Geld, beter beleid nodig om renosters privaat te bewaar

Die renosterbewaringsprojek het die afgelope jare in ʼn habitat vir talle spesies wild ontwikkel en die plaas van 8 500 ha is die tuiste van ʼn hele gemeenskap diere én mense. (Foto: Platinum Rhino)

Minstens die helfte van Afrika se renosters word deur private of gemeenskapsbewaarders beskerm – maar nuwe navorsing waarsku dié vrywillige bewaarders het veel meer hulp nodig om die bedreigde spesie se voortbestaan te verseker.

“Ons het bevolkingsdata van die renosters in Afrika versamel om die toenemende rol van private en gemeenskapsrenosterbewaarders te beklemtoon. Hulle bewaar nou waarskynlik sowat 50% van Afrika se renosters sê dr. Hayley Clements, hoofskrywer van die navorsingsverslag. Hy is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Volhoubare Oorgange en die Universiteit van Helsinki.

Die navorsing wys die bewaring van renosters word al hoe duurder, terwyl daar beperkte opsies is vir dié bewaarders om ʼn inkomste te verdien.

Dit kos gemiddeld sowat R2,1 miljoen per jaar net om sekuriteit op private eiendom vir renosters te probeer verseker en dié bedrag bly toeneem.

“Indien daar nie ʼn doeltreffende manier vir volhoubare finansiering vir renosterbewaring materialiseer nie, sal private grondbesitters moontlik verder in renosters disinvesteer.

“Dit is ook onduidelik hoe gemeenskappe hierdie hoë beskermingskoste vir renosters sal kan dek in die afwesigheid van toenemende finansiering deur skenkers of vennote of ander inkomstestrome.

“Dit beperk dus die potensiaal om meer inklusiewe bewaringstelsels te skep en te onderhou,” maan Clements.

John Hume, eienaar van Platinum Rhino, die wêreld se grootste renosterbewaringsplaas, weet al te goed presies hoe groot die uitgawe verbonde aan die bewaring van die ikoniese spesie is.

Die 81-jarige Hume, wat al 30 jaar lank passievol by die bewaring van witrenosters betrokke is, het die afgelope week bekend gemaak dat hy die bewaringsprojek gaan laat opveil.

Tammy Hume, sakeontwikkelingsbestuurder van die projek, sê Hume het die afgelope dekades elke moontlike sent van sy eie geld in die projek gestort – maar dat dié geld nou opgedroog het.

“Wat hier gebeur, is ʼn absolute tragedie,” sê Hume.

In die afgelope ses jaar het hulle nog nie ʼn enkele voorval van stropery ondervind nie en danksy die projek is veral witrenosters van haas gewisse uitwissing gered. Sou die bewaringsprojek egter nie gered kan word nie, hang die spesies se voortbestaan waarskynlik opnuut in die weegskaal.

Hume sê die projek behels die plaas van ʼn genetiese nukleus in ʼn veilige omgewing om die bevolking aan die gang te hou. “Jy doen dit nie onbepaald nie; dit is ʼn ingryping sodat dit nie uitsterf nie.”

Sy glo egter die projek het waarskynlik die beste kans ter wêreld om die spesies te red.

“Maar dit kos miljoene rande per maand om die projek te bedryf.”

By Platinum Rhino beloop net hul sekuriteitsmaatreëls R13,9 miljoen per jaar, oftewel sowat R1,2 miljoen per maand.

“Ons het ernstige geld nodig, bewaarders en filantrope… ons het nodig dat mense verstaan dat die verlies van hierdie projek rampspoedig vir die spesie gaan wees.”

Sy sê dit is ook belangrik om te besef watter belangrike rol renosters in die natuurlike ekostelsel speel. “Renosters is ʼn sleutelspesie en daarsonder sal ons ook ʼn sleutelgedeelte van die gesondheid van die ekostelsel verloor.”

Só lyk getalle

Happy rhinos at Platinum Rhino – the world's last secure stronghold for the Southern White Rhino. Located on 8,400 ha of savannah landscape in South Africa the project breeds 200 rhinos a year and has the ability to replenish lost populations throughout Southern & Central Africa. Until now it has been privately funded, and we are looking for partners to help us financially secure the future of the project.Are you a conservation philanthropist? Do you want to make a direct impact to save the species? #SaveTheRhino #conservationsolutions #conservationfunding #philanthropist #wildlife

Posted by Platinum Rhino on Friday, February 10, 2023

Die navorsers het bevind hoewel Suid-Afrika steeds na die grootste aantal oorblywende renosters in Afrika – 81% van wit- en 33% van die swartrenosters – omsien, verminder bevolkings van die spesie wat die meeste gestroop word, die witrenoster, onvolhoubaar.

“Tot die laaste dekade is die grootste bevolkings van Suid-Afrikaanse renosters in die staatsbestuurde Krugerwildtuin gevind. Die park het egter ʼn stroperbrandpunt geword, met ʼn afname van 76% in die getal witrenosters en 68% in die getal swartrenosters die afgelope dekade.

“In dieselfde dekade het die geskatte aantal witrenosters op private grond in Suid-Afrika geleidelik toegeneem. As gevolg van hierdie uiteenlopende neigings in die renosterbevolking op staat- en private grond, het die proporsie van die land se witrenosters op private grond van 25% in 2010 tot 53% in 2021 toegeneem.

“Dit beteken dat private grondeienaars in Suid-Afrika nou gesamentlik die grootste aantal witrenosters op die vasteland onderhou. ʼn Laer, maar steeds aansienlike proporsie (ongeveer 25% oor die afgelope dekade) van Suid-Afrika se swartrenosters word op private grond bewaar.”

Van dié witrenosters is sowat 16% in die besit van Platinum Rhino.

Hume sê die renosterbewaringsprojek het die afgelope jare in ʼn habitat vir talle spesies wild ontwikkel en die plaas van 8 500 ha is die tuiste van ʼn hele gemeenskap diere én mense.

“Die projek se renosters kan die hele Afrika se bevolking van renosters vervang, waar ons jaarliks honderde renosters weens stropery verloor,” sê dr. Michelle Otto, wildsveearts by Platinum Rhino.

Beleidsverandering nodig

(Argieffoto ter illustrasie)

Bewaring – nie finansiële volhoubaarheid nie – is die primêre mandaat van nasionale parke wat dikwels nie eens hul eie bedryfskoste kan dek nie. Die staat dok hiervoor op, maar die finansiële steun word al hoe minder. Juis daarom het private eienaars ʼn al hoe groter rol om bedreigde spesies te beskerm.

Die navorsers sê beleid is dus nodig wat ʼn omgewing skep waar private of gemeenskaplike grondeienaars se aansporing om die diere te bewaar, hoër is as die koste verbonde aan die bewaring. Dit beteken spesifieke besluite sal ook rondom die handel in en jag en bestuur van renosters geneem moet word.

Een van die voorgestelde beleidsveranderings is ʼn hersiening van die verbod op die handel in renosterhoring onder die beskerming van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites) en kommer oor die intensiewe produksie van witrenosters op private grond in Suid-Afrika.

Clements sê meer gepaste maatreëls is nodig en moet die spesifieke behoeftes van bewaarders in ag neem, terwyl dit ook as aansporing sal dien vir renosterbewaring op private en gemeenskaplike grond.

Dié aansporings kan insluit gunstiger belastingvoordele vir renosterbewaarders, koolstofkrediete, finansiële aansporing, skarefinansiering of sertifiserings wat die waarde van toerisme- en jagaanbiedinge verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.