Geheime stemming: Partye reageer oor speaker se besluit

Pres. Jacob Zuma (Foto: GCIS)

Verskeie politieke partye het Maandag reageer oor Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, se besluit dat die mosie van wantroue in die parlement met ʼn geheime stemming beslis sal word.

LP’s stem Dinsdag oor die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma in die parlement.

Nonceba Mhlauli, woordvoerder van die hoofsweep van die ANC, het in ʼn verklaring gesê die ANC neem kennis van Mbete se besluit.

“Die ANC in die parlement het nog altyd volgehou dat ons enige besluit wat die speaker in dié verband neem, sal ondersteun. Ons het dit duidelik gemaak dat ons nie gekant is teen ʼn geheime of oop stemming nie.

“Ons begryp daar is werklike griewe deur ons mense en verskeie organisasies oor staatskaping en die gevolglike beweerde korrupsie in verskeie entiteite van die regering, benadruk ons dit dat indiepte-ondersoeke eers gedoen moet word deur ʼn dringende geregtelike kommissie van ondersoek.

“Die mosie deur die Demokratiese Alliansie is ʼn politieke slenter om ons regering, wat deur die publiek aangestel is, te ondermyn en om die ANC te probeer verswak. Dit het ten doel om die regering te ontsetel buite ʼn algemene verkiesing. Die mosie is dus in die belang van die DA en opposisiemagte, en nie in die belang van ons land nie.

“Die ANC sal teen hierdie mosie stem. Ons sal nie saam met die opposisie stem om ons demokraties verkose regering in duie te laat stort nie,” het Mhlauli gesê.

“Ons neem ook kennis van ʼn kennisgewing van ʼn lys waar 95 ANC-LP’s glo aandui dat hulle ten gunste van die mosie gaan stem. Die lys is niks buiten vals nuus nie.

“Ons het volle vertroue in die ANC-LP’s. Hierdie mosie, net soos die ander wat dit vooraf gegaan het, sal weer faal.”

Mmusi Maimane, leier van die DA, het intussen gesê ANC-LP’s het geen verskoning nie en moet ten gunste van die mosie stem om Zuma af te dank. Hy het die aankondiging oor die geheime stemming verwelkom.

“Alhoewel Zuma se verwydering nie al die probleme in ons land sal oplos nie, is dit die begin van ʼn nasionale herbouingsprojek wat dringend vereis word. Die DA se stem is geen geheim nie: ons sal môre stem om Jacob Zuma af te dank.”

Mbete het in haar aankondiging gesê sy het talle faktore in ag geneem toe sy haar besluit geneem het.

Die VF Plus het ook die besluit oor die geheime stemming verwelkom.

Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê Suid-Afrikaners moet egter deeglik besef dat die geheime stem nie noodwendig die einde van die huidige presidentskap beteken nie. “Hierdie besluit is ʼn aanduiding dat die ANC daarvan oortuig is dat hy beheer oor sy lede het en nie bang is vir ʼn geheime stemming nie.

“Die besluit van die speaker was rasioneel gesien in die lig van die argumente wat sy aangevoer het, en die VF Plus het nooit gedink daar kan ʼn ander besluit wees nie. Mbete het nogtans moed en durf ten toon gestel met haar besluit.

“Die VF Plus is van mening dat dit net logies is om die president met ʼn geheime stemming te probeer ontsetel aangesien hy deur ʼn geheime stemming in dié pos aangestel word.

“Ons doen opnuut ʼn beroep op die parlementslede van die ANC om die erns van die saak te besef, vir die mosie te stem en Suid-Afrika so ʼn nuwe kans te gee vir ʼn beter toekoms,” het Groenewald bygevoeg.

Die organisasie AfriSake het ook die besluit verwelkom. Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, het gesê dit is ʼn belangrike besluit vir ons jong demokrasie, waar die beginsels van ʼn oop en deursigtige demokrasie en die oppergesag van die reg vir die eerste maal in jare bo alles seëvier.

“Ons is verheug oor die speaker se besluit, sowel as die redenasie vir die besluit. Of dit tot die verwydering van Jacob Zuma as president sal lei of nie, is onbepaald, maar dit is beslis ʼn stap in die regte rigting vir die mense van Suid-Afrika,” het Greyling bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

N Lourens Reitz ·

En nou moet oud Parlimentariër Koos alias grapjas van der Merwe ook in die geheim gaan stem!

Vryheid ·

Mmmm ja…. te veel wat suig aan die anc soustrein se spene, met meer en meer korupsie, selfsug en vergrypings. Sal als in hul vermoe doen om aan te bly.

Nico ·

Daar is n klomp anc mense wat positief is en vertrou kan word maar ongelukig is daar meer wat jy nie kan vertrou nie hierdie is net n klug vir soveel n maand in my sak gaan ek nooit teen die president nie die kiesers gaan dit te laat agterkom so julle moet maar aanhou suffer vir net n kospakkie.

Penellope Jones ·

Iets voel nie reg nie.
Die ANC is ‘n party wat mens nie moet onderskat nie

Lv ·

As ons glo dat ‘n geheimestem mense sal aanspoor om volgens hulle gewete te stem is naief verby.

piper ·

dit maak nie saak hoe daar more gestem gaan word nie. dieANC gaan seerkry al word daar hoe gestem. as vir zuma gestem word gaan die ANC in 2019 verloor. as teen zuma gestem word split die ANC. IN ELK GEVAL. ek begin van zuma hou. hy het man alleen die ANC mooi opgeneuk. dis iets wat al die ander partye saam nie kon regkry nie.

John ·

Hierdie lyk na ‘n plan van aksie met ‘n giftige skerpioenstert. Mmusi is die vlieg in die muti wat die plan skipbreuk kan laat ly as hy nou so grootdoeneig maak asof hy klaar gekies is vir die troonstoel. Sy hoogdrawende prekerigheid is erg irriterend. Die pad na 2019 is nog lank… en Zuma is ‘n taai kalant.

Swartkat ·

Mens stem nie teen die een wat jou pay tjek betaal en kos op die tafel sit nie mask nie saak of dit Zuma of die Guptas is nie. ANC weet hulle gewete en die opposisie betaal nie die rekeninge nie.

dovaz ·

Dit maak nie saak watter kant die gestemmery gaan nie. Ek sien probleme vir ons mense. Ons sal dan meer op ons hoede en parraat wees.

Riaan ·

Die speaker het natuurlik so lank hieroor gedink want dit gaan vir haar net oor haarself. Sy wil guns wen by wie ookal die nuwe president gaan wees. Dit beteken sy dink zuma gaan verloor – selfs met n oop stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.