‘Geïsoleerde voorvalle moenie vir politieke gewin uitgebuit word’

Dié foto van die werker se bebloede liggaam wat bo-op die trekker lê is Maandag op sosiale media gedeel. Die foto is deur Maroela Media verbloem weens die grafiese aard daarvan. Foto: Facebook

Geïsoleerde voorvalle van geweld moet met die nodige erns veroordeel word, maar behoort nie buite konteks vir die bevordering van politieke agendas uitgebuit te word nie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum neem hierdie standpunt in nadat die vakbond Cosatu Dinsdag beweer het dat wit boere ʼn “rampage”-moordveldtog teen kwesbare swart plaaswerkers voer.

Dít volg nadat dit aan die lig gekom het dat ʼn werker Saterdag op ʼn plaas in die Tarlton-omgewing buite Krugersdorp doodgeskiet is terwyl hy op ʼn trekker gery het.

“Verskeie media-instellings en organisasies het onmiddellik bespiegel of verslag gelewer dat die oorledene deur ʼn wit boer vermoor is, ondanks enige feite wat dié bewering staaf. Dit blyk dat die man deur ʼn veiligheidswag geskiet is,” het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

“Die saak moet deeglik ondersoek word en die reg moet sy gang gaan. Om egter hierdie voorval vir ʼn politieke veldtog teen wit boere uit te buit, is niks anders as rassistiese aanhitsing nie,” het Roets gesê.

Maroela Media het vroeër berig die plaaswerker, Aaron Mutavhatsidi, is Saterdag doodgeskiet toe hy na bewering glo ʼn trekker gesteel het.

Konst. Lucky Matome, woordvoerder van die polisie, het ná die voorval in ʼn verklaring gesê die werker is na bewering deur ʼn veiligheidsbeampte doodgeskiet. Hy het bevestig ʼn 46-jarige man is in verband met die werker se dood in hegtenis geneem. Die verdagte, PWJ Durant, het Maandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn waar die saak tot volgende week uitgestel is. Die beskuldigde sal dan na verwagting om borgtog aansoek doen.

Trevor Roberts, ʼn plaaslike inwoner wat die oorledene se werkgewer en mense na aan die voorval ken, het ook aan Maroela Media gesê die verdagte wat in hegtenis geneem is, is ʼn reaksiebeampte van ʼn private veiligheidsmaatskappy en nie die eienaar van die plaas nie. Volgens Roberts was die eienaar van die plaas geensins op die toneel toe die skietery plaasgevind het nie. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Al ·

Wanneer ñ woord gespreek word, kan dit nie weer teruggetrek word nie en mense wat nie toegang het tot behoorlike inligting nie, sal onder daardie indruk bly.
Wat kan Afriforum doen om die persone wie se onverantwoordlike uitlatings maak te laat aankla?

Jan ·

Hoop Cosatu en minister vra die boer en almal, in die openbaar en persoonlik, verskoning vir hulle oningeligde uitsprake!!

Wie Wind saai sal 'n STORM maai. ·

En so sal God voorsien dat die Waarheid altyd seëvier. Al voel dit asof die “owerhede vd duisternis” die fondamente van ons Land S.A. omkeer met vuur en haat en bloeddors…is dit aan die einde van elke dag: “God wat regeer. ” Rig u hart en aangesig op Hom in geloof, gebed en aanbidding en u sal Sy Wonderdade aanskou. GOD regeer.

Umo ·

Sou dit nie makliker gewees het om dit dan te “verhoed” het as om te wag tot geregtigheid “eendag” seevier nie? Ongelukkig is daar in die geval baie meer kwaad gesaai as goed.

Johann Marx ·

As Cosatu van mening is dat wit boere ‘n “rampage” moordveldtog teen kwesbare swart plaaswerkers voer……….is dit nou die tyd om statistieke op die tafel te kry. Bring vir die hele Suid Afrika om te sien die voorvalle waar wit boere ‘n “rampage” moordveldtog teen kwesbare swart plaaswerkers gevoer het, met die name, plekname en beskrywing (met foto’s) van waar dit gebeur het…………dan onderneem ek om te sorg dat elke “rampage” moordveldtog waar swart kriminele boere vermoor het (swart en wit) ook by dieselfde geleentheid op die tafel geplaas word………en dan praat ons weer!!! Nooi sommer elke nasionale en internasionale media verteenwoordigers ook. Dit behoort interessante artikels en programme tot gevolg te hê.

snoefie ·

hoe kwesbaar kon die oorlede plaaswerker gewees het? hy was aggressiefnteenoor sy kollegas, wederregtelik die trekker gevat, aanhou ru toe hy gevra waa om te stop. hello? hulle kon hom nie juis n medalje gee nie.

Bekkie ·

Miskien moet berigte soos hierdie eers geplaas word wanneer die korrekte inligting beskikbaar is. Onvolledige inligting lei tot onnodige afleidings. Dit is onverantwoordelik om so iets te plaas voordat daar weet Wat gebeur het. Dit ontlok bespiegeling En aanhitsing.

pieter ·

SNOEPIE JY IS REG NIEMAND PRAAT OOR WAT DIE MISDADIGER GEDOEN HET NIE.

Jerry ·

Enige insident waarby n Afrikaner by betrokke is sal vir politieke gewin uitgebuit word, dit is tog die voorhand liggende strategie. Afri-Forum kan hulle afkeur daaraan toeskryf soveel keer as wat hulle wil en dit sal niks verander nie. Die oplossing is om Afrikaners te maan om nie met die gereg te bots nie en nie reg in eie hande te neem nie tensy jy geen keuse het en uit noodweer optree om jouself of jou gesin te beskerm. Hou ook op om te oorreageer en die Afrikaner op te sweep teen alles wat nie na Afri-Forum se sin verloop nie.

SAUDI ·

Niemand gaan hou van dit wat ek nou se nie maar ek sien nou hoekom joernaliste in ander lande afgemaai en hulle koppe afgekap word. Hulle berig valse nuus wat baie politieke onrus in ‘n land kan veroorsaak, en rassespanning kan laat oploop. Net so graag soos ek wil weet wat in die land aangaan VERTROU ek dat ons joernaliste eerstens ONPARTYDIG sal wees en tweedens FEITLIK korrek wat hier nie die geval was nie. Die skade is aangerig, julle kan 20 nuwe artikels skryf .. die SKADE is gedoen, die RASSEHAAT is aangewakker en die skuldige party is klaar onskuldig bevind.

Gert de beer ·

snaaks hoe maklik en prominent die woord ”wit boer” gebruik word maar nerens na n plaasmoord sal daar gese word dat swart mans of vrouens betrokke was nie, dan word daar mos geskryf van verdagtes…

Jacques venter ·

Snoefi
Dit klink my of jy tydens hierdie gebeurtenis daar was. Die polisie sal dit hoog op prys stel as jy jou getuienis in die hof kom lewer. Ooggetuie verslae is deurslaggewend.

Jerry ·

Gert, jy het die regte punt daar beet. Dit is diskriminasie om die velkleur te noem en dit is wat rassespanning veroorsaak. Afri-Forum moet hulle sterk daarteen uitspreek.

Jacques venter ·

Moord is moord. Dit behoort deur almal veroordeel te word. Dit word n politieke instrument aan beide kante van die politieke spektrum. Politieke groepe wat nie veel kan aanbied nie, gebruik dit om emosies op te jaag en so bietjie steun te wen. Mense lewens ter wille van politieke gewin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.