‘Geen werk, geen betaling’, hoor Nehawu

(Foto: Nehawu/Facebook)

Die vakbond Nehawu is weer kwaad vir die nasionale departement van gesondheid en die departement van staatsdiens en administrasie nadat die departemente glo hul skikkingsooreenkoms verbreek het.

Staatsamptenare wat ingestem het om terug te keer werk toe, het toe nié ʼn verdere salarisverhoging losgeslaan nie en sal ingevolge die ooreenkoms boonop vir die volgende vier maande met minder moet klaarkom aangesien die “geen werk, geen betaling”-reël toegepas sal word.

ʼn Woedende Nehawu sê nou die ink op die ooreenkoms was skaars droog toe die departemente “uit hul pad gegaan het om die skikkingsooreenkoms te verontagsaam en te minag”.

Die vakbond is woedend oor ʼn betrokke paragraaf in die ooreenkoms wat bepaal dat die werkgewer die “geen werk, geen betaling”-beginsel mag instel in gevalle waar duidelike bewyse bestaan dat ʼn lid wel gewillig aan sy onlangse staking deelgeneem het.

Luidens die ooreenkoms sal die aftrekkings ingevolge die ooreenkoms oor ʼn tydperk van vier maande verdeel word. Die formule om ʼn dag se werk te bepaal sal die jaarlikse basiese salaris, verdeel deur 365, wees en op verlore werksure gebaseer word.

ʼn Ongelukkige Nehawu sê nou dr. Joe Phaahla was sedert die aanvang van die vakbond se landwye staking “behep” met die instelling van die “geen werk, geen betaling”-beginsel. Dít in plaas daarvan om op sy primêre taak te fokus en om openbare gesondheidsorgdienste van gehalte te verseker.

“Ons doen ʼn beroep op die betrokke departemente om ons lede en werkers se salarisse aan hulle te betaal en streng te voldoen aan die skikkingsooreenkoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.