieke en verkeersbestuursplan om verkeervloei te vergemaklik.

Op sosiale media was talle gebruikers vol lof vir die reëlings en veiligheid by die konsert. “Die organisering was uitstekend. Het my 15-jarige dogter gevat en het heeltyd veilig gevoel. Baie verkeers[beamptes], baie polisie, baie sekuriteit wat almal hulle werk gedoen het. Welgedaan! En dankie!” het een konsertganger geskryf.

Die tweede Ed Sheeran-konsert vind vanaand weer by die FNB‑stadion plaas, waarna Sheeran nog twee konserte Woensdag en Donderdag in Kaapstad sal hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Louis ·

Dit was baie goed ge-organiseer. Net jammer die kos, (koel)drank, & snacks was skreientlik duur.

KaterinaKat ·

@Andreas – Great minds think alike:-)! Daardie video is Die mooiste musiek video Ooit Op Aarde. Niks kom naby dit nie. The way they flow like water..Beyond fantastic, that video. My jongste dogter en haar kerel gaan na vanaand se konsert. Al die pad uit Mpumalanga. Maar hulle bly oor by vriende in Pretoria. Ek is maar bekommerd, die paaie in die land is so gevaarlik.

VanAfrika ·

KaterinaKat, blykbaar kan hy nie dans nie en het die danseressie hom daardie moves gewys en toe val hy net in. Hy dans goed vir iemand wat dit nie kon doen nie.

humor ·

Geen voorvalle selfs sonder veilige maatreels behoort die normale te wees en nie n prestasie nie.

DeVill ·

Ek het gekom om dit te sê.

Dit moet nie ‘n prestasie wees om geen voorvalle te hê nie. Dit moet die minimum standaard wees.

Lizelle ·

Dit was ‘n asemrowende vertoning en ek was baie trots op die sekuriteit. Ons het nooit onveilig gevoel nie.

Hennie ·

Minder te doen met sekuriteit en meer te doen met die gehalte mense wat na die konsert gaan kyk het.

Lettie ·

@Hennie, ek wou nou net dieselfde se. Kyk na wie die gehoor is, dan is dit baie duidelik, selfde met “stampedes” by loftus met sokker, maar nooit met rugby nie.

Elsabe ·

Dit was ongelooflik, hy is puik. Veiligheid was uitstekend

Ella Jansen van Vuuren ·

Ons was by Sondag se vertoning en dit was regtig fantasties. Daar was ongelooflik baie sekuriteit, polisie en verkeersbeamtes was orals sigbaar en ook baie behulpsaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.