Suid-Afrikaners wat normaalweg tydens Kersfees aan ʼn vet gestopte kalkoen van Woolworths smul, sal vanjaar hul jaarlikse plesier elders moet aanskaf.
Talle Woolworths-liefhebbers het kopgekrap nadat kennisgewings in winkels opgesit is oor die skynbare tekort aan kalkoene. Hierin vra die winkel om verskoning dat hulle nie in staat is om hierdie feesseisoen heel bevrore kalkoen te verskaf nie, aangesien hulle dit nie in die hande kan kry nie.
ʼn Woordvoerder van Woolworths het Donderdag aan Maroela Media gesê dat dié multinasionale kos-en-kleinhandelmaatskappy nie vanjaar bevrore kalkoene in hul Suid-Afrikaanse winkels gaan verkoop nie.
“Aangesien daar nie ʼn kalkoenbedryf in Suid-Afrika is nie, word al ons heel bevrore kalkoene vanaf betroubare verskaffers in Europa ingevoer.
“Ons kan dit egter nie vanjaar invoer nie, weens ʼn uitbreking van voëlgriep in ʼn aantal lande in Europa, waarvandaan ons voorraad ontvang,” sê die woordvoerder.
Suid-Afrikaners hoef hulle egter nie te bekommer nie, want bevrore kalkoene kan steeds by groot supermarkte soos Checkers en Shoprite aangekoop word.
Hoewel voëlgriep nie dodelik is vir mense nie, versprei dit soos ʼn veldbrand onder huishoudelike en wilde voëls wat dikwels tot grootskaalse vrektes lei.
Verskeie handelsvennote vereis eers sertifisering dat daar geen voëlgriepgevalle in die uitvoerder se land is nie, voordat ʼn verskaffer van ʼn ander land dit kan invoer.
“Ons verskaffers deel ons verbintenis tot dierewelsyn, voedselveiligheid en gehalte, daarom sal ons nooit hierdie waardes wil verontagsaam nie,” sê Woolworths se woordvoerder.
The Guardian het onlangs berig dat verskeie gevalle van voëlgriep in Europa en Asië by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangemeld is.
Noorweë het onlangs dié griep onder 7 000 voëls opgemerk, terwyl die Belgiese, Franse en Nederlandse regerings die land op ʼn lys van lande met ʼn verhoogde risiko vir voëlgriep geplaas het.
Vroeër vandeesmaand het Brittanje ʼn voëlgriepvoorkomingsone gestig wat wetlik vereis dat alle voëlbewaarders streng bio-sekerheidsmaatreëls volg, nadat ʼn trop pluimvee naby Dundee in Skotland van kant gemaak is in reaksie op ʼn voëlgriepuitbreking.
Indien voëlgriep nie in bedwang gebring word nie, kan dit ʼn ernstige gevaar vir die wêreld se voedselsekerheid inhou.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
26 Kommentare
Elk geval n amerikaanse ding.
Wie het nog geld vir daai plek PICK & PAY en Checkers se rakke ook netjies die dae en baie goedkoper.
Wie eet kalkoen vir kersfees in SA?
Ek het nie grootgeword met kalkoen vir kersfees nie, en eet dit ook nie nou nie, Die wat ek wel al geproe het maar aan die droe kant. Ek koop in elk geval niks by Woolies nie want hulle is te duur. Ek is gelukkig met n hoendertjie dankie.
Ek en my kalkoen broers en susters se dankie Woolworths. My bees, hoender en eend broers en susters se ook dankie dat daar nie ‘n hoender, in ‘n eend, in ‘n kalkoen in ‘n bees die jaar sal wees nie.