Geen water toe brand op Koster uitbreek

Die winkels het Maandagoggend aan die brand geraak. (Foto: VF Plus/Facebook)

Die brandweer in Koster, Noordwes, se hande was Maandag afgekap toe daar ʼn brand by ʼn plaaslike hardewarewinkel uitgebreek het, maar daar weens ʼn kragonderbreking geen water in die tenkwaens was nie. Dele van die dorp wat wel water gehad het, se brandkrane is boonop deur vandale beskadig of die brandweer se eie pype het nie om die krane gepas nie.

Inwoners sê nou dié voorval is ʼn tasbare bewys van die gevolge wat gebrekkige dienslewering vir die dorp se inwoners inhou.

Dit het toe boere en lede van die gemeenskap gekos om in te spring en die brand in bedwang te bring, maar nie voordat drie van die winkels heeltemal in die brand verwoes is nie.

Stella Potgieter, VF Plus-raadslid in die gebied, sê ʼn sakeman het Maandagoggend sy hardewarewinkel in Cedrela oopgesluit toe hy vlamme uit die winkel sien borrel. Hy het inderhaas die elektriese verbinding ontkoppel, maar binne minute was die winkel in vlamme gehul, waarna dit na twee ander winkels versprei het.

Toe iemand die dorp se brandweer ontbied, was die brandweer se fone egter buite werking en het dit ʼn inwoner gekos om self na die brandweerstasie te gaan en só hulp te ontbied.

Die poging was egter vergeefs, want met sy aankoms moes die inwoner hoor dat die brandweerwa se tenks dolleeg is.

“Weens ʼn kragonderbreking kon water nie na die deel van die dorp gepomp word waar die brandweerstasie geleë is nie. Die deel van die dorp waar die brand is, het wel water, maar dit kon nie uit brandkrane op die sypaadjie gepomp word nie, aangesien van die brandkrane deur vandale beskadig is en die brandweer se pype nie om die ander brandkrane pas nie. Die een brandweerwa het toe maar rondgery op soek na water, terwyl lede van die gemeenskap probeer het om nóg een met emmers water vol te maak.”

Intussen het boere van die omgewing in massas met brandbestrydende toerusting opgedaag en elke beskikbare hand het probeer om die brand blus.

“Boere het hul plase net so gelos en met brandblussers opgedaag, sakemanne het hul boorgate aangebied en selfs ʼn karwag het probeer om ʼn plan te beraam sodat die passtukke om die pype nie so baie water lek nie,” het Potgieter aan Maroela Media gesê.

“Elkeen wou net help.”

Volgens Potgieter is die winkel wat afgebrand het al 70 jaar lank in die besit van een familie en dié het boere vantevore met lenings gehelp wanneer die bank hul aansoeke afgekeur het.

“Daar was ʼn innerlike behoefte by almal om te help; niemand het bevele uitgeroep nie, almal het net gedoen wat gedoen moet word.

“Daar is nog samehorigheid onder Suid-Afrikaners en dit gee my hoop vir die toekoms.”

Die brand is eindelik die middag in bedwang gebring, maar volgens Potgieter het dit die aand nog opgevlam, aangesien daar nog talle vlambare produkte was wat in die ondernemings te koop is.

“Drie winkels het geheel en al afgebrand. Daar is nie ʼn manier dat iemand die winkels kan gebruik soos dit nou is nie,” het Potgieter aan Maroela Media gesê.

“Ons vermoed dat die hele struktuur herbou moet word, maar ons wag net vir die versekering om dit te bevestig. Daar is reeds krake in die mure en die plafon het ingeval.”

Die eienaar van die winkel wat eerste gebrand het, het brandwonde aan sy hand, gesig en kop opgedoen terwyl hy die elektrisiteit wou afskakel. Geen ander beserings is aangemeld nie.

Lede van die gemeenskap het intussen ingespring en die puin begin opruim. Die oorsaak van die brand is nog nie bevestig nie, maar ʼn ondersoek is reeds van stapel gestuur om die oorsaak te bepaal.

Dit is n skande dat die inwoners van Kgetlengrivier weereens moet ly onder die wanbestuur van hierdie ANC beheerde munisipaliteit. Hierdie ramp kon voorkom geword het as die munisipaliteit bloot sy basiese verpligting nagekom het om n werkende brandweer daar te stel.

Posted by VF Plus – Derby / Koster / Swartruggens on Monday, May 9, 2022

 

‘Swak bestuur kan dodelik wees’

Die VF Plus sê dit is weens die nalatigheid van die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit dat dié ondernemings afgebrand het. Indien die gemeenskap nie ingespring het nie, kon die voorval noodlottige gevolge gehad het.

Die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit bedien Derby, Koster en Swartruggens en dienslewering hier is só vrot dat die inwoners die munisipaliteit al hof toe gesleep het hieroor. Dié dorpe sukkel al jare lank met gereelde, onbeplande kragonderbrekings wat veroorsaak dat die pompe wat water aan die dorpe moet verskaf, oppak.

Benewens die feit dat die brandweer nie water tot sy beskikking gehad het weens die kragonderbrekings nie, meen Potgieter dat die brandweer op sigself ook nie onskuldig is nie.

“Daar word nie gereelde instandhoudingswerk aan die brandkrane gedoen nie, dié dat water nie daaruit gekry kon word nie.

“Hierdie ramp kon voorkom gewees het as die munisipaliteit bloot sy basiese pligte nagekom het om ʼn werkende brandweerdiens daar te stel.”

Die VF Plus is reeds besig met ʼn geïntegreerde ontwikkelingsprogram vir die munisipaliteit en het ʼn aantal voorstelle ingedien in ʼn poging om die voortdurende krag- en wateronderbrekings te bekamp.

Volgens Potgieter maak Cogta al planne om kragopwekkers by een van die pompstasies aan te bring, wat ten minste sal verseker dat woongebiede watertoevoer het. Gereelde onderhoud en weeklikse inspeksies is volgens die VF Plus ook die antwoord wanneer dit kom by die kragonderbrekings.

“Die plaaslike regering moet nou besef daar is net een manier om hierdie probleme op te los en dit is deur hande te vat en saam te werk,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nicky

Al wat ek vir die kaders kan se sleg, sleg, sleg verby

Grens

Wys my iets wat nie ‘n gemors is, sodra hierdie mannetjies dit beheer. Geen idee hoe om enige ding staande te hou.

jlantie

Jaa vandat die ppot ñ oor gekry het wil hy tussen die teekoppies staan…..en dit is nou die bewys daarvan

Diline

RED ‘N NASIE MET HIERDIE USELESS REGERING! Als is ten gronde in hierdie land. Dink die ANC regering is besig om te prut in dieselfde pot wat hulle vir ons voorberei het

Papsak

Weer n bewys hulle kan niks regeer of in stand hou nie swak uiters swak