Geen werklike teken dat Russiese magte terugstaan

Oekraïne se pres. Volodymyr Zelensky Woensdag by ‘n weermagoefening. (Foto: Oekraïne dept. van verdediging/AFP)

Die VSA het berigte verwerp dat Rusland sommige van sy troepe van die grens met Oekraïne onttrek en beskuldig Moskou daarvan dat hy meer soldate ontplooi te midde van toenemende vrese dat Rusland sy buurland gaan binneval.

Rusland het volgens ʼn senior amptenaar in die Withuis sy teenwoordigheid op die grens met Oekraïne met tot soveel as 7 000 troepe uitgebrei. Die VSA het Moskou se aankondiging oor ʼn sogenaamde onttrekking as “vals” afgemaak.

“Ons kry steeds aanduidings dat hulle enige tyd ʼn vals voorwendsel kan voorhou om ʼn inval te regverdig.”

Die amptenaar, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, sê hoewel Moskou gesê het hy soek ʼn diplomatieke oplossing, dui sy optrede op iets anders.

Die VSA het Woensdag by die Noord-Atlantiese Verdragorganisasie (Navo) en Oekraïne aangesluit wat sê daar is geen teken nie dat Russiese troepe onttrek nadat die weermag se beweging in die Krim-skiereiland, wat Rusland ook beset, gerugte laat ontstaan het dat die krisis dalk deëskaleer.

Oekraïne se pres. Volodymyr Zelensky het Woensdag wat die land bestempel het as die “dag van eenheid”, gevier  en het gekyk hoe Oekraïnse soldate oefen met nuwe anti-tenk-wapens wat deur die Weste verskaf is.

“Ons is nie bang vir enigiemand, enige vyande nie. Ons sal onsself verdedig,” het Zelensky gesê.

Ten spyte van foto’s in Russiese staatsmedia wat glo wys dat Russiese magte ʼn groot militêre oefening in die Krim-skiereiland afhandel, sê Zelensky daar is geen bewyse dat die Russe terugtrek nie.

“Ons sien klein rotasies. Ek wou nie hierdie rotasies die onttrekking van Russiese magte noem nie. Ons sien geen verandering nie,” Zelensky.

Oekraïne het al herhaaldelik gesê hy wil by Navo aansluit. Dit sal die land se verdedigingskapasiteit ʼn geweldige hupstoot gee. Rusland is egter teen dié voorneme gekant en eis ʼn waarborg dat Oekraïne verbied sal word om by die organisasie aan te sluit. Indien Oekraïne ʼn lid van Navo is, sal die alliansie ook verplig wees om die land teen Rusland of enige ander vyand te verdedig.

Rusland se groot opbou van troepe, missiele en oorlogskepe naby Oekraïne word bestempel as Europa se ergste veiligheidskrisis sedert die Koue Oorlog.

Jens Stoltenberg, hoof van Navo, het vroeër met verdedigingsministers van die alliansie vergader en hy het ook berigte verwerp dat die bedreiging op Oekraïne se voorstoep nou minder is.

“Moskou het dit duidelik gemaak dat hy bereid is om die fundamentele beginsels wat dekades lank die hoeksteen van ons veiligheid was, te ondermyn – en dat hy bereid is om met mag te doen,” het Stoltenberg gesê.

“Dit spyt my om te sê dat hierdie die nuwe normaal in Europa is.”

Russiese president Wladimir Poetin Woensdag by ‘n mediakonferensie by die Kremlin. (Foto: Mikhail Klimentyev/Sputnik/ AFP)

Hy het ook benadruk dat Navo nie enige tekens van deëskalasie sien nie. “Rusland handhaaf ʼn massiewe mag wat gereed is om met groot vaardigheid van die Krim-skiereiland tot Belo-Rusland aan te val.”

Die Amerikaanse minister van verdediging, Antony Blinken, het vroeër gesê daar is “ongelukkig ʼn verskil in wat Rusland sê en wat hy doen”.

Blinken het die bedreiging van ʼn inval as “werklik” bestempel en Washington se oproep vir Rusland om te deëskaleer, herhaal. “Pres. [Wladimir] Poetin het die kapasiteit in plek gestel om op baie kort kennisgewing op te tree.

“Hy kan die sneller trek – hy kan dit vandag trek. Hy kan dit môre of volgende week trek. Die magte is daar as hy aggressie teenoor Oekraïne wil verhoog,” het die VSA se topdiplomaat gesê.

Blinken het gevra vir ʼn diplomatieke oplossing vir die krisis, maar sê ook: “Ons is voorbereid op diplomasie. Ons is voorbereid op aggressie. Ons is ieder geval voorbereid.”

Suid-Afrika, ʼn lid van die Brics-groep van lande wat Rusland insluit, het intussen nog nie veel gesê oor die gespanne situasie nie.

Die DA het vandeesweek ʼn beroep op die regering gedoen om die voortgesette Russiese aggressie teen Oekraïne te veroordeel. “Enige weiering of stilte deur die nasionale regering is goedkeuring van Rusland se optrede,” het Darren Bergman, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, gesê.

Die party het ook ʼn beroep op min. Naledi Pandor gedoen om haar by Brics teen Russiese aggressie uit te spreek.

Optrede kan ook Afrika raak

Bergman sê die huidige situasie skep die presedent dat ʼn land die grense van ander soewereine lande bepaal. Dit skep ook die presedent dat ʼn land kan kapsie maak teen die lidmaatskap van ʼn land van ʼn organisasie soos Navo, selfs wanneer die land nie self ʼn lid van daardie organisasie is nie.

“Dit kan ook groot gevolge vir Afrika-lande inhou,” waarsku Bergman.

Hy sê die geskiedenis het bewys dat Rusland sy eie interpretasie van sekere ooreenkomste sal doen en dat dit niks goed vir wêreldvrede inhou nie.

“Suid-Afrika moet versigtig deur hierdie diplomatieke water vaar en kan nie wegkruip agter die ANC se historiese blinde lojaliteit nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Anoniem ·

Die SANW kan sy 400 generaals, waarvan die Hoof van die Lugmag nie eers ‘n vliëenier is nie stuur om Putin by te staan. Dan kan die MK veterane vir korporaal Niehaus stuur as seksieleier en vir commander in chief Malema as hoof van propaganda. Hulle kan ook vir Hoed stuur as hoof van die Politburo. Ek is seker Putin sal oorstelp van vreugde wees oor die aanwinste.

Santie ·

Ons gaan hul “baie” mis. Maar ek dink ons moet ook maar ons deel doen. Goeie plan.

Sê maar net ·

Natuurlik sal die ANC hul by kommunistiese Rusland skaar! Glad nie verbaas oor hul “stilte” nie.

casper ·

Putin gaan die Ukraine vat – Net soos hy Crimea and Chechnya daarmee weg gekom het want die westerse lande is hoopeloos te bang om iets te doen behalwe baie praat !!

melaney ·

Westerse lande soebat eerder dat Putin nie moet skiet nie.

Ben ·

Chechnya? Chechnya was altyd deel van Rusland sedert die opbreek van die Sowjet Unie. Die oorloë in Chechnya het gehandel oor ‘n poging om die area onafhanklik van Rusland te verklaar en die Chechen Republiek van Ichkeria te stig, wat op die ou-end gefaal het. Die Chechen terroriste wat hierdie pogings gely het was ongelooflik wreed. In een van hulle laaste pogings om onafhanklikheid van Rusland te eis het hulle ‘n skool in Beslan beset wat uiteindelik tot die dood van 186 kinders gely het. Hulle het ook ‘n teater in Moscow beset wat tot die dood van 117 gyselaars gely het. Ek hoop nie jy dink die Weste moes iets doen om hierdie terroriste help wen nie. Die enigste ding waarmee Putin “weggekom” het in Chechnya is dat die area vandag heeltemal herbou is en weer vreedsaam is.

sopbeen ·

Ek kan nie help om te wonder hoe sou Donald Trump hierdie situasie hanteer het nie. Hy bang mos niks

Thom ·

Hy het in 1988 reeds geld van Rusland ontvang , so ek hoef nie te wonder nie .

Julius ·

Rusland is nie die aggressor nie, maar VSA. Rusland het die hef in die hand wat olie betref.

Samuel ·

Blinde lojaliteit?? Die hele ANC gebroedsel is stok blind. Hulle het ook hul wit kierie verloor.

Marthinus W ·

Snaaks dat Amerika en Navo nooit bewyse gee van Russiese troepe nie (soos satellietbeelde?), en altyd anonieme persone gebruik. Waarom onttrek Amerika nie hulle duisende troepe uit Europa nie? Gee en neem.

Kobie ·

Daars 1000de satellietbeelde en videos aanlyn wat bewyse is van grootskaalse Russiese troep opbouings teen Oekraïene se grens. Google “Rob Lee twitter” as jy sou belangstel om te sien wat op die grond aan die gang is..

Treurwilger ·

Die militêre oefeninge in die gebied is ook maande gelede reeds aangekondig.
Maar as slegs CNNLOL as nuusbron vir Westerse nuusmedia dien, is dit onbekende feite.

Marthinus W ·

Ek gebruik nie Google nie, maar Duck Duck Go. Een van Rob se beelde is Russiese troepe 90 km van Oekraine se grens af. Dis die afstand tussen Pretoria en Vereeniging. Navo het onlangs oefeninge sowat 40 km van Rusland se grens af gehou, waarin hulle oefen om kernaanvalle te doen. Die Russe het nie “wolf, wolf!” geskree nie.

Kalmkop ·

Jip, altyd anonieme bronne… En sou Rusland nie al gister ingeval het volgens Westerse media nie? VSA en NAVO verbreek ooreenkomste wat in 1997 gesluit was, maar daar is mos ‘n ander stel reëls vir hulle… Wonder hoe sal VSA reageer as Russiese troepe in Kuba, Mexiko, Brasilië of so ontplooi word? Russiese troepe is nog in Rusland, ek glo jy kan seker jou troepe in jou eie landsgrense sit waar jy wil?

annie ·

Blinken, vaal voorbok onder die ‘vreemde’ fake-newsers. Mens hoop nie een van sy voorsade is destyds deur Russe uit ‘n Nazi-strafkamp bevry nie terwyl die VSA besig was om atoombomme op Japan te toets nie. Wie was destyds die aggressor? Duitsland. Die derde groot uitwissing van wit mense van mekaar dreig weer oor grond en minerale. Wie s’n? Rusland. Wie was die enigste land wat ons in die Boereoorloë (wit op wit op, ditto) gehelp het? Rusland. Wie bemoei hul die meeste in ander lande? Die VSA, Brittanje/Europa. Soos in 1984, draai alle ‘feite’ om vir die waarheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.