‘Geheimhouding’ oor Masemola se aanstelling pla

Pres. Cyril Ramaphosa en genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Politieke partye het dit eens dat daar meer deursigtig met genl. Sehlahle Fannie Masemola se aanstelling as nuwe nasionale polisiekommissaris omgegaan moes word.

Die feit dat die aanstellingspaneel uit twee ministers, onder wie Bheki Cele en drie direkteurs-generaal onder die voorsitterskap van ’n voormalige minister, bestaan het, wek ongelukkig die indruk dat Masemola eintlik net nóg ’n politieke aanstelling is, sê Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

“Dit is jammer dat pres. Cyril Ramaphosa nie sy woord gestand gedoen het oor die aanstelling van ’n paneel kundiges om ’n aanbeveling oor ’n kommissaris te maak soos wat hy in die parlement teenoor die VF Plus onderneem het om te doen nie.

“Die teenwoordigheid van die enigste kundige oor operasionele polisiewerk, genl. George Fivaz, is nie genoeg om die paneel ware kundigheid te bied vir die aanstelling van ’n nasionale polisiekommissaris nie.

“Lt.genl. Masemola het wel ondervinding, maar die geheimhouding rakende die paneel wek die indruk van ’n politieke aanstelling,” hou Groenewald vol.

Die opposisieparty beaam dit.

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, glo Ramaphosa het die kans gehad om vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in te boesem. Hy het volgens Whitfield egter dié kans verbeur toe hy die aanstelling in “die donkerste hoeke van die presidensie” gemaak het.

“Dit is eenvoudig absurd dat die aanstelling van ’n nasionale polisiekommissaris nie oop is vir openbare ondersoek nie, veral aangesien daar reeds ’n presedent is in die aanstelling van hoofde van byvoorbeeld hoofstuk 9-instellings.”

Groenewald wys op sy beurt daarop dat die regering se Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) vir 2030 bepaal dat ’n paneel uit onafhanklike kundiges saamgestel moet word, juis om te verhinder dat ’n politieke aanstelling gedoen word. “Hierdie geleentheid is verbrou.”

Die VF Plus wens lt.genl. Masemola nogtans sterkte toe.

“Hy het ’n groot taak op hande en sal die polisie weer as ’n eenheid moet saamsnoer nadat faksies ontstaan het weens onenigheid tussen min. Cele en die vorige kommissaris, Khehla Sitole.”

Whitfield meen Masemola se sleuteltoets gaan sy vermoë wees om die minister van polisie se “afknouery en pogings om die operasionele sake van die SAPD te mikrobestuur” in die kiem te smoor.

“Die kommissaris sal aan Suid-Afrikaners moet bewys dat hy onafhanklik is en nie net min. Cele se marionet nie. Dit sal moeilike en dapper besluite verg wat korrupsie en misdaad doeltreffend bekamp, ​​en ook Cele weerhou van sy droom om minister én kommissaris te wees.”

Die voormalige minister van veiligheid en sekuriteit, Sydney Mufamadi, was die voorsitter van die paneel wat Masemola aangestel het. Die paneel het benewens Cele ook Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, George Fivaz, voormalige polisiekommissaris, Phindile Baleni, direkteur-generaal in die presidensie, Dondo Mogajane, direkteur-generaal in die nasionale tesourie, en ambassadeur Thembi Majola, direkteur-generaal vir die Staatsveiligheidsagentskap, ingesluit.

Lees meer hier oor die land se nuwe polisiekommissaris.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Hoë profiel aanstellings is gewoonlik onderduims en het altyd ‘n politieke konnetasie.

Magda ·

Tyd sal leer, maar ja dit lyk weereens soos n ANC kader aanstelling. Maar wens hom sterkte toe en hoop ons is verkeerd. Maar rampie met sy Lee beloftes!!!!!!

Misky ·

Ons was dit te wagte. Alles wat die ANC aan vat en by betrokke raak, is vrot!!!!

casper ·

Natuurlik kan jy nie sommer enige hoofskelm aanstel nie !!

JohanEtz ·

Ek sal graag George Fivaz se kommentaar wil hoor……………..?

Blikkies ·

Behalwe vir die paar wat iets weet van Polisieëring af, wat weet die res om ‘n ingeligte besluit te kan neem, verbeel jou Angie Motsekga, met slegs ‘n sertifikaat om by ‘n kleuterskool te kan werk…Nog ‘n ANC Kader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.