Geheuestokkie met ‘sensitiewe inligting’ voor DA-kantoor gesteel

Gewapende rowers slaan toe op ’n koerierdiensvragmotor voor die DA se federale hoofkantoor in Kaapstad. (Skermgreep uit video)

Gewapende rowers het Maandag op ’n koerierdiensvragmotor voor die DA se federale hoofkantoor in die Kaap toegeslaan toe dié ’n geheuestokkie met sensitiewe inligting rakende ’n ondersoek na korrupsie moes aflaai.

Die geheuestokkie – met inligting wat die opposisieparty van die Nasionale Loterykommissie (NLK) aangevra het – is tydens die voorval gesteel.

Mat Cuthbert, DA-woordvoerder oor handel en nywerheid, sê die voorval het afgespeel soos iets uit ’n James Bond-fliek.

Die opposisieparty meen die voorval is uiters verdag aangesien die NLK aanvanklik onwillig was om die inligting aan die party te oorhandig.

Volgens Cuthbert het die DA vroeër ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, oftewel die Paia-wet, ingedien rakende ’n diensverskaffer wat deur die NLK gekontrakteer is om aanbevelings aan die kommissie te maak oor hoe om Covid-19-hulpfondse ten bedrae van R150 miljoen te versprei.

Die NLK het die diensverskaffer R460 287,50 hiervoor betaal.

Die DA se aansoek is toegestaan ondanks die NLK se teenkanting. Die kommissie het sedertdien onderneem om die aangevraagde inligting op ’n geheuestokkie by die DA se kantoor in Kaapstad te laat aflaai.

Volgens Cuthbert is dit dus uiters verdag dat die inligting wat die NLK so onwillig was om te oorhandig, nou deur gewapende verdagtes onderskep is.

“Dit blyk beslis ’n georkestreerde poging te wees om die behoorlike proses van die Paia-aansoek te omseil en die inligting oor die begunstigdes van hierdie NLK-tender van die publiek te weerhou.”

Die DA sê hy kan egter in die stadium net bespiegel oor wie agter die voorval sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

JohanR ·

Onthou die Powerball trek van 5, 6, 7, 8, 9 en Powerball van 10 soe ruk gelede. Wonder watter ANC kaders het almal hulle deel gekry? POWERBALL WINNING NUMBERS
08
05
09
07
06
+
10
DRAW DATE: 2020-12-01
POWERBALL WINNING NUMBERS
05
06
07
08
09
+
10

piet ·

Lyk uiters verdag. Sal graag wil weet wat die odds is dat dit kan gebeur.

Misky ·

Daai hengse trok en hulle vat net 4 of 5 klein boksies…… beslis verdag en slang in die gras

Frederik C ·

En die betrokke boksies was voor in die trok. Maklik om afgehaal te word. Arresteer die drywer laat hy sê wie die instruksies gegee het.

Sandra ·

Hmm die DA moet nou die inligting self gaan haal en op ‘n stokkie sit by die NLK se kantore. Hulle het dit op ‘n stokkie gesit, so hulle moet sekerlik ‘n kopie van dit iewers he. Ja die is seersekerlik beplan want hulle het nogals ‘n 2de motor gehad wat hulle bygestaan het. Baie verdag.

Lubbe ·

Hoe dom wil julle wees om so iets met ‘n courier te vervoer. En volgens die video lyk dit alles behalwe soos ‘n “james bond” movie.

annie ·

Die Mafia kan hier ‘n paar lesse kom neem… Maar dit sal kos. Dikwels selfs jou lewe.

Pieter ·

Julle DA is ook maar nie van die slimste nie julle weet mos hoe gaan dit hier in ANC land als vrot.

Jannie van Niekerk ·

My vrae is:
1. Hoe het hulle geweet van die geheuestokkie?
2. As hulle nie agter die geheustokkie aan was nie waarom is die hele trok nie gekaap nie?
3. Waarom het die “rowers” so rustig en kalm opgetree?
Beplande ding met binneinligting as jy my vra.

Boksombende ·

Standaarde data sekuriteits prosesses en tegnieke soos data enkripsie sou seker gemaak het dat die stokkies nie bruikbaar is nie. Wonder of die DA met hulle broek op hulle kniee gevang is…

Willempie ·

Hoe dom kan jy wees. In die hedendaagse omgewing met alle IT fasiliteite en beskerming, gaan jy wraggies en stuur vertroulike inligting per geheuestokkie en nog per “courier”..????… ook. Stom geslaan.

Kaal Keiser ·

Lyk of die trok bietjie vroeg was…hy moes lank staan…

Mariana ·

Ek ruik ‘n rot. Wie sou geweet het van die aflewering en wat hou die “inligting” vir die persoon/persone in. Klink na “inside job” ja.

Mariana ·

Die pakkie is darem ook maklik oorhandig en als ook maar baie “casual”. Niemand is haastig nie. Hoe sensitief is die inligting en wie sal daarby baat?

Keith ·

Ever since they stopped using the physical balls to pick the numbers, the whole lotto system is fake, false, corrupt and manipulated. They decide what numbers “win” and also “when” the jackpots get won. There are supposed to be “auditors” in that computer room when the fake “draw” takes place, but i doubt it very strongly. The thing needs to be thrown in the trashcan of history, or they need to stop the “who’s fooling who” game and go back to physical ball draws.

Willem Wikkelspies ·

Ai hoe wens ek ons het ‘n span mense gehad soos in die fliek ‘The untouchables’ wat kon gaan waar hulle wil en dié vervolg wat hulle wil .. sou DIT nou nie wonderlik gewees het om in so ‘n land te leef nie!

Francois ·

As dit op n sokkie is moet daar sekerlik a back up wees. Kry dit net weer.

Jack ·

Die anc woel nou om weg te kruip soos voor 1980. Die inligting is hopenlik nog bekombaar. In die land maak jy selfs back ups van jou toiletgewoontes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.