Geharde misdadiger swaar gestraf

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man van Port Elizabeth is op 14 aanklagte skuldig bevind en swaar gestraf nadat hy vir twee jaar ʼn skrikbewind in Port Elizabeth gevoer het.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Tulani “Homsa” Dikana (27) is skuldig bevind op drie aanklagte van moord waarvoor hy lewenslange tronkstraf opgelê is op elke klag, twee aanklagte van poging tot moord waarvoor hy tot 10 jaar tronkstraf gevonnis is, vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede waarvoor hy tot 68 jaar tronkstraf gevonnis is en vier aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie waarvoor hy tot 17 jaar tronkstraf gevonnis is.

Die vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange tronkstraf uitgedien word. Volgens Naidu het Dikana tussen 2011 en 2013 ʼn skrikbewind gevoer in die Booysens Park-gebied. Hy is in Desember 2013 in hegtenis geneem toe ʼn polisiebeampte wat saam met hom in ʼn taxi was hom herken het.

Dikana het tydens sy skrikbewind onder meer drie mense vermoor en talle rooftogte uitgevoer. Dikana is positief verbind met al die sake deur DNS, ballistiese bewyse, positiewe uitkenning en kringtelevisiebeeldmateriaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ivan ·

Wat help al die vonnise, as als op een slag uit gedien word. Na 20 jaar is hy uit op parool.
Dit beteken NIKS.

Frederik ·

Ek is nie in die regsberoep nie, maar die samelopende vonnisse maak ook nie vir my sin nie. My redenasie sal wees dat, as hy 3 moorde gepleeg het en die minimum vonnis is lewenslank vir moord, moet hy mos 3 keer lewenslank kry. Maw hy sal oor 75 jaar kan aansoek doen om parool.

Scalla ·

Hang die misdadiger, dit is die swaarse straf, kos die belastingbetaler klomp geld, nikswerd vir die samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.