‘Gehalte-onderrig moet nou fokus in Gauteng wees’

Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR vir onderwys, tydens die bekendstelling van die provinsie se matriekuitslae. Foto: Mariska Nanni

Gautengse hoërskole troon vanjaar kop en skouers bo ander in die land uit nadat dié provinsie ’n matriekslaagsyfer van 87,9% behaal het.

Al vyftien onderwysdistrikte in die provinsie is onder die top twintig distrikte landwyd.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in Gauteng, het lof van David Makhura, premier van Gauteng, Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, en Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gekry vir die uitmuntende uitslae wat die provinsie behaal het.

Msimanga het gesê wat egter kommerwekkend bly, is dat derduisende leerlinge wat hul skoolloopbaan 12 jaar gelede begin het, nie skool voltooi het nie.

Hy meen ook dat die regering en die onderwysdepartement meer aandag aan tegniese skole moet gee aangesien daar net sowat 2 000 van hulle uit die 26 000 skole is. “Ons kan nie leiers van die industriële revolusie wees as dit die situasie bly nie. Die skole het meer ondersteuning en hulpbronne nodig. As ons in die toekoms wil belê, moet ons na die skole kyk.”

Makhura het na ’n “stelselwye verbetering” in Gauteng se matriekuitslae verwys en veral klem gelê op die groot verbetering wat in township-skole se uitslae was.

Leon Bantjes, hoof van die Hoërskool Garsfontein, saam met Solly Msimanga, Tshwane se burgemeester, en verteenwoordigers by die nuuskonferensie oor Gauteng se matriekuistslae. Foto: Mariska Nanni

Hy het dit onder meer toegeskryf aan die R45 miljard van die begroting wat die provinsie vir basiese onderwys aanwend. Meer as R1 miljard is aan vervoer vir leerlinge bestee en R2,5 miljard is gebruik om 1,4 miljoen leerlinge daagliks van ’n maaltyd te voorsien.

Sowat R160 miljoen is aangewend vir die spesiale ingrypingsprogram en vakansieskole wat vir gr. 12’s aangebied is. Ook Lesufi meen dié projek het tot die provinsie se sukses bygedra.

Makhura het ondanks die goeie uitslae, sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan leerlinge wat sleutelvakke soos rekeningkunde, wiskunde en wetenskappe neem.

Lesufi het ook klem gelê op die gaping tussen township- en ander skole se prestasies wat kleiner geword het. Waar die gaping in 2014 sowat 34% tussen geen-skoolgeld-skole en die wat wel skoolgeld gehef het, was, is dit nou 3,9%. “Dit maak nie saak of jy in ’n township of ander skool is nie. Jou kanse om te slaag, is eenvoudig net beter in Gauteng.”

Van die hoogtepunte vir die matriekklas van 2018 in Gauteng is:

  • 41 410 van die 83 415 leerlinge wat die NSS-eksamen afgelê het, het met toelating tot graadstudies geslaag;
  • 28 775 kandidate het met toelating tot diplomastudies geslaag;
  • 5 596 leerlinge wat in gr.11 gedruip het, is deurgesit en 3 937 van hulle (70,3%) het wel hul matriek in 2018 gekry;
  • Al vyftien onderwysdistrikte het ’n slaagsyfer van bo 80% behaal;
  • Tshwane-Suid is as die beste distrik met ’n slaagsyfer van 91,7% aangewys;
  • Die skole met die meeste leerlinge wat met toelating tot graadstudies geslaag het, is Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Noordheuwel; en
  • Die drie toppresteerderskole is Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Garsfontein en Afrikaanse Hoër Meisieskool.

Chris Denysschen, hoof van die Hoërskool Waterkloof, saam met Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys en Angie Motshekga, minister van onderwys. Foto: Mariska Nanni

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het matrikulante, ouers en toegewyde ouers gelukgewens met 2018 se uitslae. “Daar is wel met groot kommer kennis geneem van 2018 se amptelike slaagsyfer van 78,2%, omdat dit nie die volledige prentjie van die land se onderwystoestand skets nie,” sê sy.

“’n Verslag van die departement dui aan dat daar 1 141 731 leerders in 2007 in gr. 1 in openbare skole was en 29 592 in onafhanklike skole. Volgens die statistiek wat die minister bekendgemaak het, het ’n totaal van slegs 790 843 leerders in 2018 vir die matriekeksamen ingeskryf. Dit beteken dat meer as 30% van 2007 se groep nie eens die matriekeksamen gehaal het nie, wat nog van geslaag het.”

Bailey sê wanneer die matriekuitslae jaarliks gevier word, fokus die departement op die prestasies van enkele individue en skole. Die jongmense wat egter uit die stelsel verdwyn, word sonder vaardighede gelaat waarmee hulle ’n betekenisvolle rol in die uiters kompeterende arbeidsmark kan speel. Selfs die minister se verwysings na leerders wat bygestaan is om matriek te herhaal, stel nie gerus nie – dit is ontstellend om te dink dat jongmense só lank in die skoolstelsel was voor hulle betekenisvolle hulp ontvang het.”

Bailey sê voorts slaag- en toelatingsvereistes wat deurentyd verlaag word – soos wat pas weer die geval met toelatingsvereistes vir tersiêre studie was – skep die indruk dat selfs die groep wat slaag, toenemend minder het om aan werkgewers te bied.

Solly Msimanga, Tshwane se burgemeester, tydens die bekendstelling van Gauteng se matriekuitslae. Foto: Mariska Nanni

Volgens Bailey is oplossings onder meer te vinde in ’n groter aanbod van moedertaalonderrig, streng optrede teen ideologies gedrewe polariserende uitsprake en optrede (soos dié van Lesufi), meer doeltreffende kurrikulumopsies, tydige aflewering van handboeke, die vasvat van onderwysvakbonde wat onderrig lamlê, die skep van meer opleidingsgeleenthede vir onderwysers, asook kragdadige optrede teen ’n gebrek aan dissipline onder leerders en onderwyspersoneel.

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, meen die uitsonderlike prestasie van distrikte soos Tshwane-Suid kan toegeskryf word aan puik skole, toegewyde onderwysers, moedertaalonderrig en beheerliggame wat aanvullende aanstellings van personeel moontlik maak wat verseker dat leerders meer aandag kry as wat die geval in oorvol landelike skole is.

“Dit is egter ironies, want leerdergetalle en moedertaalonderrig is twee van die kwessies wat Lesufi gedurig in 2018 aangeval het. Hierdie hoë prestasies is dus nie aan hom te danke nie, maar ten spyte van hom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.