Geheime stemme vir mosie teen Zuma versoek

Bantu Holomisa, leier van die UDM. Foto: http://udm.org.za

Die UDM het Maandag gesê hy het die hof genader om te versoek dat die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma volgende week met ʼn geheime stem beslis moet word.

UDM-leier Bantu Holomisa het by ʼn gesamentlike mediakonferensie oor opposisiepartye se Nasionale Dag van Aksie (NDA) gesê die hofdokumente is Maandag by die konstitusionele hof ingedien. Die party hoop om terugvoer oor die aansoek te kry voordat die mosie van wantroue op 18 April in die parlement gedebatteer sal word.

Leiers van die EFF, die DA, UDM, ACDP, IFP, Agang en die African People’s Convention het die gesamentlike mediakonferensie gehou om hul planne bekend te maak vir die NDA wat vir Woensdag 12 April beplan word.

Tydens die konferensie het die leiers gesê hulle het inligting van senior lede van die ANC ontvang dat ANC-LP’s geïntimideer word om teen die mosie van wantroue te stem. Holomisa het gesê daarom dring die party daarop aan dat die mosie met ʼn geheime stem beslis word, om LP’s te beskerm en hulle toe te laat om “met hul gewete te stem”.

Phumzille van Damme, woordvoerder van die DA, het gesê verskeie senior ANC-lede en LP’s het die DA-leier, Mmusi Maimane, genader om aan te dui dat hulle gewillig is om die opposisieparty se mosie van wantroue teen Zuma te ondersteun. Van Damme het gesê gesprekke is tans aan die gang met dié ANC-LP’s wat bereid is om die mosie te ondersteun.

“Hierdie invloed kom nie net van politieke partye af nie. Ons het Vrydag gesien hoe duisende Suid-Afrikaners aan optogte deelgeneem het om te sê hulle wil pres. Zuma nie langer as hierdie land se president hê nie. Die publiek smeek LP’s om die mosie van wantroue te ondersteun en Zuma uit sy posisie te verwyder. Indien [ANC LP’s] nie na ons as hul mede-politici wil luister nie, hoop ons hulle sal vir die publiek luister wat nie deur Zuma gelei wil word nie,” het Van Damme gesê.

‘n Optog teen pres. Jacob Zuma in Pretoria (7 April 2017). Foto: Maroela Media

Julius Malema, leier van die EFF, het bygevoeg ANC-LP’s moet nie toelaat dat hulle geïntimideer word om teen die mosie te stem nie. Hy het gesê indien ʼn stem teen Zuma daartoe sal lei dat ʼn LP afgedank word, is dit ʼn waardige prys om vir die toekoms van Suid-Afrika te betaal.

“Mense wat al die jare geveg het vir demokrasie, was bereid om die hoogste prys daarvoor te betaal – die dood. Hulle was bereid om in ballingskap te leef of gevangenisstraf uit te dien vir hul stryd. Maar nou is hier mense wat te bang is om die land te red, want hul werk gaan weggeneem word? Dit is nie reg nie,” het Malema gesê.

Hy het gesê ANC-LP’s wat sê hulle kan nie die mosie ondersteun nie omdat hulle nie saam met die opposisie kan stem nie, gryp na ʼn flou verskoning. “Hoekom dien hulle dan nie self die mosie [van wantroue] in nie? Moenie ons as ʼn verskoning gebruik nie. As die ANC ʼn mosie van wantroue teen Zuma indien, sal ons saam met die ANC stem, want dit is in die beste belang van die land.”

Malema het ook gekap na ANC-leiers wat probeer voorgee die feit dat Suid-Afrika se kredietgradering deur twee graderingsagentskappe na rommelstatus afgradeer is, is nie ʼn krisis nie. Hy het gesê die ANC probeer voorheen benadeeldes, wat nie toegang tot onderwys gehad het en nie verstaan wat rommelstatus beteken nie, mislei.

“Ons is dit verskuldig aan die persoon wat in ʼn plakkershut bly en graag in die toekoms ʼn huis wil besit, om in eenvoudige terme vir hom te verduidelik wat rommelstatus beteken en hoe dit hom gaan affekteer,” het hy gesê.

“Hierdie saak gaan nie oor politiek nie. As dit oor politiek gegaan het, sou ons wou gehad het die ANC moet Zuma hou tot in 2019, want dit sal veroorsaak dat hulle die volgende verkiesing verloor. Ons hét hulle al hieroor gewaarsku. Maar as jy lief is vir hierdie land, moet Zuma gaan. Zuma moet nóú gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ken2 ·

Op vandag se mediaverklaring deur die partye wat woensdag saamstaan was baie goeie punte gemaak waarom dit ongrondwetlik is om geheime stemme te blok, ek hoop dit word in die hof aangehoor.

AL ·

Ek hoop dat hul in die geheim kan stem.
Sal ons land se mense hierdie geweldige knou van afgradering, werloosheid en armoede kan deurstaan tot 2019?
Ons weet dat armoede en werkloosheid n plofbare situasie kan word.
Ons weet ook dat Zuma nie n duit sal omgee om verdere rasseverdeeldheid te bevorder nie of die land in vlamme opgaan nie. Sy beursie is vet gestop en so ook sy familie. Hy sal eenvoudige net die brandende skip verlaat.

Varkie ·

Um dis bietjie vanselfsprekend.. as jy teen jou eie party stem gaan hulle jou mos die trek pas gee, nie waar nie..

Marius ·

Johann die rede omdat hulle geheime stemme wil he is dan sal hulle teen Zuma stem want hulle is bang om teen hom te stem die ANC lede want dan sal hy hulle afdank.Baie beter so

Michelle ·

Ek is seker daar is selfs dié wie se lewens bedreig word.

Jordaan ·

Die speaker het mos reeds aangekondig dit sal nie geheime stemme wees nie, so hierdie klink na die oppossisie se wensdenkery

Rynhardt ·

Vanmiddag op E-Tv het hul gewys hoe Zuma se ondersteuners vir hom baklei! Hy gaan nie uitgestem word in n piesang-republiek nie.

Niel ·

ek hou van Malema se woorde: “… wat al die jare geveg het vir demokrasie… maar nou is hier mense wat bang is om die land te red, want hulle werk gaan weggeneem word?” wow, dis nou wyse woorde.

Bolander ·

Niel, jy kan nie ‘n woord glo wat uit Malema se mond kom nie!!!!!!!!!!!!!!!

Cherokee ·

Malema sê dit omdat die ANC se verlies waarskynlik EFF se wins gaan wees.

Mielie ·

Die Wat teen hom stem het mos Dan n beter kans om aan te bly as die mosie suksesvol is. Die nuwe president kan hulle weer gebruik. Hoekom bang wees. MAAR ek stem saam laat dit in die geheim gedoen word….Net nou gebeur daar iets met hulle of hulle naasbestaandes….

tom ·

Malema moet ook weet hy wat die wit mense so aanval wat gaan gebeur met die ekonomie die dag as hy sy dreigemente uit voer

Estelle Gerber ·

Ter wille van “apartheid” en “rassisme” het hulle besluit om die helfte v d stembriefies wit te maak en die ander helfte swart…hehehe….Domkop Zuma….die Rainbow Nation het betoog!!

Gert ·

Ek sal nou nie AL my geld verwed op die konstitusionele hof se objektiwiteit nie…

Conrad ·

Duisende het Vrydag vreedsaam betoog.
Maar, miljoene, die massas, staan agter Zuma. Hul sal altyd agter hom staan, vir hulle is hy die ANC. Hy is hulle koning.

Rina Kotze ·

Die grootste waarheid wat Malema al ooit gepraat het:

As jy lief is vir hierdie land, moet Zuma gaan, hy MOET NOU gaan!.

Ek kan nie meer met hom saamstem nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.