‘Geheime stemproses nodig vir stem sonder vrees’

Pres. Jacob Zuma tydens die kwartaallikse vraag-en-antwoord-sessie in die parlement (22 Junie 2017). Foto: Parlement

Die VF Plus het Vrydag gesê ʼn geheime stemproses wanneer die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma binnekort in die parlement aangehoor word, is die enigste manier hoe ANC-LP’s “met hul gewete en goeie oordeel kan stem sonder vrees vir die gevolge van hul optrede”.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, het in ʼn verklaring gesê hy het hierdie versoek aan Baleka Mbete, speaker van die parlement, gerig in antwoord op Mbete se versoek aan alle politieke partye om hul insette te lewer oor ʼn geheime stemming tydens die mosie van wantroue.

Die mosie sal op 8 Augustus in die parlement debatteer word.

Volgens Mulder het hy in sy skrywe die speaker gewys op haar eie uitsprake dat sy nie gekant is teen ʼn geheime stemming nie, maar dat sy nie by magte is om daaroor te besluit nie. Die konstitusionele hof het egter op 22 Junie bevind dat Mbete verkeerd was toe sy gesê het sy is nie by magte om te besluit oor ʼn geheime stemming nie. Die hof het beslis dat Mbete nou weer ’n besluit moet neem op grond van die uitspraak.

Mulder sê dit was nog altyd die mening van die VF Plus dat dit net logies is dat indien die president deur middel van ʼn geheime stemming verkies word, hy ook op dié manier verwyder moet kan word. Hy het Mbete daarop gewys dat indien sy weier om die mosie van wantroue in Zuma in ʼn geheime stemming te laat plaasvind, haar optrede allerweë beskou sal word as akkommoderend teenoor die president aangesien hy in die parlement op ʼn vraag van die VF Plus gesê het hy verkies ʼn ope stemming.

“ʼn Besluit teen ʼn geheime stemming sou irrasioneel wees en sal hersien moet word in die lig van die grondwethof se uitspraak oor die aangeleentheid,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Justice ·

Enige “oop” stem waar almal kan sien vir wie jy stem is `n absolute klug en mors van tyd.

Atticus ·

Enige geslote stem waar die stem keuse deur partybeleid bepaal word, is eweneens ‘n klug.

Swartkat ·

Julle mors julle asem, niemand gaan van ou stortkop ontslae raak nie.

cor ·

Die hele storie is n klug al word hy uitgestem sal hy nog bly , want die reg stelsel word geminag. Sy het mos nou al klaar gese die regters is teen die anc so jy kan sien waar gaan dit heen.

Johan. H. ·

Ek hou nie my asem op nie,,,Kan nie sien dat enige iets wat met die lot tedoen het, enigsins sal verbeter nie,,,

Anoniem ·

Die DA moet haar asb opcheck as sy die geheime stemme tel, anders gaan sy die antwoord bekook. Dis nou te sê AS sy ons verbaas en wel instem tot ‘n geheime stemming. Sy is mos een van Zuma se witbroodjies.

Dovaz ·

Goeie debat. Op ‘n stadium het zums gese dat sou hulle hom vra om af te stap sal hy. Hoeveel keer is daar gese hy moet waai? Optogte, gebede you name it en hy sit nog steeds in die stoel. Die “madam” speaker het dis lot klaar geintimmideer. Niks en niemand kan hul vertrou nie. Sal maar die uitslag in wag. He he he!

Swartkat ·

In Zimbabwe kan hulle nie Mugabe uit die kussings lig nie, hoe gaan ‘n verdeelde Suid Afrika vir stortkop vervang. Nie maklik nie !!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.