Geen vrede vir kinders ná egpaar se gru-moord

Danie en Magda van der Walt. (Foto: Verskaf)

Die gru-toneel waarop die familie van twee vermoorde pensioenarisse van Springs byna drie maande gelede afgekom het, spook steeds by hulle.

Heila Magdalena van der Walt (Magda) en Daniël Jacobus van der Walt (Danie) is op 12 Januarie vanjaar grusaam in die eetkamer van hul huis in Springs vermoor.

Hoewel enkele besittings vermis word, vermoed die oorledenes se familie dat die motief vir die moord nie roof was nie.

Danie van Zyl, Magda se skoonseun, het glo die betrokke middag op sy skoonouers se liggame afgekom. Hulle het albei op hul rûe met hul koppe bymekaar in ʼn groot plas bloed gelê.

“Die manier waarop die liggame daardie dag aangetref is, wil dit laat voorkom asof die toneel opgestel was,” sê Mariska van Zyl, Magda se dogter.

Magda (69) se bankkaarte het nog op die eetkamertafel gelê. ʼn Bebloede pyp, ʼn onbekende hemp en ʼn ou swaard is later in die huis aangetref. Die polisie het glo eers in die dae ná die moord beslag gelê op dié bewysstukke.

Niemand is intussen nog in hegtenis geneem in verband met die moorde nie en die Van Zyls is ontevrede met hoe die polisie die saak tot dusver hanteer het. Die polisie ontken egter dat die ondersoek sloer.

Die dag van die moord

Danie vertel hy het die oggend van die moorde met sy skoonma afgespreek om haar later daardie dag winkel toe te neem. Hy het enkele ure later by haar huis aangekom en niksvermoedend die huis ingegaan.

Dit is toe dat hy glo sy skoonma en haar man (68) se liggame op die eetkamervloer aantref.

“Ek het na buite gehardloop en my vrou gebel,” sê Danie. “Ek het vir haar gesê sy moet kom. ‘Jou ma-hulle is dood’. Ek het nie geweet hoe om dit anders te sê nie.”

Danie is toe glo weer na binne, waar hy die kluis oop en leeg aangetref het. “Magda en oom Danie se klerekaste het ook oopgestaan.”

By haar aankoms op die toneel het Mariska dadelik opgemerk dat die toneel opgestel voorgekom het. “Hoe hulle geval het, is nie hoe ons hulle gekry het nie. Dit het ook nie gelyk of daar ʼn struweling was nie,” verduidelik sy.

Volgens Mariska was daar daardie middag baie polisiebeamptes by haar ma se huis om ondersoek in te stel. ʼn Bebloede pyp is egter daardie aand, nadat die polisiebeamptes weg is, op ʼn trousseau-kis in die etenskamer aangetref.

Die Van Zyls beweer die polisie het “vergeet” om die bewysstuk saam te neem en dit is eers die volgende dag kom haal. ʼn Bebloede hemp wat vermoedelik nié aan Magda of Danie behoort nie én ʼn ou swaard van Danie is ook later op die bed in die slaapkamer aangetref.

Mariska sê hulle moes self polisiebeamptes later op hierdie bewyse wys. “Net Danie is boonop gevra om ʼn verklaring af te lê, ten spyte daarvan dat die bure opgemerk het dat ʼn verdagte man oom Danie die vorige dag na die hek geroep en daar met hom staan en gesels het.”

Mariska sê sy het aanvanklik vermoed dat haar ma en stiefpa met die pyp aangerand is, maar sou later hoor dat hulle verskeie steekwonde aan hul liggame gehad het en dat ʼn skerp voorwerp waarskynlik gebruik is om die moorde mee te pleeg.

Daar word egter in dié stadium nog op die uitslag van die nadoodse ondersoek gewag. “Volgens die polisie kan dit drie jaar neem om afgehandel te word.”

Die saak is sedert die moorde na die polisie se eenheid vir moord en roof oorgeplaas, maar die Van Zyls is nie hoopvol dat die saak opgelos gaan word nie, veral aangesien niemand nog in hegtenis geneem is nie.

“Ons weet nie meer watter kant toe nie.”

Die polisie ontken dat die ondersoek sloer en sê die ondersoekbeampte het in persoon al met die egpaar ontmoet om hul bekommernisse aan te spreek. ‘n Woordvoerder van die polisie het ook daarop gewys dat hulle toegegooi is met sake en elkeen tot die beste van hul vermoë ondersoek.

  • Die berig is aangepas nadat Maroela Media die polisie se kommentaar ontvang het. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.