Geen weermaglid nog vervolg vir Collins Khosa se dood

Collins Khosa. (Foto: Facebook)

Geen weermaglid is nog vervolg in verband met die dood van Collins Khosa van Alexandra in Johannesburg aan die begin van die landwye inperking nie.

Dit blyk uit die antwoord van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, op ʼn parlementêre vraag deur die DA-LP Kobus Marais.

Khosa is op 10 April verlede jaar dood toe weermaglede, asook lede van die polisie en metropolisie, by die gesin se huis ingekom en hulle daarvan beskuldig het dat hulle die afsonderingsregulasies oortree het. Khosa is glo erg aangerand en is later die aand dood.

Die weermaglede het beweer hy het hulle geskel, maar dit is deur alle burgerlike getuies ontken. Nietemin het die weermag, in ʼn verhoor waar slegs die aangeklaagde weermaglede getuig het en geen inset van ander ooggetuies gevra, bekom of oorweeg is nie, die weermaglede onskuldig aan enige wangedrag bevind.

Khosa se dood het die kapstok geword waaraan groeiende burgerlike ontevredenheid oor die veiligheidsmagte se oordadige hardhandigheid in die toepassing van inperkingsmaatreëls gehang is.

Verskeie organisasies het sedertdien klagtes teen weermaglede ingedien, om ʼn toesmeerdery te probeer verhoed, maar die hantering van die klagtes blyk bitter stadig te vorder.

In haar antwoord aan Marais hieroor het die minister erken geen verdere ondersoek na die kwessie is sedert Junie verlede jaar deur die weermag onderneem nie.

Mapisa-Nqakula het gesê hoewel sy in Junie aangekondig het die saak is vir ondersoek terugverwys na die hoof van die weermag, genl. Solly Shoke, vir moontlike heropening van die ondersoek, is geen ondersoek toe heropen nie.

Die weermag het volgens haar ook geen planne om die ondersoek te heropen nie.

ʼn Kriminele ondersoek deur die polisie is egter afgehandel. Die dossier is by die Gautengse direkteur van openbare vervolging ingehandig, wat nou moet besluit of vervolging moet plaasvind.

Die militêre ombudsman het ook ʼn verslag oor die gebeure saamgestel. Dis al in Augustus aan Mapisa-Nqakula oorhandig en aan die nasionale vervolgingsgesag verskaf. Die weermagombudsman het bevind die weermaglede wat betrokke was by Khosa se dood het onbehoorlik en onregmatig opgetree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

Ons almal weet al dat dit hondsleg gaan in piesangland en dat die kaders volstoom voortgaan om te vernietig. Dit is egter vreemd dat, met die (amper) nuwe hoof/de en hulpbronne die NVG nog steeds uiters ondoeltreffend is en van krisis tot krisis steier. Hoe lank het me. Baloi nog nodig om van die vrottes ontslae te raak of is sy ook maar net meer bek as binnegoed?

NEO ·

Was dit nou ‘n wit man wat hom geskiet het was BLM beweging en die wêreld se media vol van dit. Ook die MRK sou lankal ‘n saak gemaak het. Hoekom is dit dan nou so stil.

JohanR ·

En geen weermaglid sal OOIT vervolg word nie. Dit is Suid Afrka hierdie met ‘n korrupte regering. In ander lande in die wereld sou die minister bedank het, maar hier is hulle net te dom om dit te doen!

Nie Verbaas ·

Nou ja, hoekom is ek nie verbaas nie. Sleg is nog n kompliment. Maar o wee as dit wit soldate was wat hom geskiet het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.